News

Kilnerpark-inwoners bou heining teen misdaad ten einde raad

Die gemeenskap is moedeloos oor die toenemende misdaad, gebroke straatligte en geen reaksie van die metro nie. Hulle wil op eie onkoste 'n pallisade-heining oprig, maar misdadigers vind steeds maniere om toegang te kry.

Inwoners van Kilnerpark, veral rondom die Stormvoël-tolhek, is moedeloos oor die toenemende misdaad en die gebrek aan doeltreffende reaksie van die metro en owerhede.

Straatligte wat nie werk nie, stukkende heinings en leë beloftes van die metro het die gemeenskap in ’n toestand van wanhoop gedompel.

“Ek sien daagliks hoe mense met geen edele agendas oor die stukkende heinings klouter om toegang tot die buurt te kry om te roof en te plunder,” het ’n inwoner aan Rekord vertel.

Die inwoner, wat verkies het om anoniem te bly, probeer al 13 jaar lank om die metro te oorreed om die straatligte in die omgewing reg te maak, maar haar pogings het tot dusver geen volhoubare vrugte afgewerp nie.

In ’n poging om hul eie veiligheid te verseker, het inwoners R18 000 bymekaar gemaak om ’n 3.2m-pallisadeheining op eie koste te bou om misdadigers, wat toegang tot die buurt vanaf die N1-hoofweg by Izaakstraat se straateinde te kry, uit te hou.

Inwoners is gegrief oor sonkrag-straatligte wat onlangs rondom en op Hardy Muller-sirkel geïnstalleer is maar steeds nie werk nie.

Talle sulke toegangstrate teenaan die hoofweg is reeds op inwoners se koste met lemmetjiesdraad of pallisadeheinings afgesper.

“Dit maak nie saak watter maatreëls jy tref nie, die misdadigers vind ’n weg daarrondom,” meen een van die inwoners.

“Ek het ’n megafoon vir my alarm aan die straatkant in werking gestel, maar steeds verdwyn daar items uit my werf. Loeiende alarms sit die misdadigers nie eers meer af nie.”

Volgens inwoners is daar wel kontrakteurs van die metro in die omgewing besig, maar daar word steeds nie gloeilampe ingeskroef of straatligte herstel nie.

In een blok is daar slegs drie straatligte wat werk al is dit telkens aangemeld.

Inwoners is ook gegrief oor sonkrag-straatligte wat onlangs in die area, asook op die Hardy Muller-sirkel, deur die metro geïnstalleer is maar steeds nie werk nie.

“Daar is steeds absoluut niks aan die nuwe ligte gedoen sodat dit kan werk nie,’ het ’n inwoner aan Rekord gesê tydens ’n besoek aan die buurt duskant Lynettestraat en talle verwysingsnommers gewys van inwoners wat hieroor kla en die foute aanmeld.

Die gebrek aan aksie en terugvoering van die metro, bring ook verkeersveiligheid in die gedeelte van die buurt in die gedrang.

’n Ernstige ongeluk het op 20 Mei plaasgevind in die omgewing naby aan die tolhek wat deur minibustaxi’s en ander voertuie as kortpad gebruik word.

Inwoners is bekommerd oor die veiligheid van kinders wat die strate gebruik, veral die strate naby aan die kleuterskool en ouetehuis.

Een van die aanmeldings by die metro waarop weinig ag geslaan is, is ’n versoek en petisie om spoedhobbels en sirkels in van die strate in die omgewing aan te bring vir verkeersvloei te kalmeer.

Die versoeke is reeds in Junie 2023 gerig en deur die ingenieurskonsultant, Nomsa Sibanyoni, by die metro bevestig as goedgekeur.

Sy het in ’n e-pos aangedui dat die versoek vir verkeersvloeikalmering langs 10de Laan tussen Ben Swart en Fred Nicholsonstrate ondersoek is en ondersteun word. “Hierdie versoek sal op die prioriteitslys vir verkeersvloeikalmering geregistreer word,” lui die e-pos.

: Strate soos Anna Wilsonstraat in Kilnerpark word tot inwoners se frustrasie as kortpaaie gebruik deur minibustaxi’s.

Wanneer inwoners hierna verneem, trek metro amptenare net hul skouers op of beantwoord nie e-posse nie.

Raadslede Mari Joubert en Roché Gerber het al verskeie kere die metro genader om juis hierdie goedgekeurde besluit uit te voer om spoedhobbels en sirkels in die omgewing aan te bring, maar geen aandag is aan hul versoeke gegee nie.

“Ek voel werklik sterk dat ons dit verder moet dryf,” het Joubert gesê. “Ek sal verdere druk plaas.”

Inwoners dui aan hulle weet nie meer waarheen om te gaan om hul frustrasies aangespreek te kry nie.

“Mens doen nie die moeite nie, want jy frustreer jouself tog net,” sê ’n inwoner.

Kommentaar is van die metro gevra maar geen is teen publikasie ontvang nie.

Bakwena is versoek om uitsluitsel te gee oor wie verantwoordelik is vir heinings tussen padreserwes en buurte. maar geen antwoorde is teen publikasie ontvang nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button