DBV ondersoek beweerde hondemishandeling voorval na video’s wyd versprei
Video’s van die voorval is wyd op sosiale media versprei. John Schuurman, ook bekend as Johnny Rockett, het homself by die DBV aangemeld om sy weergawe te gee. Die organisasie sê die ondersoek is nog in ’n vroeë stadium en alle bewyse word oorweeg.
Die Tshwane DBV het ’n formele ondersoek van stapel gestuur na aanleiding van beweerde hondemishandeling tydens ’n voorval in Pretoria-Wes by ’n motoronderdele-handelaar op 8 April.
Die beweerde mishandeling van wat beskryf word as ’n Amerikaanse gevegshond, kan op video-opnames gesien word wat wyd op sosiale media versprei is.
In die video’s kan gesien word hoe John Schuurman, ook bekend as Johnny Rockett van Pretoria-oos, klaarblyklik aggressief teenoor die hond genaamd Honey optree tydens ’n konfrontasie by Zuko Auto Spares.

Nadat die DBV bekend gemaak het dat ’n ondersoek van stapel gestuur is, het Schuurman egter op 20 April uit eie inisiatief die DBV se kantore in Waltloo besoek om sy weergawe van die gebeure aan te bied. Hy het ook ’n verklaring by die polisie oor die voorval afgelê.
Die video’s wat tans gesirkuleer word, is volgens Schuurman, geredigeer en selektief saamgestel.
Die beeldmateriaal, wat op verskeie platforms gedeel word, toon gedeeltes van die konfrontasie, maar bevat geen klank nie en wys nie die volledige verloop van die voorval nie.
In die mees onlangse video word Schuurman gewys tydens die besoek aan die onderdelehandelaar, waar ’n geskil oor die verkryging en betaling van skaars Volvo-enjinonderdele ontstaan het.
Schuurman beweer die dispuut het betrekking op ’n suier wat nie korrek volgens sy bestelling was nie. Hy beweer dat die situasie geëskaleer het toe hy ’n terugbetaling geëis het.
Volgens sy weergawe het die eienaar van die perseel tydens die argument ’n hond aangehits om hom aan te val.

Schuurman het aan die DBV gesê hy moes homself verdedig toe die hond hom bestorm. Hy het beserings, insluitend ’n diep sny en ’n ernstige handbesering, aan inspekteurs gewys.
Ziyaad Osmond van Zuko Auto Spares, het bykomende besonderhede gegee oor die geskil en die rol van die hond tydens die voorval.
Volgens Osmond het die kern van die konflik ontstaan oor ’n suier en motoronderdele wat Schuurman glo by sy besigheid bestel en geneem het.
“Hy het wel met die suier en alles vertrek na die voorval en geweier om die uitstaande balans te betaal,” het Osmond aan Rekord gesê.
Hy verduidelik dat die situasie op sy perseel vinnig geëskaleer het toe Schuurman die terrein betree het in wat hy beskryf as ‘vyandige omstandighede’.
Osmond sê Schuurman het die hek geblok en daarop aangedring om geld terug te kry vir onderdele wat reeds verskaf is, terwyl die betaling nie volledig vereffen is nie.
Osmond sê Honey, die vierjarige familiehond, is tydens die konfrontasie beseer.
“My hond, Honey, is my sewejarige dogter se troeteldier. Hy (Schuurman) het haar voor my 57-jarige ma en kinders aangerand. My bure het uitgekom en sy gedrag gesien. My dogtertjie is steeds getraumatiseer,” sê hy.
Hy beweer verder dat Honey in die geveg betrokke geraak het nadat sy glo uit selfbeskerming gereageer het.
Volgens Osmond het Schuurman daarna die perseel verlaat met die onderdele in sy besit, sonder om die volle bedrag te betaal.
Schuurman het op 20 April vir bykans ’n uur met inspekteurs en bestuur vergader, volgens die DBV.
DBV-direkteur Jeanine Niemann-Greatorex sê Schuurman is die geleentheid gebied om sy kant van die saak volledig te stel.
“Ons het hom tyd gegee om sy kant van die saak te stel en sal nou die ondersoek verder kan neem,” sê sy.
Die ondersoek fokus op die omstandighede waaronder die hond betrokke was, asook of daar enige oortreding van dierebeskermingswetgewing plaasgevind het.
Volgens die DBV sal alle beskikbare beeldmateriaal en getuienisse oorweeg word voordat verdere stappe geneem word.
Die DBV beklemtoon dat die ondersoek nog in ’n vroeë stadium is en dat geen finale bevindings gemaak is nie. Verdere kommentaar van die organisasie word verwag sodra die ondersoek afgehandel is.
Intussen het die verspreiding van die video’s momentum opgebou, met die saamgestelde beeldmateriaal wat onder ’n skuilprofiel op verskeie groepe gedeel word.
Schuurman voer aan dat die persoon agter die profiel hom doelbewus probeer diskrediteer en al vir jare ’n persoonlike vendetta teen hom het.
Die geredigeerde snitte bevat ook verwysings na vorige beweerde voorvalle van geweld waarin Schuurman betrek word.
In een so ’n geval, wat verband hou met ’n beweerde aanranding, is hy egter later in die hof vrygespreek, met die uitspraak wat volgens hom op kwaadwillige vervolging gedui het.
Schuurman werk tans as bemarking- en mediabeampte in die motoronderdelebedryf by Mechanical Crew en is sedert die laat 1990’s in Pretoria gevestig.
Hy bevestig dat hy dokumentasie en bykomende beeldmateriaal aan die DBV oorhandig het as deel van sy samewerking met die ondersoek.
– Kliek hier vir ’n video-weergawe van die voorval
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
