News

Blesbok-substasie: Projek vir beveiliging oorweeg

Die opknapping van die Blesbok-substasie in Queenswood is in sy finale fase en behoort binnekort 'n meer betroubare elektrisiteitsnetwerk vir Wyk 84 te verseker. Intussen word 'n gemeenskapsopheffingsprojek oorweeg om die substasie teen vandalisme en diefstal te beskerm totdat permanente sekuriteit weer beskikbaar is.

Inwoners van Wyk 84 en omliggende gebiede is na herstelwerk aan die Blesbok-substasie nader aan ’n meer betroubare elektrisiteitsnetwerk, met die opknapping van die Blesbok 11kV sekondêre substasie wat sy finale fase bereik het.

Volgens die wykraadslid, Anru Meyer, is die grootste deel van die tegniese werk reeds afgehandel en word die laaste installasies en toetse tans voltooi voordat die substasie in werking gestel kan word.

“Die panele en beskerming vir die toerusting is ook geïnstalleer. Die finale installasies word gedoen om alles te konnekteer wat gekoppel moet word en wat geaard moet word. Toetse word deurlopig gedoen om seker te maak die konneksies en installasies is reg. Die gasalarm is ook reeds geïnstalleer,” verduidelik Meyer.

Hoewel daar nog geen vaste datum vir die amptelike ingebruikneming is nie, het hy bevestig die kontrakteur en toerustingverskaffers werk hard om die projek af te handel.

Hy wys egter daarop dat die beveiliging van die substasie ná voltooiing ’n belangrike uitdaging bly.

“Sekuriteit van die perseel bly wel ’n bekommernis met die tenderprobleme rakende die metro se sekuriteitskontrak. Dit is waarom ’n gemeenskapsopheffingsprojek oorweeg moet word met die hulp van die metro se Departement vir Gemeenskapveiligheid om seker te maak die bate is beveilig tot die stadsraad weer die nodige sekuriteit kan bied,” sê hy.

Meyer sê die opknapping van die substasie is die hoogtepunt van jare se pogings deur inwoners en die DA om die verswakkende infrastruktuur onder die stadsraad se aandag te bring.

“Dit is ’n baie groot mylpaal wat bereik is. Die nuwe toerusting is van so ’n aard dat dit ook foute sal voorkom deur die netwerk te beskerm en op hierdie manier dan ook langdurige kragonderbrekings verminder,” glo Meyer.

Die pad vorentoe vir kragverbruikers wat afhanklik is van die Blesbok-substasie sal egter, volgens Meyer, nie by die herstelwerk aan die substasie eindig nie.

“Die volgende stap is om die stadsraad te oortuig dat die kabelnetwerk vervang moet word weens so baie laswerk op die netwerk. Die herstelde substasie sal reeds ’n groot rol speel om die netwerk te beskerm,” sê hy.

“Kenners in die wyk glo egter die stadsraad moet ook die vervanging van die kabelnetwerk oorweeg weens die feit dat die hoeveelheid laswerk die netwerk steeds onstabiel maak en ladingsprobleme veroorsaak. Elke las is ’n swak plek en ’n punt wat die vloei van elektrisiteit belemmer.”

Hy sê die vervanging van die kabelnetwerk is reeds op die metro se geïntegreerde ontwikkelingsplan geplaas en dat druk op die stadsraad sal voortgaan om ook dié deel van die infrastruktuur te vervang.

Volgens Meyer het vroeëre petisies hoofsaaklik op die herstel van die Koedoespoort-substasie gefokus, maar Blesbok-substasie is later ook ingesluit omdat talle onderbrekings daar ontstaan het.

Sedertdien is veranderings ook by Koedoespoort aangebring. “Dit is waarom daar ook nie meer ’n groter netwerkonderbreking is wanneer ’n fout plaasvind in Queenswood nie.”

Hy sê gesprekke oor die moontlike stigting van ’n Blesbok-substasie gemeenskapsopheffingsprojek is reeds aan die gang.

“Ons is in gesprekke met organisasies en instansies asook besighede in die omgewing, om die registrasie en bedryf van ’n gemeenskapsopheffingsprojek te oorweeg om die beskerming van die substasie te verseker en so onnodige vandalisme te voorkom. Die aansoekproses is maklik. Ons glo dit sal verwelkom word deur die stadsraad aangesien die burgemeester op ’n geleentheid ook gevra het dat die gemeenskap hulp verleen,” sê Meyer.

Die opknapping van die substasie vorm deel van die metro se breër program om die elektrisiteitsnetwerk te moderniseer en die stabiliteit van die kragtoevoer te verbeter.

Teen die einde van Junie het die burgermeesterskomiteelid vir Nutsdienste, Frans Boshielo, tydens ’n oorsigbesoek gesê die projek het uitstekende vordering gemaak en dat die substasie bykans gereed is vir sy amptelike opening en oorhandiging.

Volgens Boshielo sal die opgegradeerde substasie, sodra dit volledig in gebruik geneem is, ’n beduidende bydrae lewer tot ’n meer stabiele en betroubare elektrisiteitsvoorsiening vir omliggende gemeenskappe en toekomstige ontwikkeling in die gebied ondersteun.

Hy het bygevoeg dat betroubare elektrisiteitsinfrastruktuur ’n hoeksteen van volhoubare dienslewering en ekonomiese groei bly.

Die opknappingsprojek sluit onder meer in die vervanging van verouderde skakeltuig met moderne tegnologie, die installering van nuwe beskermings- en beheerstelsels, verbeterde sekuriteitsbeligting en algemene opgradering van die substasie.

Die nuwe tegnologie sal help om elektriese foute beter te isoleer sodat slegs die betrokke deel van die netwerk geraak word, terwyl die res van die netwerk in werking bly.

Die verbeterings sal na verwagting inwoners van Queenswood, Koedoespoort Nywerheidsgebied, Elandsfontein en omliggende woonbuurte bevoordeel en behoort volgens Meyer meer as die helfte van die plaaslike netwerkonstabiliteit en gereelde kragonderbrekings aan te spreek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button