EntertainmentNews

Suid-Afrika groet opera-legende en -liefling

Die legendariese Mimi Coertse is op 27 April stil oorlede, maar haar stem eggo steeds wêreldwyd. As Suid-Afrika se eerste prima donna het sy geskiedenis gemaak en generasies geïnspireer. Haar nalatenskap leef voort: in elke noot en elke jong sanger wat sy pad volg.

Gevierde operasangeres, Mimi Coertse, is op 27 April rustig oorlede in haar huis in Waterkloof, Pretoria.

Haar vriendin, Lizet du Plessis, het aan Rekord gesê ‘onse Mimi’ soos sy in die volksmond bekend is, sal met liefde deur talle Suid-Afrikaners onthou word. “Mimi gaan nou saam met die hemelkoor sing.”

Du Plessis het bevestig dat sy in haar slaap oorlede is nadat haar gesondheid in die onlangse paar maande agteruit gegaan het.

“Ek is net bly dat sy rustig en in haar eie huis was,” sê Du Plessis.

Bekende operasangeres Michelle Veenemans, sê dat sy haar ’n wêreld sonder Coertse eintlik nie kan voorstel nie.

“Sy was maar nog net altyd daar en alomteenwoordig. Sy het in my loopbaan soveel vir my beteken en soveel gedoen. Ook vir soveel andere het sy soveel beteken, veral ook in die vroeë negentigerjare om operasangers te ontwikkel en nie die kunsvorm verlore te laat gaan in Suid-Afrika nie.”

Op ’n persoonlike vlak sê Veenemans dat Coertse haar ondersteun het en in 2010 aangemoedig het om in haar liederprogramme deel te neem. “Sy was altyd besig om vir ons uitdagings te stel en te wys hoe om dit baas te raak.”

Coertse is in 2022 deur die Aitsa Afrikaanse Musiektoekennings vereer vir haar lewenslange bydrae tot die musiekbedryf en die Afrikaanse kunslied.

Sy is die kunstenaar wat die meeste Afrikaanse kunsliedere gesing het waarvan die bekendste en gewildste een S. Le Roux Marais se Heimwee is.

Haar heengaan merk die einde van ’n era in die Suid-Afrikaanse en internasionale operawêreld.

Sy was nie bloot ’n sangeres nie, maar ’n pionier wat een van die wêreld se mees gerespekteerde operastemme geword het.

As Suid-Afrika se eerste ware opera prima donna het Coertse die betekenis van die term beliggaam. Sy was die leidende sopraan, ’n kunstenaar van statuur en verdienste. Vir 17 jaar lank het sy hierdie rol by die Vienna State Opera beklee, waar sy as eerste koloratuursopraan geheers het.

Haar debuut in 1956 as die Koningin van die Nag in Die Zauberflöte was een van die hoogtepunte van haar loopbaan.

Sy het ontwikkel tot een van die fynste vertolkers van Wolfgang Amadeus Mozart se werke en het onvergeetlike rolle vertolk soos Donna Anna en Donna Elvira in Don Giovanni, Fiordiligi in Così fan tutte en die gravin in Le nozze di Figaro.

Coertse se bydrae het egter verder as haar eie loopbaan gestrek. Sy het die pad gebaan vir ander Suid-Afrikaanse sangers om internasionaal te skitter en het terselfdertyd Suid-Afrikaanse musiek na Europese gehore geneem. Werke van komponiste soos Arnold van Wyk en Pieter de Villiers het deur haar stem nuwe lewe gekry op wêreldverhoë.

Toe PACT Opera in 1997 by die Staatsteater in Pretoria ophou bestaan het as ’n permanente operageselskap, het daar ’n duidelike leemte ontstaan in die opleiding en ontwikkeling van jong operasangers in Suid-Afrika.

Die behoefte was groot om talentvolle sangers uit verskillende kulturele agtergronde die geleentheid te gee om hul vaardighede te slyp en blootstelling aan die professionele operaverhoog, plaaslik en internasionaal, te kry.

As reaksie hierop het Coertse saam met die bekende operaregisseur en kostuumontwerper Neels Hansen in 1999 die Black Tie Ensemble gestig. Hierdie inisiatief was uniek in sy fokus om jong sangers nie net op te lei in Westerse kunsmusiek, veral opera nie, maar ook om praktiese verhoogervaring te bied.

Verder het die program daarop gemik om werksgeleenthede vir hierdie kunstenaars te skep, sodat hulle ’n volhoubare inkomste kon verdien terwyl hulle hul loopbane bou. Die Black Tie Ensemble speel steeds ’n belangrike rol in die ontwikkeling van nuwe operatalent in Suid-Afrika en het verskeie konserte, ook een ter ere van Coertse, in Pretoria aangebied.
Sy word oorleef deur haar seun, Werner Ackermann, wat in Kaapstad woon en haar dogter, Mia de Klerk, wat in Switserland woon, en hul gesinne.

LEES MEER: ‘Onse Mimi’ – the legacy of a legend lives on

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button