Hartlike kuiertjie bring vreugde aan Groenkloof-bejaardes
Die inwoners van 'n kompleks vir bejaardes in Groenkloof en die verkoopspan van Rekord het onlangs in 'n uitreik-aksie gemoedelik saamgekuier.

Die atmosfeer was warm en gemoedelik toe die verkoopspan van Rekord onlangs die Blommefonds Wonings vir Bejaardes: Pretoria se tuiste vir bejaardes in Groenkloof besoek het.
Hierdie besoek, gereël deur Nerraine von Wielligh, leefstyl- en fondsinsamelingskoördineerder van die Blommefonds, en Sajedah Ameer, Rekord se verkoopsbestuurder, was ’n welkome afwisseling vir die sowat 40 bewoners van die kompleks vir bejaardes.
Die Blommefonds Wonings vir Bejaardes: Pretoria bied ’n tuiste en gesubsidieerde akkommodasie vir bejaardes.
“Die kuiertjie was werklik gemaklik,” vertel Von Wielligh. “Veral vir inwoners wat soms alleen is en geneig is om te vereensaam. Hierdie soort interaksie bring weer lig en lewe in hulle daaglikse bestaan.”
Von Wielligh wys daarop dat die impak van Covid-19, kinders wat oorsee woon en werkend is met min kuiertyd alles bydra tot die vereensaming van bejaardes.
“Ons sien dat baie ouer mense hulself begin isoleer. Daarom is sulke besoeke en sosiale aktiwiteite so belangrik.”
Die Blommefonds (Flower Foundation) is ’n geregistreerde nie-winsgewende organisasie wat drie wonings-opsies in Groenkloof, Bel-Air (Arcadia), en Union Park Gate naby die Uniegebou in Arcadia, asook agt huise in Danville, bestuur.

Die bewoners is meestal afgetrede persone wat in hul loopbane ’n lae inkomste verdien het.
“Ons bejaardes is selfversorgend, en hoewel ons gereeld skenkings van kos kry, soos van Solidariteit Helpende Hand, maak elke inwoner hul eie kos,” sê Von Wielligh.
Sy verduidelik dat die Blommefonds self verantwoordelik is vir fondswerwing en dat die finansiële druk, veral rondom instandhouding, water en elektrisiteit, aan die toeneem is.
Op Von Wielligh se wenslys vir die geboue onder hulle bestuur is skenkings van verf om geboue op te knap, dakverf, en afdakke vir die Groenkloof-tuiste.
“Ons het ook vier kamers wat ons beskikbaar stel aan families van kankerpasiënte of pasiënte wat nabygeleë hospitale besoek vir behandeling,” voeg sy by.

Twee groot fondsinsamelingsgeleenthede is eersdaags onderweg.
Op 22 Augustus word daar ’n gholfdag aangebied waar Mid City Properties ’n spesiale 9de putjie sal borg.
Op 28 Augustus volg die Aand van Legendes, waar rugbylegendes soos Naas Botha op ’n paneel sal gesels en waartydens gesogte sport-memorabilia opgeveil sal word deur Jaco van Dyk en Woes TV.
Ameer sê hul besoek aan die Groenkloof-tuiste was ’n insiggewende ervaring wat die span nederig gestem het.
“Dit het ons weer laat besef dat eenvoudige gebare groot warmte en liefde in mense se lewens kan bring,” sê Ameer.
SPAR het as deel van die besoek komberse geskenk wat aan die inwoners oorhandig is: ’n gebaar wat baie waardering ontlok het.
Ameer deel ook ’n besonderse ontmoeting: “Ek het met ’n inwoner gesels wat vroeër vanjaar gaan valskermspring het en sy is 85 jaar oud! Haar storie het my laat besef dat mens nooit te oud is om jou drome na te jaag nie.”
SPAR het die bejaardes van die Blommefonds se wonings met 45 komberse as ‘n donasie teen die winterkoue bederf. Die bestuur het die komberse uitgedeel met groot dank aan die borge. Inwoners het die komberse by die hoofkantoor in Groenkloof kom haal.


Wil jy help?
– Besoekers, skenkers en ondersteuners is altyd welkom. Kontak Von Wielligh by 082 442 6974 vir maniere waarop jy betrokke kan raak. Jou bydrae maak werklik ’n verskil in die lewens van ons bejaardes.
– Vir kaartjies en meer inligting oor die fondsinsamelingsgeleenthede, skakel Von Wielligh. Skenkings van kontant of sportmemorabilia sal met groot dankbaarheid aanvaar word.


*Neem asseblief kennis dat hierdie artikel gewysig is.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram blaaie.
