News

Drie Pretoria-leerders se kreatiewe skryf en kameravaardighede beïndruk

Die ATKV-DigiToneel 2026 top-8 is bekend, met drie Pretoria-leerders onder die finaliste. Die kompetisie het oor verskeie rondes ontwikkel en fokus op die tema “Asem."

Drie leerders van Pretoria het die finale ronde van die ATKV-Digitoneel 2026-kompetisie bereik.

Die kultuurorganisasie het sy top-8 finaliste aangekondig ná ’n intensiewe beoordelingsproses.

Mercia Eksteen, kommunikasiebestuurder van die ATKV, verduidelik vanjaar se tema, Asem, het deelnemers uitgedaag om die subtiele emosies, stiltes en spanning tussen woorde te verken en dit deur filmiese spel vir die kamera oor te dra.

“Die beoordelaars het spesifiek gekyk na oorspronklikheid, tegniese uitvoering en die vermoë om ’n gehoor se aandag deurgaans te behou.”

Die agt produksies is deur mentors uitgelig vir die dinamiese aanbieding daarvan en die vermoë om spanning en karakterontwikkeling binne ’n kort filmformaat oor te dra.

Renier Pieterse van Hoërskool Garsfontein, Vian van Breda van Hoërskool Waterkloof en Zahné Durand van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria het elk ’n plek in die top-8 verower met hul produksies.

Pieterse se produksie, Aan die eenkant, Van Breda se Sideswipe en Durand se Suurstofdief het van meet af aan die beoordelaars se aandag getrek.

ATKV-DigiToneel is ’n nasionale digitale toneelkompetisie wat hoërskoolleerders uitdaag om hul eie monoloë van drie tot vyf minute te skryf, op te voer en self te verfilm.

Dié innoverende projek skuif die fokus van tradisionele verhoogtoneel na kontemporêre kameraspel en filmtegnieke.

Dit bied aan die jeug ’n platform om hul kreatiewe skryfwerk, spel en digitale vaardighede te slyp. Boonop kry deelnemers waardevolle mentorskap deur kundiges uit die vermaaklikheidsbedryf. Dit dien as ’n nasionale wegspringplank vir jong talent.

Die finaliste sal op 6 en 7 Julie na die stel van die TV-program, Gekies vir die Kollig, verwelkom word waar hulle hul mentors Bianca Flanders, Jacques Bessenger, Karli Heine en Liezl de Kock persoonlik sal ontmoet.

Hier sal hulle verdere opleiding ontvang in voorbereiding vir die finale ronde. Die eindbeoordeling sal deur Wilhelm van der Walt en Hannah Borthwick behartig word, met ’n kontantprys van R10 000 vir die wenner.

Die ander vyf ATKV-DigiToneel 2026-finaliste buite Pretoria is Anzelle Vorster en Markus Knop van Hoërskool Noordheuwel, George William Grové van HTS Witbank, Jana Enslin van Helpmekaar Kollege en Ruanco Ueckermann van Leeuwenhof Akademie.

Die publiek kan die kompetisie volg in die sesde seisoen van Gekies vir die Kollig, wat vanaf 6 Oktober op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai word.

Die reeks sal oor vier episodes die deelnemers se reis dokumenteer tot by die finale kroning van die DigiToneel-kampioen.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button