Hercules GPF skep moed namate misdaad merkbaar afneem
Hoewel gemeenskapsleiers beklemtoon dat daar nog baie werk voorlê, is hulle dit eens dat die verbeterde verhouding tussen die polisie, die gemeenskapspolisiëringsforum, buurtwagte, private veiligheid en inwoners in die Wes-Moot en Pretoria-Wes 'n stewige grondslag lê vir volhoubare misdaadbekamping en die herstel van openbare vertroue in polisiëring.

Die positiewe gesindheid tussen die Hercules GPF, die nuwe polisiebestuur en ander rolspelers in Wes-Moot en Pretoria-Wes skep nuwe hoop vir inwoners van Hercules, Claremont en die groter Wes-Moot.
Ná jare waarin inwoners toenemend onder gewapende rooftogte, huisbrake, diefstal en ander geweldsmisdade gebuk gegaan het, dui die jongste misdaadstatistiek daarop dat die gesamentlike benadering besig is om resultate te lewer.
Volgens forumvoorsitter Ricky Louw is die verandering in houding en samewerking reeds sigbaar.
“Wat ek van hou, is dat die stasiebevelvoerder, luitenant-kolonel Sathi Moodley, goeie kontak met ons gemaak het. Hy het al die spinnerakke met die polisiebeamptes en -bestuur hier oopgevlek en die probleme een vir een aangespreek en ook gesorg dat die visuele polisiëring versterk word,” sê Louw.
Moodley was vantevore speurhoof by die Hercules-polisiestasie en tree op as stasiebevelvoerder sedert Desember 2025.
Sy voeg by dat die forum ook groot waardering het vir luitenant-kolonel Johannes Ramakgolela se rol binne die polisiestasie.
“Hy vat alles met ‘’ferm hand aan en sy oorsig word met baie dissipline gedoen. Waar dossiere voorheen weggeraak het, raak geen saaklêers meer weg nie. Hy sorg ook dat enige onenigheid onmiddellik opgelos word,” verduidelik Louw.
Volgens Louw het die nuwe bestuur ook ’n oopdeur-beleid teenoor die gemeenskap gevestig.
“Die polisiebestuur maak nou seker hulle het steeds direk met die publiek kontak. Die spreekwoord lui: ‘Waar daar rook is, brand daar ’n vuurtjie’. Ons kan nou as forum staatmaak dat die bestuur altyd gewillig is om ’n plan van aksie in te stel as ons wenke of klagtes deurstuur, soos met die beplande anti-immigrasie-optrede op 30 Junie toe daar vooraf met ons vergader is.”
Hoewel die stryd teen misdaad nog lank nie gewen is nie, meen Louw die gemeenskap beweeg in die regte rigting.
“Ons is dalk nog nie waar ons moet wees met die bekamping van misdaad nie, moontlik sowat 70% van waar ons moet wees, maar hierdie bestuur gee ons moed dat ons saam ’n pad vorentoe kan stap,” glo sy.
Raadslid van Wyk 1, Leon Kruyshaar, sê inwoners van Hercules, Claremont en omliggende gebiede in Wes-Moot beleef steeds die werklikheid van ernstige misdaad, maar glo die stasiebevelvoerder bring reeds ’n merkbare verandering.
Hy sê misdaad floreer waar hulpbronne beperk is en wetstoepassingsagentskappe onder druk verkeer, maar meen die aanstelling van die nuwe stasiebestuur was reeds ’n stap in die regte rigting.
“Gemeenskapsbelanghebbendes, inwoners en wetstoepassingsvennote het reeds ’n positiewe verandering in moraal en operasionele betrokkenheid opgemerk. Daar is ’n hernieude gevoel van toewyding en dringendheid om misdaadverwante uitdagings aan te spreek,” meen Kruyshaar.
Hy sê die bevelvoerder toon ’n duidelike vasberadenheid om misdaad te bekamp en samewerking tussen die polisie, die GPF, buurtwagte, private veiligheidsmaatskappye en inwoners te versterk.
“As verkose wyksraadslid het ek kolonel Moodley se positiewe houding teenoor samewerking en betrokkenheid van belanghebbendes as ’n welkome ontwikkeling ervaar.”
Die jongste SAPD-misdaadstatistiek vir die Hercules-polisiëringsgebied, wat Hercules en Claremont en die buurte van die Wes-Moot insluit, toon dat aangemelde misdaad gedurende die 2025/26-boekjaar met 15% afgeneem het.
Bykans 3 400 misdade is tussen April 2025 en Maart 2026 aangemeld. Geweldsmisdade het met net meer as 9% gedaal, terwyl eiendomsverwante misdaad met 20.2% afgeneem het.
Moordgevalle het meer as gehalveer en van 18 gevalle tot agt afgeneem. Huisbrake bly egter steeds een van die grootste uitdagings met meer as 270 aangemelde voorvalle.
Die enigste groot misdaadkategorie wat toegeneem het, is dronkbestuur, ’n styging wat grootliks toegeskryf word aan verskerpte wetstoepassingsoperasies.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
