News

Veelsydige sanger stel eersdaags album en geestelike lied vry

Ruan Josh se nuwe album wat vandeesmaand bekend gestel sal word, bied ’n versameling van sy gunstelingliedjies wat ook deur ander kunstenaars opgeneem is. Hy het ook ’n nuwe geestelike lied saam met sy ma, Juanita du Plessis, opgeneem wat in Junie bekend gestel sal word.

Ruan Josh is ’n sanger en liedjieskrywer maar bo alles, ’n mens wat opreg probeer om sinvol te leef.

“Ek is maar nog altyd so. Ek hou nie daarvan om te lank by een ding vas te steek nie,” vertel die vriendelike Josh met ’n glimlag wat jy kan hóór in sy melodieuse stem. “Ek wil nog ’n lang lys goed doen voor ek my kop neerlê.”

Hy is ’n veelsydige kunstenaar met ’n loopbaan wat reeds meer as 15 jaar strek.

Sy verhaal as kunstenaar begin nie in die glansligte van die stad nie, maar in Namibië tussen uitgestrekte horisonne, droë vlaktes en die plaaslewe.

“Die plaaslewe het my gevorm. Dit het beslis my musiek beïnvloed,” sê hy sonder aarseling.

Hier het hy countrymusiek ontdek, en ook geleer dat ’n mens se oorsprong en waar jy vandaan kom jou krag gee wat jy op prys moet stel.

Hy het in sy tienerjare reeds erkenning gekry toe hy die ATKV Tienertoneelprys vir Beste Byspeler gewen het in 2008, as deel van Hoërskool Die Wilgers se verhoogensemble.

Dié vroeë ervaring was die wegspringblok vir sy loopbaan as akteur en aanbieder sowel as sanger en liedjieskrywer.

In 2017 maak hy sy amptelike buiging in die musiekbedryf met die album Eggo, wat goue status behaal het.

Daarna het hy saam met sy familie gewerk aan albums soos Kaalvoetkinners (2017) en Sing Country (2021).

Sy musiek is veelsydig en wissel tussen country, kommersieel en gospel.

“As ons ’n album saamstel, is dit vir my belangrik dat daar verskeidenheid is. Dis iets wat ek by my ma geleer het,” sê hy. “In haar vroeëre era as sanger was albums nog groot. Dis hoe jy regtig ’n kunstenaar leer ken.”

Sy jongste album, Wysers (2024), getuig hiervan: Dis ’n samestelling van liedjies vol stories en lewenslesse.

“Ek dink die tyd van albums gaan terugkom. Dis ’n manier om iemand se lewensverhaal te hoor. Elke liedjie op my albums is gegrond op iets wat ek self deurgegaan het.”

Tydens die uitdagende tye van die Covid-19-pandemie het sy enkelsnit “Provider” (2020) die land se harte verower. Die video daarvan is al byna twee miljoen keer op YouTube gedeel.

Ruan Josh is nie net ’n sanger nie, maar ’n storieverteller, ’n dromer, en ’n man wat glo in die krag van elke dag se genade soos wat hy ook gesing het by die onlangse gospels-skouspel, Passievol.

In 2021 het hy saam met sy suster, Franja du Plessis, die diep emosionele “Verlore” vrygestel – ’n liedjie wat hy self geskryf het, en wat hoop en heling bring.

“Ek wil hê mense moet saam met my my lewe en gevoelens kan deel. Vir my is om te deel die kuns van die lewe,” sê hy.

Sy geloof is die goue draad wat deur sy lewe en sy kunstenaarskap loop.

“Ek wil die Here trots maak. Dis vir my belangrik dat ek nie my lig onder ’n emmer steek nie,” sê hy. “Of dit nou gospel of country of kommersieel is, ek is hier om my bydrae te maak tot die Koninkryk en my beste te gee.”

Tussen sy werk op die verhoog soos onlangs in die opvoering, Passievol, en in die ateljee, bly Josh nog altyd verbind aan die plaaslewe.

“Dis nie net ’n agtergrond nie. Dis ’n deel van my wese. My verstek-opsie oftewel default-opsie in my kop.”

Hy het ook al as aanbieder gewerk – veral op die SABC 2-program Klein Begin (2018), waar sy liefde vir mense en stories duidelik was.

Tussendeur was hy betrokke by produksies soos Krone (2018) en Afrikaans is Groot (2013–2015), wat sy produksievernuf ten toon gestel het.

“Ek geniet dit om iets van alles te doen,” sê hy. “Ek is lief om dek-liedjies (cover songs) te sing, nuwe projekte aan te pak en liedjies te skryf.”

Vanjaar was reeds ’n besige jaar vir Josh. Vroeër in die jaar het hy saam met musiekregisseur Stass ’n akoestiese album in uitgebreide speelformaat opgeneem met agt liedjies wat oorspronklik deur ander kunstenaars uitgevoer is. Die album verskyn in Junie.

Vandeesmaand op 13 Junie sien ’n geestelike liedjie, Even if, die lig wat hy saam met sy ma, Juanita du Plessis, opgeneem het.

“Dis vir ons as familie ’n baie spesiale lied veral ná ’n rowwe paar jaar en die laaste agt maande vol beproewinge,” vertel hy.

Du Plessis se broer Pieter Naudé, ook ’n sanger, is laat in April vanjaar oorlede aan breinkanker. Hy was ’n geliefde sanger met ’n loopbaan wat oor die 30 jaar gestrek het.

Josh werk ook tans aan nuwe kommersiële liedjies wat later vanjaar bekend gestel gaan word, én ’n countrymusiek-familiealbum saam met sy ma en suster wat vroeg in 2026 die lig sal sien.

“Ek is verskriklik opgewonde daaroor. Dit is lekker om saam met mense wat jy liefhet, iets blywends te skep.”

Hy is eerlik oor wie hy is, waar hy vandaan kom, en wat hy wil hê.

“Ek glo jy moet iets agterlaat,” sê hy. “Eendag as ek sewentig of tagtig is, wil ek kan terugkyk en sien dat my musiek ’n impak gemaak het: dat mense hulle daarin kon sien en mee vereenselwig.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button