News

Moot kyk vorentoe ná opruiming naby Slothuispark

Die verwydering van informele nedersetters en rommel langs Slothuispark in Codonialaan gee inwoners nuwe hoop.

Die Moot-gemeenskap in die omgewing van die Slothuispark in Codonialaan kan met nuwe hoop vorentoe kyk nadat die metropolisie en die metro se Vaste Afvaldepartement op 26 Junie ’n gebied langs die park skoongemaak het waar informele nedersetters hul gevestig het.

Tydens dieselfde operasie is groot hoeveelhede rommel verwyder en is ’n gedeelte van die spruit langs die terrein ook skoongemaak – ’n stap wat volgens gemeenskapsleiers nie net die omgewing verfraai nie, maar ook veiligheid en gemeenskapstrots bevorder.

Die opruimings-aksie volg op jare se volgehoue pogings deur inwoners, sakelui, buurtorganisasies en vrywilligers om die Slothuispark-omgewing in ’n veilige gemeenskapsruimte te omskep.

DA-wyksraadslid Adriana Randall sê die sukses van die opruiming is die gevolg van verskeie rolspelers wat saamwerk om die Moot netjies en leefbaar te hou.

“Inderdaad is ons baie dankbaar vir die spanne van die metro se Vaste Afvaldepartement wat so getrou poog om die rommelbesoedeling in die Moot onder beheer te hou. Saam met Die Moot Projek en veral die besighede in die omgewing van Codonialaan, raak al hoe meer inwoners ook betrokke om die Moot ’n skoon en netjiese plek te maak,” sê Randall.

Sy het pertinent vir AFRIT bedank vir “hul reusepoging om ons parke en oop areas oop te sny en sodoende ’n veiliger, netjieser Moot te help verseker”.

Rommel van informele nedersetters is langs die Slothuispark verwyder. Foto: Verskaf

Volgens Randall wys die toenemende betrokkenheid van inwoners dat gemeenskapsamewerking die sleutel bly om openbare ruimtes te beskerm en te ontwikkel.

Die Moot Projek, wat reeds vir vier jaar lank gemeenskapsinisiatiewe in die gebied dryf, het ook die optrede van die metropolisie en die stad se afvalbestuurspan geloof.

Medestigter van Die Moot Projek, Johan Oberholster, sê die optrede stuur ’n belangrike boodskap uit dat openbare ruimtes beskerm moet word.

“Baie dankie aan die metropolisie en die metro se Afvalbestuursdepartement vir hul optrede deur die onwettige plakkers en die rommel wat hulle agtergelaat het uit hierdie gebied te verwyder. Julle bereidwilligheid om die wet toe te pas en ons openbare ruimtes te beskerm, gaan nie ongesiens verby nie,” sê Oberholster.

Hy glo elke positiewe aksie dra daartoe by om die Moot se gemeenskappe veiliger en skoner te maak vir almal wat daar woon.

“Ons besef hierdie is nie altyd maklike werk nie, en ons waardeer opreg die toewyding van elke beampte wat betrokke was. Ons doen ’n beroep op die metropolisie om aan te hou opstaan vir die wetsgehoorsame inwoners van Pretoria,” beklemtoon Oberholster.

Hy glo dit is nodig dat owerhede voortgaan om op te tree teen onwettige besetting, onwettige storting en ander aktiwiteite wat gemeenskappe bedreig.

“Die publiek moet kan sien dat die wet gehandhaaf word en dat die metro se Afvalbestuursdepartement sy rol speel om daarmee te help,” sê Oberholster.

Vir plaaslike sakeman Dewald Burger van DB Landscaping, wie se onderneming naby die hoek van Codonialaan en Nico Smithstraat geleë is, bring die opruiming groot verligting.

Burger was saam met Die Moot Projek een van die dryfkragte agter die ontwikkeling van die wandelroete langs die perimeter van die Slothuispark. Deur te help om die gelyk staproete aan te lê, het die projek se leiers, Burger se spanne en inwoners daartoe bygedra dat stappers, drawwers en fietsryers vandag veilig van die park se wandellaan sowel as die park self, gebruik kan maak.

Slothuismarkgangers kon op 26 Junie inkopies doen by die 11de Slothuismark se stalletjies. Die organiseerders beplan feesvieringe rondom die 12de mark wat in Julie angebied word. Foto: Elize parker

As eienaar van twee woonerwe in die omgewing glo Burger die skoongemaakte terrein sal ook ’n positiewe invloed op eiendomswaardes hê.

Hy meen die teenwoordigheid van informele nedersetters en die rommel wat oor tyd opgehoop het, het die aantrekkingskrag van die gebied benadeel en kommer onder inwoners en sakelui veroorsaak.

Burger sê daar was ook kommer dat die oop terrein uiteindelik as ’n onwettige minibustaxi-staanplek sou ontwikkel nadat taxi’s die gebied toenemend begin gebruik het. Volgens hom kan die opruimings-aksie help om dié moontlikheid te voorkom voordat dit permanent gevestig raak.

Hy glo verder die skoonmaak-aksie kan ’n groot impak hê op die bekamping van misdaad in die onmiddellike omgewing.

Volgens Burger het die terrein en die spruit mettertyd ’n ontmoetingsplek vir dwelmgebruikers en -handelaars geword.

Met die verwydering van die informele strukture, rommel en digte plantegroei word die gebied nou baie meer sigbaar, wat dit moeiliker maak vir onwettige aktiwiteite om ongesiens plaas te vind.

Sakelui in die omgewing van Codonialaan glo hul besighede sal baat vind met ‘n informele nedersetting se rommel en inwoners wat op 26 Junie deur die metropolisie verwyder is. Foto: Elize Parker

Die ontwikkeling van Slothuispark self dien reeds as voorbeeld van wat gemeenskapsamewerking kan vermag.

Die projek het sowat drie jaar gelede begin met die doel om ’n verwaarloosde park weer in ’n veilige en bruikbare gemeenskapsbate te omskep.

Sedertdien is staproetes ontwikkel, die terrein gereeld skoongemaak en die park omskep in ’n gewilde ontmoetingsplek vir inwoners. Die maandelikse Slothuisparkmark, wat in Julie reeds vir die 12de keer aangebied word, is nog ’n bewys van hoe die ruimte nuwe lewe gekry het.

Die mark lok maandeliks besoekers van regoor Pretoria en bied plaaslike entrepreneurs, kunstenaars en klein ondernemings die geleentheid om hul produkte te bemark.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button