Dringende ingryping oor diensleweringkrisis in noorde gevra
Herhaalde kragonderbrekings, vervalle paaie, waterlekke en rioolprobleme plaas druk op inwoners en ondernemings en veroorsaak toenemende kommer oor veiligheid en munisipale bestuur.
Die Vryheidsfront Plus sê die toenemende verval van dienslewering in Pretoria-Noord het ’n krisispunt bereik en doen ’n dringende beroep op die stadsraad om onmiddellik op te tree om basiese munisipale dienste te herstel en stabiliteit in die gebied te bring.
Volgens die party het inwoners toenemend te kampe met herhaalde kragonderbrekings wat soms verskeie kere per week voorkom en in sekere gevalle vir lang tydperke voortduur.
Die onderbrekings het ’n direkte impak op huishoudings, klein ondernemings en diensverskaffers wat afhanklik is van konstante elektrisiteit vir daaglikse bedrywighede.
VF Plus-raadsverteenwoordiger Rina Marx sê die situasie het ontwikkel tot ’n patroon van onbetroubare dienslewering wat nie meer as geïsoleerde voorvalle beskou kan word nie.

Volgens haar word inwoners en ondernemings toenemend finansieel benadeel omdat herstelwerk nie volhoubaar of tydig plaasvind nie.
Benewens elektrisiteitsprobleme is die toestand van paaie in Pretoria-Noord, volgens Marx, ernstig aan die verval.
“Groot dele van hoofroetes en woonstraatnetwerke is vol slaggate, met sekere gedeeltes waar verkeer tot een baan beperk word. Dit lei tot verkeersopeenhopings, veral in gebiede waar skole langs hoofroetes geleë is en spitstydverkeer reeds swaar is,” waarsku Marx.
Sy sê herstelwerk aan infrastruktuur soos waterlekke word dikwels onvolledig of vir lang tydperke onafgehandel gelaat.
In sommige gevalle bly areas op sypaadjies waar daar konstruksie deur die metro gedoen is, vir maande oop nadat werk aan pype of waterlyne gedoen is.
“Dit skep nie net ongerief nie, maar ook veiligheidsrisiko’s vir motoriste en voetgangers.”
Marx sê die party ontvang gereeld klagtes oor rommel wat nie verwyder word nie en oor sypaadjies wat so verval het dat voetgangers gedwing word om in die ryvlak te stap.
Sy sê dit verhoog die risiko van ongelukke en plaas veral kwesbare padgebruikers in gevaar.
Een van die punte van kommer is ook die toestand van kruisings en straatinfrastruktuur.
Die kruising van Ben Viljoen en Rachel de Beerstrate word deur inwoners as ‘uiters’ gevaarlik beskryf weens strukturele verval en ’n straatlig wat glo onveilig hang en voertuie kan beskadig.
Marx wys daarop dat soortgelyke probleme kom regoor die gebied voor sonder dat dit daadwerklik aangespreek word.

Waterverlies deur lekkende pype is vir haar nog ’n groot bekommernis.
Terwyl inwoners gevra word om water spaarsaam te gebruik, sê sy gaan duisende liters daagliks verlore weens onbeheerde waterlekke in verskeie dele van Pretoria-Noord. Dit plaas verdere druk op reeds beperkte waterbronne en infrastruktuur.
Daar is ook kommer oor rioolstelsels wat oorloop en ’n sterk reuk van riool wat, volgens inwoners, veral langs die Lavenderpad en in die rigting van Onderstepoort merkbaar is.
Marx sê daar is toenemende berigte dat onbehandelde riool in die Apiesrivier beland, wat ernstige omgewings- en gesondheidsrisiko’s inhou.
Vir haar het die kombinasie van infrastruktuurverval, swak instandhouding en vertraagde reaksie op klagtes gelei tot ’n verlies aan vertroue onder inwoners. Sommige huishoudings oorweeg, volgens haar, selfs om uit die gebied te verhuis weens die volgehoue probleme.
Marx vra nou dat die stadsraad aanspreeklikheid neem vir die huidige toestand en dringend herstelwerk prioritiseer. Sy sê die party wil sien dat daar duidelike tydlyne vir herstelwerk en instandhouding vasgestel word en dat klagtes van inwoners nie langer geïgnoreer word nie.
Volgens haar is dit onaanvaarbaar dat belastingbetalende inwoners nie basiese dienste ontvang waarop hulle geregtig is nie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel
