News

Polisie soek na sindikaat wat watermeters teiken

Watermeterdiefstal neem skerp toe in die Moot, waar die polisie nou 'n vermeende sindikaat ondersoek nadat talle sake aangemeld is. Gemeenskapsleiers waarsku dat inwoners sonder water gelaat word, terwyl die metro en die polisie 'n beroep doen dat elke diefstal onmiddellik aangemeld moet word.

Die diefstal van watermeters neem kommerwekkend toe in die Moot, met die polisie wat nou ’n sindikaat ondersoek nadat ’n groot aantal sake by verskeie polisiekantore aangemeld is.

Inwoners in die Wes-Moot, Daspoort, Mountain View, Hermanstad, Pretoria Tuine, Villieria en Môregloed sowel as in Gezina word veral geraak, terwyl die misdaad ook in ander dele van die Moot toeneem.

Volgens gemeenskapsverteenwoordigers het die werkswyse van die diewe verander.

Waar metaalkopermeters voorheen gedeeltelik gestroop is deur slegs die meterkop te verwyder vir die skrootmetaal, word die volledige ou metaalwatermeter deesdae uitgehaal en vir sowat R70 aan skrootwerwe verkoop.

Selfs plastiekwatermeters wat die vorige meters vervang het word nou geteiken omdat dit ’n klein metaal-kalibreringskomponent bevat wat vir ongeveer R15 verkoop kan word.

Aspirant DA-kandidaat Elsje Truter sê inwoners raak toenemend moedeloos oor die voortdurende diefstalle.

Sy doen ’n beroep op inwoners om aan te hou om sake by die polisie aan te meld.

“Dit is belangrik dat inwoners sake oopmaak om die hande van die polisie te sterk in die opspoor van die sindikaat,” glo Truter.

Polisiewoordvoerder adjudant-offisier Marinda Austin het bevestig dat daar ’n toename in watermeterdiefstal is.

“Ons moedig die gemeenskap aan om vorendag te kom met enige inligting oor die watermeterdiewe, asook waar dit verkoop word,” versoek Austin.

Volgens Austin doen die polisie tans opvolgwerk oor verdagtes wat reeds in die verlede vir soortgelyke misdade in hegtenis geneem is en word veiligheidsmaatskappye en gemeenskapsveiligheidstrukture ook oor die toename ingelig.

Volgens gemeenskapsverteenwoordigers word watermeters en selfs sekere plastiekwatermeters nou deur vermeende sindikate geteiken vir die metaalonderdele wat aan skrootwerwe verkoop kan word. Inwoners word versoek om verdagte optrede onmiddellik by die polisie aan te meld. Foto: Verskaf.

DA-raadslid Adriana Randall sê haar wyk word ook deur hierdie georganiseerde misdaad geraak.

“Ons sit beslis met ’n sindikaat wat ou watermeters nou teiken, veral in Villieria en ’n paar in Môregloed. Ek het die saak met die metro se groephoof vir die Department van Water en Sanitasie, Tiyani Sambo, opgeneem,” sê Randall.

“Met die nuwe finansiële jaar moet daar indringend werk gemaak word om hierdie ou meters te vervang. Nie net lok dit kriminele elemente nie, maar plaas die diefstal finansiële druk op die metro om met elke diefstal spanne uit te stuur om meters te vervang. Om nie van die inwoners se ongerief te praat nie,” sê sy.

Sambo sê gebiede waar die meeste diefstalle voorkom, word as prioriteit vir vervanging geïdentifiseer.

“Daar is gebiede waar hierdie uitdagings deurlopend voorkom. Ons bepaal hoeveel watermeters geraak is en plaas daardie gebiede hoog op die prioriteitslys vir vervanging. Ons stuur kontrakteurs so gou moontlik na die gebiede wat geraak word. Die meters is reeds vir vervanging aangewys en ek sal die proses monitor,” beklemtoon Sambo.

VF Plus-raadslid Mari Joubert sê haar wyk in die Moot is ook swaar getref, veral gedurende die eerste week van Julie en die naweek van 11 en 12 Julie.

Sy sê water het uit oop pype in verskeie strate, onder meer 24ste en 25ste lane, gespuit nadat meters gesteel is.

“Wesenlik is dit dieselfde probleem as met die kragkabeldiefstalle in Nico Smith [straat]. Inwoners het dus geen dienslewering nie en geen water nie. Dit is nogal iets om te aanskou as die water oral oor die buurt uitspuit waar die watermeters was.”

Volgens Joubert dui die gekoördineerde aard van die voorvalle daarop dat sindikate verantwoordelik is.

Sy het ook die stad se amptenare en kontrakteurs geloof nadat verskeie gesteelde meters op 12 Julie binne enkele ure vervang is.

Watermeterdiefstal laat inwoners gereeld sonder water en veroorsaak groot waterverliese wanneer oop pype ná die diefstal onbeheerd uitspuit. Die metro sê gesteelde meters word as prioriteit vir vervanging hanteer nadat ‘n polisiesaak aangemeld is. Foto: Verskaf

Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê inwoners moet eers ’n polisiesaak open en daarna die metro kontak sodat ’n vervangingsversoek geregistreer kan word.

Volgens hom is die mikpunt dat gesteelde watermeters binne 48 uur vervang word. Hy doen ook ’n beroep op inwoners om enige verdagte bewegings van voertuie of voetgangers naby munisipale infrastruktuur onmiddellik by wetstoepassingsowerhede aan te meld om verdere diefstalle te help voorkom.

Gemeenskapsleiers moedig inwoners aan om hul watermeters gereeld na te gaan vir tekens van peutery, verdagte aktiwiteite onmiddellik aan te meld en inligting met buurtwagte en gemeenskapspolisiëringsforums te deel om die sindikate vas te trek.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button