Centurion-student gereed vir skynhof
Vir Irene-inwoner, Martinique Mulder, is die geleentheid om aan 'n internasionale skynhofkompetisie deel te neem, die resultaat van deeglike voorbereiding, volgehoue akademiese toewyding en die vermoë om kalm en oortuigend onder druk te presteer.
’n 23-jarige derdejaar-LLB-student van Centurion, sal Suid-Afrika op die verhoog verteenwoordig wanneer sy van 26 Julie tot 2 Augustus aan die gesogte Christof Heyns Afrika Skynhofkompetisie in Abidjan, Côte d’Ivoire, deelneem.
Martinique Mulder, ’n student van Emeris, sal saam met Amaria Mahomed, ’n derdejaar-LLB-student van Emeris Durban-Noord, aan die kompetisie deelneem.
Die twee studente is deur die universiteit se Skynhofvereniging hiervoor voorberei.
Die vereniging is slegs ’n jaar gelede gestig en hul deelname aan die kompetisie verteenwoordig ’n belangrike mylpaal vir die jong vereniging.
Die kompetisie word beskou as een van die mees gesogte en invloedryke studenteregskompetisies in Afrika.
Die kompetisie bring van die kontinent se beste regstudente van vooraanstaande universiteite byeen. Dit bied aan deelnemers die geleentheid om komplekse menseregtekwessies te bestudeer, gevorderde regspleitvaardighede te ontwikkel en voor vooraanstaande regters, akademici en regskenners te argumenteer in ’n skynhof.
Vir Mulder is die kompetisie egter veel meer as net ’n akademiese uitdaging.
Sy sien ook uit om met studente uit verskillende Afrika-lande te skakel en insig te verkry in die uiteenlopende maniere waarop internasionale menseregtewetgewing binne verskillende lande geïnterpreteer en toegepas word.
“Om met medestudente uit verskillende regsgebiede regoor Afrika te skakel, bied ’n onskatbare geleentheid om unieke insigte te verkry in hoe die internasionale menseregtewetgewing uitgedaag word,” beklemtoon sy.
Buiten die tegniese aspekte van regstelsels, sien sy veral daarna uit om haar netwerk uit te brei.
“Om verhoudings te bou met toekomstige kollegas wat ’n vurige verbintenis tot geregtigheid en menseregte deel, is na my mening absoluut noodsaaklik vir die ontwikkeling van ’n meer verenigde en doeltreffende regstoekoms op die vasteland. Hierdie bande sal nie net my professionele netwerk verbreed nie, maar ook my begrip van Afrika se regspraktyk verryk,” glo Mulder.
Haar voorbereiding vir die kompetisie is ondersteun deur Tapiwa Mhuru, die universiteit se nasionale skynhofafrigter, en ’n regslektor by die Pretoria-kampus.
Om vir die kompetisie gekies te word, moes Mulder en die ander kandidate ’n streng keuringsproses deurgaan.
Die proses het hul kennis van regspraak en hofprosedure, asook hul vermoë om komplekse regsargumente bondig en oortuigend te verwoord, getoets.
Volgens Mulder het Mhuru die keuringsproses doelbewus so gestruktureer dat dit die druk van ’n werklike hofsaak nageboots het.
“Ons afrigter en voorsittende regter, Mhuru, het ’n buitengewoon streng standaard gehandhaaf en ons kennis van regspraak en hofprosedure, asook ons vermoë om komplekse argumente bondig te verwoord, noukeurig ondersoek,” sê sy.
Sy sê Mhuru het doelbewus die intense druk van ’n werklike hofsaal nageboots. Hy het hulle ook met indringende vrae en onverwagte scenario’s uitgedaag.
“Ek glo my sukses was uiteindelik gegrond op ’n kombinasie van noukeurige navorsing, wat ’n deeglike begrip van die regsraamwerk verseker het. En my vermoë om kalm te bly en my argumente met oortuiging te verwoord, selfs wanneer ek aan streng kruisondervraging onderwerp is,” glo Mulder.
Die kompetisie sal van die deelnemers vereis om deeglike navorsing te doen, komplekse regsargumente te ontwikkel en hul standpunte met oortuiging onder druk te verdedig.
Dit bied ook aan Mulder ’n platform om haar belangstelling in menseregte verder te ontwikkel en blootstelling te kry aan die verskillende regsbenaderings en perspektiewe wat binne Afrika bestaan.
Vir haar is die geleentheid die resultaat van deeglike voorbereiding, volgehoue akademiese toewyding en die vermoë om kalm en oortuigend onder druk te presteer.
Dit bied haar terselfdertyd die geleentheid om haar regskennis te verdiep, haar vaardighede as regspleiter te ontwikkel en deel te wees van ’n breër gesprek oor menseregte en die toekoms van die reg op die Afrika-kontinent.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
