DA en Solidariteit daag Mettler-skorsing met dringende hof-aksies uit
Twee afsonderlike dringende hofaansoeke is teen die metro ingestel nadat die DA en Solidariteit die skorsing van stadsbestuurder Johann Mettler en die omstrede stemproses in die raad betwis. Albei voer aan dat die besluite onwettig was en dring aan op spoedige ingryping deur die hooggeregshof.

Twee dringende hofaansoeke is nou teen die metro aanhangig gemaak nadat die DA en Solidariteit afsonderlike regstappe ingestel het oor die skorsing van stadsbestuurder Johann Mettler en die omstrede raadsvergadering van 9 Julie.
Die DA het die Gautengse Afdeling van die Hooggeregshof op ’n dringende grondslag genader om die raadsbesluite tersyde te stel wat Mettler geskors het en wat die beweerde wangedrag van finansiële hoof Gareth Mnisi as ‘minder ernstig’ geklassifiseer het.
Solidariteit het intussen op 14 Julie hofstukke namens Mettler ingedien om sy skorsing te betwis.
Die DA voer aan dat Speaker, Mncedi Ndzwanana, tydens die spesiale raadsvergadering die stemming gemanipuleer het deur stemme af te trek en die uitslae om te keer om voorafbepaalde uitkomste te verseker.
Volgens die party het raadslede hul stemme uitgebring, waarna die Speaker doelbewus 13 stemme afgetrek het wat die gewenste uitslag van die ANC en EFF verhinder het.
Die DA sê 92 raadslede het ten gunste van Mettler se skorsing gestem, terwyl 95 daarteen was.

Die mosie om hom te skors het dus misluk.
Nadat 13 stemme egter van die teenstanders van die skorsing afgetrek is, is die uitslag volgens die DA verander na 82 en is Mettler geskors.
Die DA vra die hof om die uitslae wat deur die Speaker se beweerde onwettige aftrekking van stemme veroorsaak is, tersyde te stel en uitvoering te gee aan die stemme soos dit oorspronklik uitgebring is.
Alternatiewelik vra die party dat ’n nuwe raadsvergadering gehou word waar stemme behoorlik getel en aangeteken word.
Die party voer aan dat die saak dringend aangehoor moet word omdat Mettler vir drie maande uit sy amp verwyder is.
Die DA se Tshwane-koukusleier, Cilliers Brink, het gesê indien die aansoek nie slaag nie, sal onherstelbare skade aangerig word omdat dit volgens hom korrupte rolspelers drie maande gee om die metro se geld te plunder.

.
Brink het gesê daar is min ander regsmiddele beskikbaar om die saak reg te stel en daarom is die saak dringend.
Hy het gesê die waarnemende stadsbestuurder, Musa Khumalo, sal in die komende maande noukeurig deur die DA dopgehou word, veral ten opsigte van die toekenning van tenders.
“Die DA sal aansoeke bring om enige tendertoekennings gedurende dié tydperk te laat hersien,” het Brink bevestig.
Brink het verder gesê die gebeure vorm deel van afleidingsmanoeuvres deur die koalisie om die fokus weg te skuif van korrupsie rondom tenders, die verwydering van Rooiwal 5 en die Hammanskraal-waterkrisis.
Hy het ook skerp kritiek uitgespreek teen Michael Beaumont, die partyleier van ActionSA.
Brink het gesê dat Beaumont verkeerde inligting oor die stemproses versprei en die burgemeester, dr. Nasiphi Moya, beïnvloed het om van koers te verander tydens die aantygings teen Mettler.
Hy het gesê die proses het die metro gedestabiliseer. “Dit ’n klug dat die burgemeester voorgee dit is sake soos gewoonlik.”

Solidariteit het intussen sy eie regstappe teen die metro ingestel.
Die vakbond het gesê hy het sy regspan opdrag gegee om hofstukke te finaliseer wat die metro se besluit om Mettler te skors, betwis en beplan om die stukke op 14 Julie in te dien.
Anton van der Bijl, adjunkhoof uitvoerende beampte van Solidariteit, het gesê die organisasie het geen ander keuse as om die beweerde onreg teen Mettler in die hof te beveg nie. “Die reeks besluite wat deur die metro geneem is en wat uitgeloop het op Mettler se skorsing, is eenvoudig onwettig, irrasioneel en ongrondwetlik.”
Hy het gesê Solidariteit het die metro gewaarsku dat regstappe sou volg indien die besluit oor Mettler nie onmiddellik heroorweeg word nie.
“Ons waarskuwings het duidelik op dowe ore geval,” het Van der Bijl gesê.
Solidariteit beskou Mettler se skorsing en die metro se weiering om dié besluit om te keer as ’n polities-gemotiveerde stap en sê die organisasie is vol vertroue dat die beweerde onreg in die hof ontbloot sal word.
Die vakbond se bestuurshoof, Dirk Hermann, het gesê Mettler het ’n politieke speelbal geword.
“Ons is nie in die politiek nie en gaan nie politiek speel nie. Ons kyk na wat reg is. Sy skorsing was onregmatig en mag nie geïmplementeer word nie. Ons regsproses het begin.”
Hermann het gesê die regerende alliansie kan ’n politieke spel speel in aanloop tot die verkiesing, maar gewaarsku dat Solidariteit sy lid sal verdedig.
“Hulle gaan hulle vasloop as hulle ons lid in die spel te na kom. Hulle besigheid is politiek, ons besigheid is om onreg te beveg. Ons veg nooit onreg met die oog om te verloor nie.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
