Local newsNews

Unie vereer plaaslike opvoedkundiges vir hul bydraes

Die erkenning beklemtoon hul uitsonderlike bydraes tot onderwys, terwyl die Suid-Afrikaanse Onderwysers Unie sy 30ste bestaansjaar gevier het.

Drie opvoedkundiges van Pretoria en een hoëronderwysinstelling uit die hoofstad is onlangs tydens die Suid-Afrikaanse Onderwysunie (SAOU) se driejaarlikse kongres vir hul uitsonderlike bydraes tot die onderwys vereer.

Die kongres het ook saamgeval met die unie se 30ste bestaansjaar en is onder die tema ‘Drie Dekades, Een Visie’ aangebied.

Die unie het erkenning gegee aan individue en instellings wat volgens die organisasie meer doen as wat van hulle verwag word en deur diensbaarheid en waardegedrewe leierskap ’n verskil in die onderwys maak.

Die universiteit Akademia het ’n erepenning ontvang vir die bevordering van uitnemende onderwysopleiding.

Volgens Paul Sauer, uitvoerende beampte van die unie, is Akademia erken as ’n Christelike, klassieke en onafhanklike hoëronderwysinstelling wat doelbewus beywer vir die bevordering van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskap.

“Die instelling bied nie slegs akademiese opleiding nie, maar skep ook ’n studietuiste waar verstand en karakter gevorm word met die oog op ’n vrye, verantwoordelike en hoopvolle toekoms,” glo Sauer.

Die toekenning is deur Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia, ontvang.

Dr. Johan Smith van Centurion is deur die unie vereer vir sy uitsonderlike bydrae tot die onderwys. Smith is ’n bekende spreker wat sy werk op oud en jonk toespits. Sy grootste bydrae is volgens die unie in skole, waar hy skoolhoofde en personeel bemagtig en inspireer deur sy woorde en leiding.

Paul Sauer, dr. Johan Smith en dr. Louis Swanepoel Foto: Verskaf.

Sy NPO VitaAmp bereik weekliks duisende mense deur videoboodskappe en ander digitale materiaal.

Marna Jordaan is met ’n erepenning vir uitsonderlike bydrae en lewenslange diens aan die onderwys vereer. Sy het ’n uitgebreide onderwysloopbaan gehad en haar loopbaan afgesluit as hoof van die Afrikaanse Hoër Meisieskool Pretoria.

Sauer het haar beskryf as ’n gerespekteerde en beginselvaste onderwysleier met ’n besondere vermoë om akademiese uitnemendheid met menswaardigheid, dissipline en deernis te balanseer.

“Sy word ook erken as mentor, rolmodel en bron van stabiliteit wat voortdurend daarop gefokus het om talent in haar kollegas te ontwikkel,” het hy beklemtoon.

Lindi Gericke van Wonderboom-Suid Skool in die Moot, het die nasionale toekenning vir Uitnemendheid in Skoolondersteuningsdienste ontvang.

Gericke is ’n arbeidsterapeut en hoof-opvoedingsterapeut by die skool en beskik oor meer as 20 jaar se ervaring in onderwys, terapie en inklusiewe ondersteuningsdienste. Sy het in spesiale skole, voldiensskole, hoofstroomskole, distriksondersteuningsdienste en privaat praktyk gewerk.

Sy was voorheen ’n spesialis-opvoedingsterapeut en terapiekoördineerder in die Kaapse Wynland-onderwysdistrik, waar sy bygedra het tot strategiese beplanning, kapasiteitsbou en die ontwikkeling van programme vir leerders met leerhindernisse.

Haar belangstelling sluit outisme, sensoriese integrasie, trauma-ingeligte ondersteuning, gedragsintervensie en die versterking van inklusiewe onderwyspraktyke in.

Paul Sauer, Marthinus Visser (Akademia) en dr. Louis Swanepoel Foto: Verskaf.

Sauer het tydens die kongres gesê die tema bied ’n geleentheid om terug te kyk én vooruit te beplan.

“Na drie dekades, besin ons oor wat 30 jaar gelede die toekoms was. Dit is so maklik om net in die truspieël te wil kyk, terwyl die groot voorruit voor ons is en ons oor die volgende 30 jaar moet besin,” het hy gesê.

Sauer het gesê hul benadering oor die afgelope drie dekades was om dienende leierskap te volg.

“Ons het aktief aan elke proses deelgeneem om te verseker dat die gemeenskap versterk en uitgebou word. Die fokus was en is om die regte van ons lede te beskerm, maar ook om tot diens van die medemens te wees. Altyd deel van die oplossing en nie die probleem nie,” het hy bygevoeg.

Verskeie opvoedkundige rolspelers het die kongres van die Suid-Afrikaanse Onderwysers Unie bygewoon, wat deur die adjunkminister van Onderwys, Makgabo Reginah Mhaule (voor in die middel) toegespreek is. Foto: Verskaf.

Die driejaarlikse kongres is toegespreek deur die adjunkminister van Basiese Onderwys, dr. Makgabo Reginah Mhaule. Sy het die belang van sterker samewerking en konstruktiewe verhoudings in die onderwys beklemtoon.

Volgens Mhaule is die unie se 30ste bestaansjaar ’n belangrike mylpaal wat toon dat die organisasie vasgestaan het en dat een gedeelde visie samewerkende onderwys oor drie dekades gedra het.

Sy het gesê onderwys word nie in kantore gebou nie, maar op die sweet van onderwysers. Sy het ook daarop gewys dat die onderwysstelsel steeds uitdagings ervaar, waaronder oorvol klaskamers en finansiële beperkings.

Mhaule het afgesluit deur te sê dat die kongrestema nie net ’n terugblik op die verlede is nie, maar ook ’n oproep tot aksie vir die toekoms.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button