News

Mediese gemeenskap groet baanbreker

Professor Leonora Dreyer, 'n baanbreker in anatomiese patologie en mentor aan die Universiteit van Pretoria, is op 10 Mei in die ouderdom van 80 oorlede.

Die mediese gemeenskap het afskeid geneem van ’n baanbreker en mentor, professor Leonora Dreyer, wat op 10 Mei in die ouderdom van 80 jaar oorlede is.

Haar herdenkingsdiens is op 17 Mei in die Groenkloof-aftreeoord in George gehou.

Dreyer het haar mediese graad aan die Universiteit van Pretoria (UP) in 1969 behaal, gevolg deur ’n MMed in 1974 en ’n DMed in 1986.

Sy het haar loopbaan as senior patoloog by die Instituut vir Patologie in Pretoria begin en is in 1980 as hoofpatoloog by die Universiteit van Medunsa aangestel.

In 1981 het sy by Tukkies aangesluit, waar sy in 1985 tot professor bevorder is.

Professor Ryan Blumenthal van die Departement Patologie aan Tukkies onthou haar as ’n uitsonderlike mentor in anatomiese patologie.

“Haar kundigheid en passie vir die veld was diep inspirerend. Sy was altyd warm en goedhartig, en het ’n koesterende omgewing geskep wat ons almal gehelp het om persoonlik en akademies te groei,” sê Blumenthal.

Dr. Tomas Slavik, buitengewone lektor in Anatomiese Patologie aan Tukkies, sê: “Ons is almal diep bedroef oor haar onlangse heengaan en sal haar altyd met die grootste respek onthou. Sy het haar lewe gewy aan die Departement Anatomiese Patologie aan die Universiteit van Pretoria, waar sy toesig gehou het oor die opleiding van dosyne patoloë en tienduisende mediese studente.”

Dreyer se nalatenskap leef, volgens hom, voort in die talle professionele organisasies wat sy gelei het, die standaarde wat sy gestel het, en die deernis waarmee sy haar beroep beoefen het.

“Sy was nie net ’n uitstaande anatomiese patoloog nie, maar ook ’n merkwaardige mens. Haar bydrae tot die mediese wetenskappe en haar invloed op kollegas en studente sal bly voortleef.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button