Vennootskap wil Afrikaanse teater laat herleef in middestad
Die FAK en die Staatsteater het ’n historiese samewerkingsooreenkoms gesluit om Afrikaanse teater weer prominent op dié teater se verhoë te plaas. Die vennootskap fokus op nuwe produksies, gehoorontwikkeling en die herstel van ’n lewendige teaterkultuur in Pretoria.
Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK) en die Suid-Afrikaanse Staatsteater (SAST) het ’n geskiedkundige samewerkingsooreenkoms op 12 Junie gesluit wat daarop gemik is om Afrikaanse teater en uitvoerende kunste weer ’n plek op dié teater se verhoë te gee.
Die aankondiging vorm deel van ’n groter strategie om Afrikaanse gehore terug te lok na die Staatsteater, wat sedert sy opening in 1981 as een van die belangrikste teaterkomplekse in die land bekend staan.
Die ooreenkoms volg nadat die Staatsteater die FAK en die Voortrekkermonument genader het om te help met die ontwikkeling en bemarking van ’n volhoubare Afrikaanse aanbod.
Volgens die Staatsteater se bestuur het die vertroue wat die Afrikaanse gemeenskap in die FAK stel ’n belangrike rol gespeel in die ontstaan van die vennootskap.
“Die samewerking met die FAK en die Voortrekkermonument is ’n belangrike stap in die versterking van vennootskappe wat Suid-Afrika se diverse kulturele erfenis vier, bewaar en bevorder,” sê Shane Maja, uitvoerende hoof van die Staatsteater.
“Ons glo die ooreenkoms skep ’n wonderlike geleentheid om toegang tot die Afrikaanse kuns- en kultuurlandskap te verbreed, terwyl ons brûe bou tussen instellings wat ’n gedeelde verbintenis met storievertelling, erfenisbewaring en nasiebou het.”
Maja sê Pretoria bly ’n unieke stad met sy sterk internasionale profiel.
“Pretoria is ’n ongeëwenaarde stad met al die diplomatieke verteenwoordiging hier. Ons was geweldig beïndruk met die Voortrekkermonument. Een van die belangrikste dinge wat ons raakgesien het, is die instandhouding van die terrein. Ons wil graag by die bestuur leer hoe hulle hul geboue bewaar en oppas sodat die stories wat daarmee saamgaan, bly voortleef,” sê Maja.

Die Staatsteater het onlangs saam met die Suid-Afrikaanse Reserwebank en die metro begin werk aan projekte om die gebied rondom die teater op te knap en veiliger te maak.
“Ons sien reeds die vrug van hierdie herlewingsinisiatief in die toename in teatergangers na die middestad. Ons wil Afrikaanse teatergangers ook hiermee terugnooi na die Staatsteater,” sê Maja.
Volgens Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek, gaan die vennootskap oor veel meer as net die aanbied van produksies.
“Dit is ’n groot voorreg om die projek te kan aanpak. Ek dink daar is belangrike verhoudings wat met die jare tussen Afrikaanse gehore en die Staatsteater verlore gegaan het, en ons kan help om dit terug te bring. Dit is tyd dat ons weer teater toe gaan.”
De Jager sê die fokus sal aanvanklik wees om verskillende genres aan te bied om te bepaal wat die beste by gehore aanklank vind.
“Die groot ding gaan wees om te kyk watter genres gaan werk. Wat ons wil doen, is om ook musiek en komedie aan te bied totdat ons kan sien wat op ’n volhoubare manier werk.”
Hy beklemtoon dat die projek nie op kitsoplossings gegrond is nie.
“Dit gaan stappie vir stappie wees. Ons is dankbaar dat die Staatsteater bereid is om die pad saam met ons te stap. Mense probeer dikwels onvolhoubare projekte in die teaterwêreld van stapel te laat loop, maar ons wil eerder ’n proses volg, luister na wat gehore wil hê en dan produksies op groter skaal aanbied.”
’n Dinamiese Afrikaanse program word reeds ontwikkel. Hoogtepunte sluit onder meer die komedie My boetie se sussie se ou, die drama As die tuig skawe, die Afri-Duetfees, Reünie deur Frank Opperman, Klopjag se 25ste herdenkingskonsert, Spoegwolf-vertonings en die klassieke produksie, Kruis van die Liefde, in.
Die program sal afskop met As die tuig skawe, ’n drama wat vanjaar sy honderdste bestaansjaar vier.
Volgens regisseur Lara Lourens bied die stuk steeds verrassende relevansie vir moderne gehore.
“Ons doen ook ’n inleiding oor die dramaturg J.W. Grosskopf vir die stuk. In September 2026 sal die drama 100 jaar oud wees. Dit is die eerste gepubliseerde drama in Afrikaans. Om die storie relevant vir teatergangers te maak, moes ek dit heelwat moderniseer.”

Lourens sê die verhaal het vir haar sterk temas wat herinner aan klassieke literatuur.
“Die storie het vir my iets van die gevoel van Wuthering Heights en ek wil hierdie aspek as regisseur verder ondersoek.”
Volgens die vennote sal die samewerking nie net op verhoogproduksies fokus nie, maar ook op die algehele besoekerservaring, insluitend voorportaal-aktiwiteite, uitstallings, musiek en ander kulturele aanbiedinge.
“Vir albei organisasies gaan dit oor meer as kaartjieverkope,” sê De Jager. “Dit gaan oor die hervestiging van ’n kulturele belewenis in ’n besonderse teaterruimte, die versterking van gemeenskapsvertroue en die vestiging van die Staatsteater as ’n bestemming waar Afrikaanse kuns, musiek, drama en opera weer op wêreldklasvlak kan floreer.”
– Kliek hier om na ’n video te kyk waarin Sallas de Jager die ooreenkoms bespreek:
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook onsFacebook ,Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel
