Pretoria-sanger bobaas Skryf’It-liedjieskrywer wenner
Die FAK se Vrouedag-spoggeleentheid was maklik die grootste basaar wat die Voortrekkermonument nog tot dusver gesien het. Die wenner van die FAK se Skryf’It-kompetisie is ook by die fees aangekondig: die liedjieskrywer en sanger van die Moot, Logan Pietersen.
Op Vrouedag, 9 Augustus, het die Voortrekkermonument oorgeloop van kultuur, kleur en klanke tydens die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) se spoggeleentheid ter viering van Afrikaans se 100-jarige bestaan as ’n amptelike taal.
Met ’n vrolike gees, heerlike geure en ’n klankbaan van geliefde musiek, het meer as 4 500 feesgangers saam hul erfenis gevier by wat maklik as Pretoria se grootste basaar gereken kan word.
Die viering het nie net Vrouedag en die taal se 100-jarige viering vereer nie, maar nog ’n belangrike mylpaal: die 150ste bestaansjaar van die Genootskap van Regte Afrikaners, die taalpioniers wat die grondslag gelê het vir Afrikaans as ’n trotse en volwaardige taal.
Die dag is afgerond met die aankondiging van die organisasie se Skryf’It-liedjieskryfkompetisie, die projek van FAK-kultuurhoof Barry Müller wat deur ’n sanger van die Moot, Logan Pietersen met sy liedjie “Afrikaans, my taal” gewen is.


In die kompetisie is daar aan elk van die tien finaliste ’n skryfghoeroe toegeken. Pretoria-sanger, Nádine, het saam met Pietersen sy wenliedjie gesing. Sy het hom ook gehelp om die finale produk te ontwikkel.
Pietersen het almal bedank wat vir hom gestem het. “Dankie vir die ondersteuning en aan Nádine vir die leiding.”
In die tweede plek was nog ’n Pretoria-liedjieskrywer, Tuin Schoeman, met “Konfetti sonder kleur” en in die derde plek was die Wes-Kaap se Judite Howell met haar liedjie “Somerwyn”.
Müller sê van die staanspoor af het Pietersen se liedjie aan die hartsnare geraak wat almal wat keuring moes doen. “En hoe dan nou beter as om ’n liedjie te kan hoor wat in hierdie besonderse jaar van viering ’n ode aan Afrikaans te bring?”
Met indrukwekkende uitstallings soos ’n kant- en kwiltvertoning deur die Dameskring en selfs ’n modeltreintjie-uitstalling, was daar vir oud én jonk iets om te bewonder.
Een van die hoogtepunte was sonder twyfel die wyn-en-kwilt-uitstalling. Ses Suid-Afrikaanse kwiltkunstenaars is gevra om kunswerke te skep geïnspireer deur wyne van Montpellier de Tulbagh. Elke lapwerk vertel ’n storie, diep gewortel in die geurprofiele van die wyn waarmee dit gepaard gaan. Die Jakaranda-kwiltersgilde van Pretoria het ook trots hul stempel op dié projek gelaat.


Hierdie uitstalling is tot 18 September te sien in die Kunsgalery in die Senotaafsaal van die monument, ’n moet-sien vir liefhebbers van handewerk en kultuur.
Geen Afrikaanse fees is volledig sonder musiek nie, en dié dag het beslis nie teleurgestel nie. Kunstenaars soos Jan Blohm, Jannie du Toit en Carike Keuzenkamp het die Markplein-verhoog betree en die gehoor op ’n reis van nostalgie en emosie geneem. Die Alberton Manne- en Vrouekoor se uitvoering van tradisionele FAK-liedjies het die gehoor uit volle bors laat saamsing.
By die stalletjies was daar feeskos wat nie net smaaklik was nie, maar ook simbolies. Die Wapadrand Voortrekkers het drie unieke maaltye aangebied, vernoem na ikoniese vrouefigure: die Tibbie Steyn-kaasburger, Gezina Kruger-burger en die Kaalvoetvrou-worsrolletjie. Die gedagte van Mark Hunter vir Vrouedag was ’n smaakvolle huldeblyk aan dapper vroue deur die geskiedenis heen.
Die Boekeparadys het ’n wêreld van verbeelding ontsluit. Kartondose vol boeke het saam met glinsterende oë van boekwurms die terrein verlaat.
“In 2025 het ons die voorreg om terug te kyk op meer as ’n eeu van Afrikaanse taalontwikkeling én om die lewende wêreld van Afrikaanse boeke te vier,” het Zieg van Huyssteen van die FAK met trots gesê.
Vir jonger lesers was daar ’n betowerende sprokieshoek, waar stories lewendig gemaak is deur voorlesers en Bollie, die geliefde blou hasie, het sy opwagting gemaak en talle kinderharte bly gemaak.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok.


