Filmmaker bring geskiedenis en emosie ook na verhoog
Sallas de Jager, bekroonde filmmaker en stigterslid van Klopjag se werk verweef geskiedenis, emosie en kultuurerfenis met musiek en digkuns. Met projekte soos Merkers en Verraaiers, skep hy kuns wat hart en gees raak.
Wanneer kultuurliefhebbers en fliekvlooie die Afrikaanse film- en teaterlandskap van die afgelope dekade beskou, is daar min rolspelers se naam wat met soveel volhoubare impak en kreatiewe integriteit opduik as dié van bekroonde filmmaker Sallas de Jager.
Met ’n loopbaan wat hom van rockmusiek en teater tot bekroonde rolprentvervaardiging geneem het, is De Jager die toonbeeld van ’n storieverteller wat deurentyd sy gemeenskap, geskiedenis en menswees in die kollig plaas.
De Jager het grootgeword op Bronkhorstspruit en reeds op ’n jong ouderdom kennis gemaak met stories se krag om die wêreld te verander.
In ’n era en dorp waar daar volgens hom “nie veel om te doen was nie,” het hy en sy maats hulself vermaak deur hul verbeelding te gebruik.

Hierdie vaardigheid sou later die basis van sy loopbaan vorm.
Hoewel hy aanvanklik regte studeer het, was dit die wêreld van musiek en visuele storievertelling wat sy pad gevorm het.
Hy is een van die stigterslede van die Afrikaanse musiekgroep Klopjag. Dit is juis in die musiekbedryf waar sy liefde vir visuele kuns begin ontwikkel het.
Die produksie van musiekvideo’s het organies oorgegaan in kortfilms en later vollengte rolprente: ’n vloeiende oorgang van klank na beeld, van liriek na draaiboek.
Soos hy dit self stel: “Meeste van my liedjies het reeds stories gehad. Die sprong na film was eintlik maklik.”
De Jager se werk is deurgaans gewortel in eerlikheid en kulturele bewustheid.
As medeskrywer en vervaardiger van die film Roepman (2010) het hy sy eerste groot treffer beleef, gevolg deur Verraaiers en Stuur groete aan Mannetjies Roux.
Met Musiek vir die Agtergrond het hy in 2013 sy regisseursdebuut gemaak.
Hierdie film sou later aan hom die titel van “Beste Afrika-regisseur” besorg by ’n internasionale filmfees.
Sulke wye erkenning is geen verrassing nie: De Jager se films raak aan universele temas soos verlies, identiteit, en geloof. Hy spreek hierdie kwessies aan vanuit ’n unieke Suid-Afrikaanse konteks.

Wat sy werk onderskei, is sy vermoë om emosionele waarhede vas te vang.
In Verraaiers, wat weer in die kollig geplaas word met ’n spesiale besprekingsaand op 12 Junie by die Voortrekkermonument, fokus hy nie bloot op historiese feite van die Anglo-Boereoorlog nie.
Hy delf eerder in die morele onsekerhede en persoonlike stryd van die individue van hierdie era.
“’n Rolprent is nie ’n geskiedenishandboek nie,” sê hy, “maar dit het die verantwoordelikheid om die emosionele waarheid van ’n bepaalde tydvak vas te vang.”
Hy wil hierdie verantwoordelikheid met integriteit hanteer. Juis daarom is die tema van die bespreking gegrond op ’n dieper tema en meer as bloot ’n filmbespreking.
Die gesprek rondom Verraaiers vorm deel van ’n groter poging om geskiedenis en kuns met mekaar te laat praat.

Verraaiers fokus op ’n fiktiewe verhaal tydens die Anglo-Boereoorlog, maar is gewortel in deeglike navorsing.
“Ons stories is die goue draad wat ons geskiedenis en ons toekoms verbind. Dit is tyd dat ons hierdie verhale met eerlikheid en kulturele selfvertroue vertel,” sê De Jager.
Hierdie samevloeiing van kultuur en herinneringe is ook sentraal tot De Jager se teaterproduksie, Merkers.
Dié opvoering, met musiek van Koos du Plessis en die poësie van Ingrid Jonker, het ’n span jong, talentvolle kunstenaars byeengebring op 4 Junie in die Centurion-teater: van pianis Rejeanne Kruger tot vioolspeler Charmilé Strauss en saksofoonspeler Xander Koekemoer.
Die produksie het die gehoor diep geraak met ’n kombinasie van digkuns, musiek en toneelspel.
“Waarvan Merkers getuig, is dat daar dinge in jou lewe gebeur wat jou in staat te stel om uiteindelik ’n ewewig te bereik. Daarom moet jy sekere mense ontmoet en sekere oorwinnings behaal en teleurstellings verwerk.”
Volgens De Jager is Merkers nie net ’n opvoering nie, maar ’n teaterreis om mense weer tot nadenke te stem.
“Ons wou ’n ervaring skep wat nie net sag en goed op die oor val nie, maar regtig die hart aanraak,” sê hy.
Die opvoering is ook vir hom ’n manier om as regisseur te herbesin oor die liedere, stories en mense wat hom gevorm het.
Deur die gebruik van jong akteurs en musikante wat emosie oortuigend kan dra, probeer hy ’n balans vind tussen ervaring en jeug.
Merkers dien ook as ’n voertuig om liedjies uit die FAK se sangbundel Volume 2 bekend te stel, asook om belangstelling aan te wakker vir die beplande Volume 3, wat in 2029 sal verskyn.
De Jager voorsien dat hierdie opvoering ’n gaping in die Afrikaanse teatermark kan vul, veral vir diegene wat ’n behoefte het aan ’n produk wat beide nostalgies en vars is, tradisioneel en kontemporêr.
De Jager se produksiehuis, Bosbok 6 Films, so genoem na aanleiding van sy ouerhuis se straatadres in Bronkhorstspruit, staan as bewys van sy verbintenis tot eerlike, eg Suid-Afrikaanse stories.
Die feit dat hy vroeër saam met sy pa aan hierdie projekte kon werk, beskou hy as ’n voorreg.
Van Roepman tot Dominee Tienie: Elke film was vir hom deel van ’n groter vormingsreis.
“Hierdie reis het begin rondom kombuistafels tussen familielede wat stories vertel het,” sê De Jager. “Jy kan bykans geen beter geboorteplek vir stories kry nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.
