News

Verdwaalde vrou veilig uit Magaliesberg gered

’n 35-jarige vrou van die Moot is ná ’n emosionele staptog oor die Magaliesberg in die donker deur reddingspanne opgespoor. Sy het verdwaal, geval en alleen gesukkel, maar kon uiteindelik hulp ontbied. Die voorval beklemtoon die gevare van onvoorbereide stap en die krag van gemeenskapsamewerking.

Dit was nie ’n staptog wat sy beplan het nie. Om ver in die Magaliesberg te stap, was nie eens iets wat sy gewoonlik doen nie.

Maar Maandagmiddag, ná nog ’n lang dag by die werk, het ’n 35-jarige vrou van die Moot besluit om weg te stap ‘om haar kop skoon te maak’.

Uiteindelik sou die onbeplande staptog in die Magaliesberg tussen die Moot en Montana eindig in ’n dramatiese reddingsaksie, en, soos sy dit self beskryf, ’n ontmoeting met God.

“Ek het nie juis daaraan gedink om te gaan stap nie,” vertel die vrou, wat anoniem wil bly. “Ek werk bykans heel week by ’n besige besigheid in die Moot. Daardie middag het ek net gevoel ek moet ’n blaaskans kry. Ek het die middag afgekry omdat dit ’n vakansiedag was.”

Sy het omstreeks 15:00 huis toe gestap van die werk toe haar gedagtes begin rondmaal het.

“Ek het aan al my probleme gedink. Ek was so moeg. Ek het vir die Here gevra vir antwoorde.”

By die huis het sy probeer rus, maar die onrus het nie bedaar nie. “Toe besluit ek om te gaan stap en met die Here te praat. Ek het nie geweet waarheen ek gaan nie.”

Wat gevolg het, is ure se dwaalpaaie op die Magaliesberg: op en af, oor uitgetrapte veldpaaie en uiteindelik deur die veld oor die berg self.

Sy onthou hoe sy by die hek van Hoërskool John Vorster in die Moot ingestap het en daarvandaan toe verder die berg in beweeg het.

“Ek weet nie hoe ek van die Moot oor die Magaliesberg tot in Montana gekom het nie. Ek het seker so 15:30 begin stap en teen 17:00 besluit ek ek moet terugdraai, maar toe was dit al besig om donker te raak en ek het eerder voortgestap as om terug te draai.”

Met geen flits en ’n selfoon waarvan die battery besig was om pap te raak, het paniek begin inskop.

“Dit was gou pikdonker. Ek het nie geweet waar ek is nie. Ek het geval, oor klippe en bultjies. Ek het probeer opstaan en aangaan na ’n ernstige val of twee, maar dit was angswekkend. Ek was alleen.”

Sy het net ’n bottel water by haar gehad en was geklee in ’n kniebroek, T-hemp en loopskoene.

Haar enigste hoop was haar selfoon en selfs hierdie stukkie noodgereedskap was beperk in sy vermoë.

“Ek het net R5 se data per dag. Ek moes my hand hoog in die lug hou om sein te kry. Ek het toe ’n WhatsApp-oproep gemaak na my selgroep-leier en ’n kennis wat toe ’n noodgroep laat weet het. Die leier van die groep het gesê ek moet ’n liggings Pin stuur. Ek het eers nie geweet hoe nie, maar ek het dit reggekry.”

Teen daardie tyd was sy emosioneel en fisies uitgeput. “Ek het net gebid. Ek het besef by God is alles moontlik. Ek het net aan Hom vasgehou.”

Intussen is ’n soektog geloods nadat hulp ontbied is. Volgens Martin Kruger, bestuurshoof van die Community Response Group (CRG), is die noodoproep en kennisgewing op die groep kort ná 20:00 ontvang.

“Ons het die inligting deur ’n gemeenskapsgroep ontvang en onmiddellik begin mobiliseer,” sê Kruger. “Sodra ons die ligging se aanwysing gekry het, het ons ’n inwoner by ’n huis naby aan haar in Montana versoek om ons te help om toegang tot die berg te kry.”

Toegang tot die berg was nie eenvoudig nie. “Ons moes deur privaat eiendom werk. In een geval is toegang verkry deur ’n hek in Molokostraat. Sonder daardie samewerking sou dit baie moeiliker gewees het.”

Hy skat die vrou het tussen agt en tien kilometer gestap. “Die terrein is uitdagend, veral in die donker. Ons moes vinnig werk, maar ook versigtig wees. Vrywilligers is ontplooi en ons het saam met ander rolspelers die gebied deursoek.”

Kruger sê die span kon uiteindelik die vrou opspoor waar sy uitgeput en emosioneel gedreineer was. “Sy was erg geskok, maar ongedeerd, buiten vir ligte skrape. Ons het haar uit die berg begelei en na veiligheid geneem.”

Hy waarsku dat mense nooit alleen en onvoorbereid moet gaan stap nie. “Laat altyd iemand weet waar jy gaan en hoe lank jy weg gaan wees. Neem genoeg water, ’n flits, en maak seker jy weet hoe om jou ligging te deel.”

Volgens Xander Laubscher van Best Care, wat saam met ander nooddienste op die toneel was, was die vinnige reaksie en samewerking deurslaggewend.

“Die dame was nie bekend met staproetes nie,” sê Laubscher. “Gelukkig het sy op ’n stadium sein gehad en kon sy haar ligging deel, wat ons in staat gestel het om haar te bereik.”

Hy verduidelik dat verskeie dienste betrokke was en bedank rolspelers soos Tshwane EMS van Innesdal, Tshwane EMS Rescue Unit, Proshield, Emergency Support Team en die CRG-span.

Toe hulle haar bereik, was sy fisies swak, volgens Laubscher.

“Sy was gedehidreer en uitgeput ná ure se stap en stres. Ons het haar gehidreer en glukose gegee. Gelukkig was daar geen ernstige beserings nie en sy kon huis toe gaan, al het ons hospitaalbehandeling voorgestel.”

Laubscher voeg by dat Proshield se hommeltuig-eenheid op bystand was.

“Indien nodig, kon dit ingespan word. Hierdie situasie kon baie erger gewees het. Ons is dankbaar vir almal wat betrokke was.”

Vir die vrou self was die ervaring egter meer as net ’n redding uit die donker. “Dit het my geleer dat God my nie los nie,” sê sy sag.

“Selfs toe ek nie geweet het waarheen ek gaan nie, het Hy geweet.”

LEES OOK: Metro vertrou op ekonomiese groei en werkskepping met toerismeplan

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button