Metro versoek om R57m huurskuld aan te spreek
’n Verslag oor miljoene rande se huurskuld het erge kritiek van opposisiepartye ontlok wat voel die metro doen nie genoeg om wanbetalers aanspreeklik te hou nie.

Kommersiële en residensiële huurders skuld die Tshwane metro meer as R57-miljoen weens die versuim om hul huurbetalings te vereffen.
Dit het onlangs aan die lig gekom in ’n verslag aan die Korporatiewe en Gedeelde Diens Oorsigkomitee oor die verhuring van Tshwane-eiendomme.
Dit het sterk kritiek van opposisiepartye ontlok.
VF Plus-raadslid Mari Joubert sê dit is onaanvaarbaar dat diegene wat kommersiële of residensiële eiendomme van Tshwane huur, miljoene skuld.
“Kommersiële huurders, insluitend sportklubs skuld die metro byna R2.4-miljoen in uitstaande huur, terwyl residensiële huurders R55-miljoen agterstallig is,” sê Joubert.
Joubert sê huurders skuld die metro ’n allemintige R57.5-miljoen vir die eerste kwartaal van die 2024/2025 finansiële jaar.
Sy sê die munisipaliteit volg duidelik nie die stappe om hierdie huurders aanspreeklik te hou nie.
“Slegs 52% van die fooie is ingesamel,” sê sy.
Joubert benadruk dat indien die gepaste stappe nie dadelik geneem word nie, sal die skuld heel moontlik afgeskryf moet word.
“Dit is boonop ook onaanvaarbaar dat die agterstallige huurders steeds die betrokke persele beset.”
Sy voeg by dat die VF Plus eis dat aksie geneem word teen die huurders en die amptenare wat nie hul werk behoorlik doen nie.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê die stad neem ’n omvattende benadering om huurskuld te verhaal, wat beide billikheid en doeltreffendheid verseker.
Mashigo sê die stad sal nie huurkontrakte met wanbetalers onderhandel nie, maar sal voortgaan met die handhawing van kontrakte, kredietbeheer en skuldinvorderings-aktiwiteite, insluitend beëindiging van huurkontrakte en uitsetting van wanbetalers.
“Die stad se doeltreffende prosesse is ontwerp om tydige oplossings teweeg te bring. Direkte kommunikasie word begin met die huurders deur finale eise op rekeninge sonder betaling uit te reik 14 dae nadat die faktuur uitgereik is.”
“Dit is in ooreenstemming met die stad se kredietbeheer en skuldinvorderingsbeleid,” sê Mashigo.
Hy sê as daar binne 30 dae geen reaksie ontvang is nie, reik die stad ’n tweede finale kennisgewing uit aan die huurder om die agterstallige bedrag te bespreek, betalingsopsies te verken en ’n betalingsplan nie langer as 24 maande nie te onderhandel.
Mashigo verduidelik dat die verhuring van eiendom wat aan die stad behoort, word beheer deur die Munisipale Finansiële Bestuurswet, bate-oordrag regulasies en die Tshwane Grondbestuurbeleid en dat dit doeltreffend toegepas word.
“Die stad se invorderingstrategie is effektief deur met debiteure te kommunikeer deur verskeie kanale soos e-pos, SMS, telefoonoproepe en uitreikprogramme om reaksiekoerse en nakoming van betaling te verbeter.”
Mashigo sê na 90 dae word onopgeloste skuld tipies aan skuldinvorderings-agentskappe oorhandig.
“Die agentskappe spesialiseer daarin om skuld te verhaal en sal namens ons voortgaan met die invorderingsproses.”
Hy sê Tshwane beveel huurders wat sukkel om hul huur te betaal aan om ’n betalingsreëling met die metro te onderhandel.
Hy voeg by dat die stad sy behoeftes aan inkomste asook dié van die huurder binne die grense van die huurkontrak sal balanseer.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.