News

Pretoria se skoolsterre skitter saam op TV

Die ATKV TV-reeks, Gekies vir die Kollig, keer terug vir ’n vyfde seisoen. Drie leerlinge van Pretoria is onder die agt finaliste wat hul talent onder mentorskappe slyp. Nuwe beoordelaars en aanbieder Solomon Cupido sorg vir vars perspektiewe en ondersteuning agter die skerms.

Die ATKV se gewilde realiteitsreeks, Gekies vir die Kollig, maak vanjaar sy triomfantlike terugkeer na TV-skerms vir ’n vyfde seisoen.

Onder die agt uitgesoekte finaliste is drie besonderse leerlinge van Pretoria wat onder die kollig inskuif:
– Ethan Bester van Hoërskool Waterkloof uit die produksie Wondermooi, en
– Moya Erasmus en Zanje Bodenstein van Hoërskool Die Wilgers, onderskeidelik uit die produksies Die somtotaal van sewentien en Skooldasse breek nie.

Ethan Bester van Hoërskool Waterkloof

Hierdie jong kunstenaars het nie net hul skole se name hoog gehou in hierdie landswye ATKV-Digitoneelkompetisie nie, maar ook gewys dat Pretoria steeds ’n mekka is vir uitsonderlike teatervernuf onder veral jong toneelspelers.

Dié top-agt finaliste is gekies uit honderde inskrywings van regoor die land, en sal in Julie na die stel van Gekies vir die Kollig genooi word.

Daar sal hulle hul spel slyp onder die leiding van vier invloedryke mentors: Jacques Bessenger, Marlo Minnaar, Lindsey Abrahams en Hannah Borthwick, wat bekend is vir hul insig, ervaring en aanvoeling vir talent.

Volgens projekorganiseerder JJ van Niekerk gaan dié mentors hulle nie net tegniek aanleer nie.

“Die mentors gaan ook help om die deelnemers se unieke stemme en stories ten volle na vore te bring.”

’n Splinternuwe beoordelaarspaneel, sonder enige vorige blootstelling aan die deelnemers se werk, gaan elke produksie met vars oë en oop gemoed beoordeel.

Die geliefde aanbieder Solomon Cupido keer terug met sy bekende geesdrif en warmte. Hy sal nie net die kykers deur die episodes begelei nie, maar ook agter die skerms met waardevolle raad en ondersteuning vir die deelnemers sorg.

Volgens Van Niekerk het die agt finaliste “’n swaartekrag van talent wat nie geïgnoreer kon word nie”.

Die ander finaliste van ATKV-DigiToneel 2025 sluit in: Eduard de Villiers, Janru Steenkamp, Keagan Cooper, Line Allen en Nina Strydom.

Gekies vir die Kollig, word vanaf Oktober op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button