Virginia Lee postuum met Melomaan-toekenning vereer
Die legendariese Suid-Afrikaanse sangeres Virginia Lee se musiek het opnuut oor generasies heen weerklink tydens ’n emosionele huldeblykkonsert in Pretoria. Haar stiefseun, Clive Bruce, het ’n postume Melomaan-toekenning namens haar ontvang, terwyl kunstenaars en gehoorlede haar onvergeetlike musiek en blywende nalatenskap gevier het.
Die legendariese Suid-Afrikaanse sangeres Virginia Lee is op 12 Julie postuum met ’n Melomaan-eerbewys vereer tydens die Onthou jy nog? Virginia Lee Huldeblyk-konsert by die AfriForum Teater in Pretoria.
Die eerbewys is namens Melomaan Talent oorhandig aan Lee se stiefseun, sanger Clive Bruce.
Die konsert is aangebied ter ere van Lee wat in 1990 aan kanker oorlede is. Die produksie is saamgestel en gekoördineer deur Lee Bruwer van Waverley en die sangers Yolandi Verster en Theonette Vogt.
Louwrens Pretorius, stigter van die Melomaan-musiekpryse, het tydens die geleentheid hulde aan die Suid-Afrikaanse ikoon gebring.
“Haar liedjies leef voort in almal se harte en breek grense tussen generasies af. Kyk hoe heerlik het almal vanaand saamgesing,” sê Pretorius.


Die gehoor het spontaan op die musiek gereageer, met sommige mense wat ’n oop ruimte in die teater gebruik het om op van Lee se bekende liedjies te wals.
Bruce het van sy gewildste treffers, waaronder Sally Sunshine, gesing en aangedaan ’n staande ovasie van die gehoor ontvang.
Hy het ook herinneringe gedeel aan die jare toe Lee hom aangemoedig het om sy eie musiekloopbaan te begin en uit te brei.
“Tot in daardie stadium was ek ’n gangbare kitaarspeler,” sê Bruce.
Lee se tweede eggenoot, Lea Bergman, was Bruce se pa.

Beskrywing: Twee mans met hoede

Bruce het later ook One Last Kiss en ’n Red River Rosie-duet saam met Verster gesing.
Die huldeblyk het Lee se musiekloopbaan en nalatenskap oor verskeie dekades gevier.
Virginia Lee is op 27 Junie 1927 as Virginia de Jager in die destydse Port Elizabeth gebore. Sy het haar loopbaan as sangeres in haar eerste eggenoot, Johnny Lee, se orkes begin. Die twee is later geskei.
Lee was een van Suid-Afrika se gewildste ligtemusieksangeresse van die 1950’s, 1960’s en 1970’s. Sy het bekendheid verwerf met treffers soos Vaarwel my lief, Ek sal jou nooit vergeet nie, Jy is my liefling, Twee Witte Duifies en Groen Koringlande.
Sy was ook ’n baanbreker in die SA musiekbedryf. Lee was die eerste SA vroulike sangeres wat ’n Goue Plaat ontvang het en het uiteindelik meer as 800 liedjies in meer as 16 tale opgeneem.
Sy was ook die eerste plaaslike kunstenaar wie se musiek oorsee vrygestel is en het Suid-Afrika op internasionale sangfeeste verteenwoordig.

Benewens haar sangloopbaan was Lee ’n liriekskrywer, komponis, danseres, aktrise en musiekdirekteur.
Verster se stem het reg laat geskied aan talle van Lee se gewilde liedjies. Vogt se vertolking van veral 10 000 Myl het uitgestaan, terwyl die gesamentlike optrede van die twee kunstenaars saam met die bekende sanger en ATKV-toekenningwenner Chris Coetzer met die liedjie Seeman die gehoor se harte gesteel het.
Verster het ook ’n spesiale lied opgedra aan die Pretoria-egpaar, Amanda en Sarel du Plessis, wat op 14 Julie hul 47ste huweliksherdenking gevier het. Sarel is die stigter van die webwerf Feeste.net, wat musiek, kunstenaars en feeste bevorder.
Die aand het ook ’n literêre element bevat. Pierce van Tonder het sy splinternuwe digbundel, Binnedenke se Buitelyne, by die vertoning beskikbaar gestel en self kopieë onderteken.
Die produksie het verder ’n vyfstuk-orkes, agtergrondsangers en dansers van Danzwrx Dance Studio ingesluit.
Die sweepslaners Jaco en Marcus Coetzee, het ook met ’n gloei-in-die-donker-sweepvertoning die gehoor verras en die swepe laat klap op die Mooifontein-lirieklyn: “Die sweep het geklap en die wawiele draai.”
Die tjellis Floris Hodobet, ’n tjellospeler van Roemenië, was ook deel van die vertoning as lid van die energieke Virginia Lee Tribute Band en het treffende solowerk gelewer.
– Kliek hier om die musikante en dansers te sien tydens die huldeblykkonsert.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter enInstagram en TikTok en WhatsApp Channel

