Belofteweek lewer bykans R4-miljoen vir drie organisasies
’n Radiostasie se luisteraars het meer as 3 000 skenkingsbeloftes ter waarde van bykans R4- miljoen tydens die eerste belofteweek gemaak. Die fondse sal tussen Eleos, Hanna Charity en SAAI verdeel word om hul voortgesette gemeenskapswerk te ondersteun,
Meer as 3 000 skenkingsbeloftes ter waarde van bykans R4-miljoen is tydens GROOTfm 90.5 se eerste belofteweek van 2026 ontvang.
Die geld sal tussen die organisasies sonder winsbejag, Eleos, Hanna Charity en SAAI verdeel word nadat die finale inbetalings afgehandel is.
Die fondsinsamelingsveldtog het laat in Mei plaasgevind en die organisasies het in laat-Junie vertel wat die bydraes vir hulle beteken en hoe dit aangewend sal word.
Volgens die stasiewoordvoerder, Sonet Stofberg, het die radiostasie sy gewone programmering vir ’n week opgeskort om uitsluitlik op die drie organisasies en hul werk te fokus.
Eleos, Hanna Charity en SAAI verskaf hulp op uiteenlopende terreine, waaronder voedselvoorsiening, mediese ondersteuning, studiebeurse, skoolfondse, berading en noodhulp aan familieboere.
Hanna Charity werk onder meer in Elandspoort, Wolmer en Eastlynne met hul hoofkantoor in Pretoria-oos. Hullle ondersteun jaarliks meer as 5 000 individue en sowat 1 200 gesinne deur verskeie gemeenskapsprojekte.

Eleos, ’n organisasie in Pretoria-Wes, het verlede jaar meer as 27 000 etes aan individue voorsien, terwyl SAAI familieboere met finansiële en emosionele ondersteuning bystaan wanneer natuurrampe of ander gebeure hul oeste of vee vernietig. Hul hoofkantoor is in Pretoria-oos.
Die veldtog het ook verskeie persoonlike verhale uitgelig.
Een daarvan is van ’n vrou met gestremdhede wat reeds jare lank ondersteuning van Eleos ontvang.
Sy is nege jaar gelede deur luisteraars met ’n rystoel gehelp. Nadat haar bestaande toestel onlangs onbruikbaar geraak het, het barmhartige Samaritane spontaan meer as R65 000 ingesamel vir ’n nuwe roltoestel, wat sy intussen ontvang het.
Nog ’n verhaal is dié van ’n vrou wat deur Hanna Charity ondersteun word.
Nadat die vrou ’n nuwe huis deur die bydraes ontvang het, het sy op haar voordeur gaan lê omdat sy nog nooit tevore ’n deur gehad het nie.
Volgens die organisasie beklemtoon die verhaal die impak wat gemeenskapsbetrokkenheid op mense se lewens kan hê.
“Mense glo baie maal hulle is nie goed genoeg om goed te doen nie,” het Stofberg gesê. “En met so ’n week herinner ons elkeen dat goed-doen in hul DNS is, want dis wat Hy in Sy woord sê. Dat Hy ons baie goed geskape het.”
Volgens die radiostasie het skenkings uit alle dele van die gemeenskap gekom: van Sassa-pensioenarisse, kinders wat hul snoepie-, tandemuis- en sakgeld geskenk het, tot selfs troeteldiere se eienaars het by die veldtog betrokke geraak.

Eleos-stigter Tertia Morgan het die week beskryf as “die grootste, mees Geesvervulde week vol wonderwerke” wat die organisasie nog beleef het. Eleos beteken genade-in-aksie.
Sy het Pretoria-inwoners bedank vir die ‘wye oop deur’ wat geskep is om Eleos se werk aan ’n groter gehoor bekend te stel.
Iné Bester, operasionele bestuurder van SAAI, het gesê: “Baie dankie vir ’n ongelooflike week. Ons is bevoorreg om saam met Hanna Charity en Eleos hierdie reis te stap.”
Charlene Jackson, uitvoerende direkteur van Hanna Charity, het gesê die organisasie se harte is diep geraak deur die ondersteuning en die tasbare manier waarop hulle God se voorsiening beleef het.
“Ons het wonderwerke beleef wat net uit die Vader se hand kon kom. Dankie vir almal wat in ons missie glo en ons hande soveel sterker gemaak het. Julle passie, liefde en gehoorsaamheid aan God se roeping is sigbaar in alles wat julle doen,” het sy gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel