Liefde en hoop sentraal by kinderhuise se Big Cause-aand
Die Jakaranda en Louis Botha kinderhuise se Big Cause fondsinsamelingsaand by die Atterburyteater het oud-inwoners, paartjies en ondersteuners bymekaar gebring. Gesprekke oor liefde, verhoudings en groei is gevoer, terwyl jeugoptredes, projekte en ’n groot lotery die aand gevul het met hoop vir die toekoms.
Oud-inwoners van die Jakaranda en Louis Botha kinderhuise het onlangs met die uitvoerende hoof, Charlene Grobler, in gesprek getree tydens die jaarlikse fondsinsamelingsaand bekend as Big Cause, wat op 22 Junie by die Atterburyteater aangebied is.
Die geleentheid het oud-inwoners, ondersteuners, personeel en vriende van die kinderhuise bymekaar gebring vir ’n aand van vermaak, inspirasie en bewusmaking oor die werk wat in die organisasie gedoen word.
Die program het sterk op jeugdeelname gefokus, met kinderhuisinwoners wat ’n energieke dansvertoning gelewer het wat groot byval by die gehoor gevind het.
Die gehoor is ook vermaak deur die sanger Pieter Marcato, wat met sy optrede ’n feestelike atmosfeer geskep het en die aand se vermaakprogram ingelui het.
’n Hoogtepunt van die aand was ’n gesprek tussen Grobler en drie paartjies wat almal op verskillende maniere met die kinderhuise verbind is.
Die paartjies was Daphne en Ntando Ntuli, Kayly van Wyk en Driaan de Klerk, asook Viandre Marshall en Megan Maddox.

Grobler het die paartjies uitgevra oor hul ervarings van liefde en wat ’n gesonde verhouding vir hulle beteken.
Vir Grobler was die gesprek belangrik om ’n algemene wanpersepsie uit te daag, naamlik dat mense wat in kinderhuise grootword nie noodwendig stabiele en gelukkige verhoudings kan bou nie.
Sy het beklemtoon dat die gesprek juis ten doel gehad het om te wys dat hierdie siening nie waar is nie en dat daar baie sterk en gesonde verhoudings uit hierdie agtergrond kan groei.
Sy het veral gewys op die eienskappe wat sy by die drie paartjies opgemerk het, naamlik “wedersydse respek en die vermoë om aan te pas en saam te groei”.
Van Wyk het tydens die gesprek gesê dat haar verhouding vir haar ’n bron van veiligheid is.
Sy glo dat ‘liefde ’n besluit is’ en dat dit vir haar ’n maklike besluit geword het in haar verhouding.
Sy het bygevoeg dat dit vir haar belangrik is dat sy onvoorwaardelik aanvaar word, ‘baggasie en al’, en dat dit haar help om in die verhouding veilig en geborge te voel.
Ntando het op sy beurt beklemtoon dat geen verhouding sonder uitdagings is nie. Hy het verduidelik dat paartjies nie altyd alles reg gaan doen nie en dat daar beide moeilike en goeie tye in enige huwelik of verhouding sal wees.
Volgens hom het hy en sy eggenoot, Daphne, verskeie uitdagings ervaar en nie ’n tradisionele wittebroodfase gehad waar alles glad verloop het nie. Hierdie ervarings het hulle geleer om geduld te ontwikkel en om aan te pas by omstandighede.
“Soms ry mens in jou huwelik maar op ’n grondpad in ’n klein karretjie, maar jy kom by die bestemming uit as jy volhard,” het Ntando gesê.
Hy het bygevoeg dat hulle deur hul kerk en gereelde gesprekke, insluitend weeklikse tye van selfondersoek oor hul verhouding, leer om hul huwelikspad beter te navigeer.
Vir Daphne was dit ook belangrik om te verstaan dat mense voortdurend verander en ontwikkel. Sy het beklemtoon dat paartjies moet besef wie hulle en hul lewensmaats besig is om te word, en dat groei en ontwikkeling deel van enige verhouding is.

Tydens ’n meer persoonlike oomblik van die aand het Maddox ’n ervaring gedeel wat vir haar die betekenis van liefde en omgee uitgelig het.
Sy het vertel hoe sy ware liefde in aksie gesien het toe ’n familielid onlangs in die hospitaal was en haar verhoudingsmaat Viandre Marshall tydens besoeke gehelp het om die persoon gemakliker te laat voel en te ondersteun. Volgens Maddox het hierdie optrede vir haar uitgestaan as ’n voorbeeld van opregte sorg. Sy het gesê dat sy hom altyd daarvoor erkenning sal gee.
Tydens die aand is daar ook aandag gegee aan verskeie projekte wat deur die kinderhuise onderneem word.
Een van die projekte wat uitgelig is, is die groentetuin by die Jakaranda-kinderhuis. Die tuin is volledig geborg en word deur personeel en kinders in stand gehou.
Die groente wat daar verbou word, word na ’n sentrale verspreidingspunt gestuur vanwaar dit na verskillende huise binne die kinderhuisnetwerk versprei word.

Gaste kon ook elkeen van die produkte uit die tuin huis toe neem.
Nog ’n inisiatief wat tydens die aand beklemtoon is, is die projek wat die militêre veterane van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte Vereniging (SASFA), die Recces, vanjaar vir die eerste keer saam met die kinderhuise aanpak. Die kompetisie genaamd, Footprint Land Cruiser lotery, lok landwyd groot belangstelling.
Meer inligting oor die loterykompetisie hier: https://tinyurl.com/4deth2zt
Die Recces het die kinderhuise as begunstigdes van die projek aangeneem, met die doel om fondse vir die bedryf daarvan in te samel. Die kompetisie is in Maart van stapel gestuur en bied een gelukkige wenner die kans om ’n voertuig van R1.6-miljoen te wen, terwyl dit terselfdertyd finansiële ondersteuning vir die kinderhuis en die veterane genereer.

Roy Marais, ondervoorsitter van die SASFA, het verduidelik dat die organisasie tans ongeveer 500 lede het, bestaande uit voormalige operateurs en ondersteuningspersoneel.
Hy het gesê dat die besluit om by die kinderhuis betrokke te raak ontstaan het nadat hulle bewus geword het van die finansiële druk op kinderhuise en die vermindering in fondse.
Volgens hom het die groep besluit om betrokke te raak omdat hulle ’n verskil wou maak en ’n positiewe impak in die gemeenskap wou laat.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel
