News

Miljoene aan geskorste amptenare betaal terwyl dissiplinêre vertragings voortduur

Volgens die Dissiplinêre Prosedure Kollektiewe Ooreenkoms, mag skorsings nie langer as ses maande duur nie. Die metro bevestig egter dat vele sake hierdie tydraamwerk oorskry weens die aard van ondersoeke.

Die Tshwane metro, wat tans in ’n finansiële verknorsing verkeer, het bevestig dat dit meer as R29-miljoen in salarisse aan geskorste amptenare tydens die 2024/25 boekjaar betaal het, wat kommer wek oor vertragings in die afhandeling van dissiplinêre prosesse.

Volgens die metro is altesaam 27 munisipale werknemers tans geskors, met ’n beduidende aantal wat al reeds vir maande wag vir hul sake om afgehandel te word.

’n Verslag van die metro se Korporatiewe en Gedeelde Dienstedepartement onthul dat 23 van die geskorste amptenare al reeds langer as drie maande wag vir hul dissiplinêre verhore om te begin of om afgehandel te word.

Drie amptenare is sedert 18 Desember 2023 geskors, maar word betaal terwyl hulle tuis bly sonder om pligte uit te voer.

Die Vryheidsfront Plus (VF+) beweer dat die metro hoofsaaklik staatmaak op buite-kontrakteurs, dikwels regsfirmas van Johannesburg, wat hoë tariewe vra om as aanklaers en voorsittende beamptes op te tree.

Daarbenewens is ’n ernstige rede tot kommer dat sake doelbewus vertraag word, aangesien daar gerugte die rondte doen dat sekere amptenare of kontrakteurs na bewering finansieel voordeel trek uit die vertragings.

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo bevestig dat die totale koste wat deur die munisipaliteit aangegaan is in die 2024/25 boekjaar, R29 628 351.83 beloop.

Die verslag dui daarop dat geskorste werknemers voortgaan om volle salarisse te ontvang terwyl hulle tuis bly, ten spyte van die stad se voortgesette finansiële uitdagings en diensleweringsdruk in die gesig staar.

Volgens die verslag, oorskry die gemiddelde jaarlikse koste per geskorste werknemer R1.37-miljoen, en die voortgesette vertragings plaas bykomende druk op die munisipaliteit se reeds-uitgerekte begroting.

Mashigo skryf die vertragings om die dissiplinêre verhore af te handel aan verskeie faktore toe.

“Dit sluit in die kompleksiteit van sake, uitstel, veranderinge van verteenwoordigers tydens dissiplinêre verhore, die beskikbaarheid van getuies, nakoming van dissiplinêre prosedures om regverdigheid te verseker, en afhanklikheid van wetstoepassingsagentskappe vir die verskaffing van bewyse,” sê hy.

Hy voeg by dat baie van die sake kriminele elemente behels wat die proses verder kompliseer en vertraag.

“Meeste van die sake is van ’n kriminele aard en die stad word slegs voorsien van bewyse sodra kriminele sake of forensiese ondersoeke afgehandel is. Hierdie prosesse oorskry gewoonlik die voorgeskrewe ses maande tydperk,” verduidelik Mashigo.

Hy sê in terme van beleid, maak die SALGBC Dissiplinêre Prosedure Kollektiewe Ooreenkoms voorsiening dat dit nie langer as ses maande duur nie.

“Die stad het egter bevestig dat baie sake hierdie tydraamwerk verbysteek weens die aard van ondersoeke,” verduidelik hy.

Mashigo voeg by dat die munisipaliteit maak ook gebruik van eksterne regsdiensverskaffers om te help met dissiplinêre verrigtinge, weens kapasiteitsbeperkings.

“Die stad het ’n gesertifiseerde regspaneel van prokureurs wat nie net vir dissiplinêre sake gebruik word nie. Die prokureurs word gebruik in gevalle waar die stad nie die kapasiteit het om sake te skeduleer en af te handel nie,” sê Mashigo.

Hy bevestig dat die koste verbonde aan hierdie regsdienste tydens die 2024/25 boekjaar dieselfde bedrag beloop wat op geskorste amptenare se salarisse bestee word.

Hy sê in ’n poging om hierdie saak aan te spreek, het die stad begin om sy interne kapasiteit te versterk.

“Tydens Augustus en Oktober 2025, het die stad drie werknemers aangestel wie se taak dit is om die stad in dissiplinêre verhore te verteenwoordig. Die toestroming van dissiplinêre sake noodsaak die gebruik van bykomende eksterne hulpbronne. Dit sal afneem sodra dissipline in die stad stabiliseer,” sê hy.

Mashigo voeg by dat die munisipaliteit stappe neem om beide skorsings en gepaardgaande kostes te verminder.

“Waar moontlik en waar werknemers nie ’n bedreiging inhou nie, word skorsings vermy deur werknemers in alternatiewe rolle in die stad te plaas,” sê hy.

Hy bevestig ook dat die stad sy afhanklikheid van eksterne regsfirmas hersien.

“Die stad het oorweeg om die gebruik van eksterne regsfirmas te beperk, dus die aanstelling van interne personeel,” sê Mashigo.

Vryheidsfront Plus-raadslid Roché Grebe sê die gemiddelde koste per werknemer per jaar (R1.37-miljoen), is ’n uitgawe wat deur die belastingbetalers gedek word, terwyl geen werk verrig word nie.

“Hierdie onnodige vertragings spruit uit swak interne administrasie.”

Hy sê die VF Plus het aan die burgemeesterskomiteelid vir Korporatiewe en Gedeelde Dienste, Kholofelo Morodi, geskryf en dring daarop aan dat bindende spertye vir die afhandeling van dissiplinêre sake ingestel word.

“Lynbestuurders wat toelaat dat verhore onnodig vertraag word, moet aanspreeklik gehou word. Die aanstelling van eksterne regsfirmas moet deeglik hersien word, met ’n moontlike ondersoek na korrupsie tussen amptenare en kontrakteurs.”

Hy voeg boonop by dat die menslike hulpbronne departement moet dringend hersien word om ’n einde aan hierdie vermorsing van openbare fondse te sit.

“Die Vryheidsfront Plus weier om ledig by te staan terwyl amptenare miljoene vir maande or selfs jare betaal word sonder om iets te doen.”

Hy beklemtoon dat die huidige administrasie aanspreeklikheid moet aanvaar en die vermorsing moet stop.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Itumeleng Mokoena

Itumeleng Mokoena is a skilled journalist with experience in investigative reporting, interviewing, photography, and writing accurate news. Based at Pretoria Rekord East, he covers various beats and is dedicated to informing and educating the community. With a diploma from Tshwane University of Technology and previous experience at Lowveld Media, he is a passionate and hardworking journalist.
Back to top button