Bekende dirigent lei Moot-massakoor
Alle inwoners wat ’n positiewe boodskap benodig, word genooi na 'n massakooroptrede.
“Songs of Praise het nog altyd ’n positiewe boodskap van hoop en liefde aan gemeenskappe regoor Suid-Afrika gebring.”
So sê voormalige SAUK simfonie-orkes dirigent, Richard Cock.
“Ek het seker al iets soos 3 000 van die opvoerings rondom Suid-Afrika gedoen in stede en dorpe, groot en klein. Ek voel steeds geïnspireer deur die energie wat ek in al hierdie gemeenskappe voel en die gevoel van positiwiteit wat hulle bring ten spyte van al die probleme waarmee mense te kampe het.”
Cock sal as dirigent optree by ’n Songs of Praise-opvoering van ’n massakoor saamgestel uit lede van die Moot-gemeenskap sowel as die Afrikaans Hoër Seunskool se koor.
Vir Cock het die opvoerings ’n Christelike boodskap.
“Dit is kragtig, maar ons verwelkom enigiemand wat ’n positiewe boodskap wil hê.”
Songs of Praise is ’n Britse konsep waartydens verskillende gemeenkapskore onder leiding van ’n simfonie-orkes of ensemble bekende geestelike liedere saam met die publiek sing.
Hierdie konsep bestaan sedert 1992 in Suid Afrika.
Cock vertel: “Toe ek in 1992 besluit het om nie meer ’n kerkorrelis te wees nie, het ek besef dat ek geroepe is om in die kerkmusiekveld steeds aktief te wees, maar in die groter Suid-Afrikaanse konteks. Sedertdien het ons deur middel van Songs of Praise daarin geslaag om ’n belangrike boodskap aan duisende mense deur die loop van 32 jaar te bring.”
Hy benadruk dat elke opvoering steeds vir hom groot plesier bring: “Nie net omdat hierdie boodskap steeds relevant is nie, maar omdat Suid-Afrika die boodskap van vrede nou meer as ooit benodig”.
In Songs of Praise sing kore saam met die gehoor verskillende style van musiek in verskillende tale. Hulle vertolk lofprysing en aanbidding, meditasie en gebed, Afrika- en alternatiewe musiek, feesviering en Koinonia in Afrikaans, Engels, Afrika-tale en sommige ander tale.

Vir Cock is deel van die nalatenskap van hierdie geleenthede die feit dat dikwels bly die groepe wat vir die opvoering saamgestel word, bymekaar.
“Dit beteken dat kore of instrumentele groepe soms ’n meer formele deel van die gemeenskap word wat dan by ander geleenthede kan optree en in baie gevalle word die Songs of Praise ’n herhalingsgeleentheid in daardie gemeenskap.”
Gehoordeelname sal tesame met die kore plaasvind.
Soliste wat gaan optree is die sopraan Marietha van der Walt en die tenore Alex Duffey, Pierre van der Merwe en Gerhard Olivier.


Cock sê dit is die eerste keer dat hy by die NG Kerk Queenswood optree.
“Die koor is goed voorberei, daar is ’n interessante groep instrumentaliste en soos iemand na die oefening vir my gesê het, dit gaan nie net oor die musiek wat ons uitvoer nie, maar dit stel ’n nuwe gees in ons vry.”
Die opvoering vind plaas op Sondag, 16 Maart om 15:00 by die NG Gemeente Queenswood.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.



