Local newsNews

HelpHetta-vennootskap bring hoop vir meisies

’n Nuwe vennootskap tussen Solidariteit Helpende Hand se HelpHetta-projek en ’n apteekgroep maak dit makliker vir die publiek om sanitêre produkte te skenk. Die inisiatief help duisende meisies om in die skool te bly en bou terselfdertyd selfvertroue en hoop vir ’n beter toekoms.

Te midde van ’n groeiende behoefte aan basiese maandelikse higiëneprodukte onder jong meisies wat dit nie kan bekostig nie, het Solidariteit Helpende Hand se HelpHetta-projek ’n nuwe vennootskap met ’n apteekgroep aangekondig.

Dis ’n stap wat gemik is daarop om praktiese verligting te bring waar dit die dringendste nodig is.

’n Meisie kan tot 50 skooldae per jaar misloop weens ’n gebrek aan sanitêre produkte, ’n faktor wat haar akademiese prestasie en selfbeeld ernstig kan benadeel.

Tog kos dit volgens die HelpHetta-projek slegs ongeveer R30 om een meisie vir ’n maand te help om in die skool te bly.

Skenkingskardoese is vanaf 27 Maart in tien Van Heerden Apteek-takke in en om Pretoria geplaas, waar klante sanitêre produkte kan skenk vir meisies wat nie toegang tot hierdie noodsaaklike items het nie.

Die takke sluit onder meer Pretoria-Noord, Atterbury, Lynnwood en Glenstantia in, en maak dit vir die publiek maklik om betrokke te raak by ’n inisiatief wat ’n direkte impak het.

Volgens ramings deur die Verenigde Nasies mis een uit elke tien meisies in Sub-Sahara Afrika skool tydens hul menstruele siklus wat tot 20% van die skooljaar kan uitmaak.

HelpHetta ondersteun tans sowat 4 000 meisies in 135 skole landwyd met die nodige produkte, maar die vraag oorskry steeds die beskikbare hulpbronne.

“Hierdie vennootskap maak dit vir gewone mense moontlik om met ’n eenvoudige daad ’n tasbare verskil te maak. Elke skenking help om ’n meisie in die skool te hou,” sê Danelle du Plessis, projekorganiseerder van HelpHetta.

Die organisasie K!ND ondersteun ook die projek en beklemtoon die breër impak van toegang tot menstruele higiëne, nie net op gesondheid nie, maar ook op selfvertroue, deelname en uiteindelik ’n jong meisie se toekoms.

“Wanneer ’n meisie nie toegang het tot hierdie produkte nie, raak dit haar selfvertroue, haar deelname en uiteindelik haar toekoms. Hierdie is ’n eenvoudige manier om daardie kringloop te breek,” sê Du Plessis.

Sedert die bekendstelling van HelpHetta in 2015 fokus die projek op meer as net die verspreiding van produkte.

Dit bied ook mentorskap, opleiding en emosionele ondersteuning aan deelnemers.

Meisies ontvang gereeld leiding oor uitdagings soos groepsdruk, verwerping en selfverdediging, terwyl maatskaplike werkers weekliks ondersteuning via WhatsApp verskaf.

Die publiek word aangemoedig om produkte by deelnemende apteke te skenk, of om finansieel by te dra via die projek se webwerf. Vir die organiseerders is dit juis hierdie klein, konsekwente bydraes wat oor tyd ’n groot verskil maak.

– As deel van hierdie ondersteuning is daar ook ’n WhatsApp-uitsendingsgroep beskikbaar. Meisies wat deel van die HelpHetta-WhatsApp-kanaal wil word, kan aansluit deur die volgende skakel te gebruik: https://whatsapp.com/channel/0029Vb6vMBZD8SDxY3oHQS0D.

Hierdie platform bied gereelde boodskappe van bemoediging, praktiese raad en emosionele ondersteuning.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button