FAK vereer skool vir moedertaalmylpaal
'n Skool in Pretoria-oos het 'n toekenning vir akademiese uitnemendheid en moedertaaltrots ontvang.
Kobus Hartman, skoolhoof van Die Hoërskool Menlopark, sê akademie is ’n saak van trots en erns by die skool, asook hul strewe na goeie taalgebruik.
Hartman het gepraat by ontvangs van die FAK-toekenning vir akademiese uitnemendheid en moedertaaltrots tydens die vieringe in die derde week rondom Internasionale Moedertaaldag op 21 Februarie.
Hartman sê die skool is dankbaar om ’n toekenning vir goeie prestasie in Afrikaans te ontvang.
Dié toekenning vir akademiese uitnemendheid en moedertaaltrots is gemaak op sterkte van die feit dat die skool die meeste onderskeidings landwyd in Afrikaans Huistaal in die 2024 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen behaal het.
Die skool se matriekgroep van 322 leerders het ’n verstommende 137 onderskeidings in Afrikaans Huistaal ingeoes.
Volgens Dawid Brand, bedryfshoof: beeld en groei van die FAK, het die skool boonop algeheel die tweede meeste onderskeidings van alle skole landwyd in die NSS-eksamen behaal, naamlik 755.
“Die Hoërskool Menlopark gee jaarliks die toon aan met uitstekende matriekuitslae. Veral die skool se prestasie in Afrikaans Huistaal is merkwaardig. Die skool is duidelik daartoe verbind om die skool as ’n baken van uitnemendheid in die Suid-Afrikaanse onderwyskonteks te vestig. Hierdie eerbewys is die vrug van arbeid wat in ’n tradisie van harde werk gegrond is.”
Brand het daarop gewys moedertaalonderrig is vir die FAK ononderhandelbaar.
“Jaar ná jaar lewer moedertaalonderrig ’n merkbare bydrae tot die prestasie van Afrikaanse matrieks landwyd, en hierdie moedertaalleerders gee keer op keer die toon aan wat skitterende slaagsyfers en toelating tot B-graadstudie betref,” glo hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
