
Rekord se eie Elize Parker is ’n bekende omgewingsjoernalis en aktivis vir diereregte.
Haar jongste boek, Die Eilandbruid se Sluier, is die eerste boek uit die Orka-reeks en die 22ste fiksieboek op haar kerfstok.
Die verhaal draai om Chrisanne Alberts, ’n grootwithaai-navorser, en Shadowfin, ’n moordwalvis. Hul aankoms by die kusdorpie, Albatroshoek, ontwrig die vrede. Shadowfin verjaag die grootwithaaie soos dit jag maak op hul lewers. Die haaie se verdwyning ontstel die dorpsmense, wat afhanklik is van die grootwithaaie met hul haaihokduikbesighede. Die dorpsmense verkwalik dan Chrisanne daarvoor.
Terwyl sy die seer en onopgeloste geheime van die verlede moet probeer verwerk, gooi die voogdyskap oor haar broerskind, die verskyning van Shadowfin en haar gevoelens vir ’n sekere eilandkluisenaar, haar lewe omver. Haar grootwordvriendinne, Reinet en Essie, speel ook ’n rol.
Eerste indrukke van die boek: Die titel en boekomslagontwerp prikkel die leser se nuuskierigheid. Wie is die eilandbruid? Wat is die betekenis van die sluier? Dit is egter opvallend dat daar nie ’n prent van ’n orka op die boekomslag is nie.
Die karakterlys vooraan is ’n groot pluspunt. Die ingewikkelde intriges en hoe die karakterlyne in mekaar steek, kan soms oorweldigend voel en help dit om mens dikwels weer te vergewis met wie is wie. Maar die feit dat daar so baie karakters is, skep die indruk dat die leser te veel balle in die lug probeer hou.
Die Eilandbruid se Sluier word uit Chrisanne se oogpunt vertel. Parker noem dat die tweede en derde boeke uit ’n ander karakter se oogpunt vertel word.
In ’n Groot Ontbyt-onderhoud, deel Parker dat sy ’n ‘groen Christen’ is. Sy voel dit is haar plig om mense bewus te maak van bedreigde spesies en om hulle te bewaar vir toekomstige geslagte. In haar vorige trilogie het die storie gedraai rondom renosters en olifante. In Die Eilandbruid se Sluier word daar ’n sterk pleidooi vir die bewaring van grootwithaaie gelewer. Parker vertel dat grootwithaaie tans bedreig is. Daar is glo, volgens wetenskaplikes en kenners, net 300 tot 500 grootwithaaie wat aan Suid-Afrika se kuste rondswem.
Die boek is reeds van middel-Maart op die rakke beskikbaar en vaar reeds goed op Afrikaanse Fiksie Top-20.
Die boekbekendstelling vind op 28 Maart plaas by die Graffiti-boekwinkel by Zambezi Junction in Montana. Charonike Nel sal in gesprek tree met Elize Parker. Bespreek jou plek deur 012 548 2356 te skakel of stuur ’n e-pos aan shop@graffitibooks.co.za voor 26 Maart.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
