Deon Human bou drome liedjie vir liedjie
Van meubels ontwerp tot die skryf en sing van liedjies, Deon Human leef sy passie op talle fronte uit. Die voormalige ‘lawaaipapegaai’ van Wonderboom (soos sy gesin hom mee gespot het), wys dat grootmenslewe en groot drome wel saam kan bestaan wanneer mens aanhou glo.
Vir baie mense beteken grootword dat drome vir eers eenkant toe geskuif moet word. Vir sanger en sakeman Deon Human het dit bloot beteken sy drome moes ’n nuwe vorm aanneem.
Bedags ontwerp en vervaardig hy meubels, terwyl hy saans kitaar speel, liedjies skryf en nuwe musiek opneem. Die 41-jarige kunstenaar sê musiek het steeds ’n greep op sy lewe en sy hart.
“Ons het grootgeword met musiek in die huis. My pa het my kitaar leer speel toe ek omtrent 11 was,” vertel hy. “Maar ek het gedink ek speel nie goed genoeg kitaar nie, toe begin ek eerder tromme speel.”
Dit was die begin van sy bynaam in die huis.
“Hulle het my die ‘lawaaipapegaai’ genoem omdat ek heeldag geraas gemaak het.”
Deon, wat in Wonderboom grootgeword het en op Laerskool Wonderboom was, het gou saam met sy broer en skoolvriende ’n orkes begin. Die groep se naam was The Lost en hulle het ’n punkrock-klank gehad wat goed aanklank gevind het by tieners.
“Ons het op 16- en 17-jarige ouderdom al optredes gekry. Dit was vir ons ’n ongelooflike groot prestasie op daardie ouderdom,” sê hy.
Die groep het selfs as voorprogram vir bekende groepe soos Prime Circle opgetree.
Teen 2006 het The Lost sterk momentum opgebou en by die bekende STRAB-konserte in Mosambiek saam met kunstenaars soos Gian Groen en Piet Botha gespeel.
Maar soos dit dikwels met jong musiekgroepe gebeur, het die werklikheid van volwassenheid begin roep.
“Op 23 slaan die grootmenslewe my,” vertel Deon laggend. “Ons orkeslede het besluit om die kitare op te hang en iets met ons lewens te doen.”
Hy het begin werk, getrou en verantwoordelikhede aangepak, maar die musiek in sy hart en kop het nooit verdwyn nie.
“Ek het elke aand by die huis gekom ná werk en steeds kitaar gespeel. Toe besluit ek ek gaan nie die droom prysgee nie, ek gaan net op ’n ander manier daaraan werk.”
Vandag bou hy saam met sy ma, Lets Human, aan hul familiebesigheid waar hulle luukse meubels restoureer en meubels ontwerp vir meubelwinkels. Hy beskryf die onderneming as iets waarin kreatiwiteit steeds ’n groot rol speel.
“Ek geniet dit om met my hande te werk en dinge mooi te maak. Daar is eintlik baie ooreenkomste tussen meubels ontwerp en musiek skryf want albei begin met ’n idee.”
Sy ander groot steunpilaar is sy vrou, Izanne, ’n wiskunde-onderwyseres met haar eie onderneming, Tjomme met Somme.
Die twee het mekaar in 2006 ontmoet en op 11 November 2011 getrou.
“Vyftien jaar later is musiek nog deel van my lewe,” sê hy. “Izanne ondersteun my ongelooflik baie.”
Een van sy eerste groot mylpale as solo-kunstenaar was die gospel-liedjie Met U Liefde, wat veel radiospeeltyd geniet het.
“Ek hou baie van gospelmusiek soos Phil Wickham en Chris Tomlin, maar country-pop bly seker my gunstelinggenre.”
In die afgelope twee jaar het sy musiekloopbaan merkbaar momentum gekry. Hy het in Januarie 2025 die partytjie-treffer Kom’s Braai uitgereik, gevolg deur Petrol op die Vuur in Junie, Reg om te Toer in November en nou sy jongste enkelsnit, Ons Twee.
Volgens hom is Ons Twee ’n liedjie oor daardie oomblikke wanneer die lewe moeilik raak, maar jy steeds iemand langs jou het.
“Soms kry mens die gevoel jy het alles verloor, maar jy het nog daardie een persoon wat jou werklik liefhet,” verduidelik hy. “Dis hoekom ek die liriek ingesit het van ‘jy is my persoon links voor in die kar se sitplek’.”
Hy sê die liedjie gaan ook oor avontuur en die begeerte om soms net alles agter te laat en saam nuwe paaie te gaan ontdek.
“Wanneer jy daardie gedagte kry om net op te pak en te trek, moet jy dit soms ’n avontuur maak.”
Die liedjie het reeds goeie radiospeeltyd gekry en word goed ontvang op stromingsplatforms soos Spotify.

Beskrywing
Deon sê onafhanklike kunstenaarskap bring uitdagings mee.
“Om ’n onafhanklike kunstenaar te wees is nie altyd maklik nie. Daar is baie tyd, geld en opoffering betrokke wat mense nie altyd sien nie.”
Hy weet waarvan hy praat. Buiten sy ondernemings was hy ook vir ’n lang tyd in verkope by ’n radiostasie betrokke en verstaan hy die harde werk wat agter musiekbemarking lê.
Tog bly sy liefde vir Afrikaanse musiek groei.
“Ek luister baie mooi hoe liedjies vervaardig word, die kitare, klaviere, tromme en selfs die sintetiese klanke. Dit inspireer my baie.”
Hy droom steeds daarvan om eendag ’n groot kommersiële radiotreffer te hê en moontlik saam met kunstenaars soos Riaan Benadé en Appel te werk.
Nog ’n hoogtepunt in sy loopbaan was toe hy saam met sy broer die verhoog gedeel het met Seether nadat hulle aan Tuks FM se Battle of the Bands deelgeneem het.
“Daardie oomblikke bly altyd spesiaal.”
Ten spyte van sy besige lewe tussen die ontwerp en maak van meubels, die betrokkenheid by die familiebesigheid en die maak van musiek, maak hy steeds tyd vir welsynswerk, hoewel hy verkies om dit stilweg te doen.
“Ek glo as jy iets goed doen, hoef jy nie altyd daaroor te praat nie.”
Vir nou fokus Deon op nuwe musiek en nóg vrystellings wat reeds in die pyplyn is.
“Musiek bly my ontsnapping van die alledaagse lewe,” sê hy. “En solank mense my liedjies luister en dit iets vir iemand kan beteken, sal ek aanhou skryf.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
