Local newsNews

Skole begin kwartaal met vrae oor geld, toelatings en veiligheid

Die Gautengse Departement van Onderwys is toenemend onder druk om antwoorde te verskaf oor uitstaande skooltoelaes, 2027-toelatingsdatums en sekerheid oor strukturele veiligheid word geëis.

Met die nuwe skoolkwartaal wat nader kom, word Gauteng se onderwysstelsel deur drie dringende probleme geteister: openbare skole wag op uitstaande skooltoelaes en duisende ouers wag steeds op ’n 2027-toelatingskedule.

Daar is ook onsekerheid oor wanneer alle skole se strukturele veiligheid behoorlik geïnspekteer sal word.

Die drie kwessies plaas skole, onderwysers, leerders en ouers onder toenemende druk en laat ernstige vrae ontstaan oor die Gautengse Departement van Onderwys se vermoë om basiese finansiering, toelatings en infrastruktuurveiligheid betyds en doeltreffend te bestuur.

Die Solidariteit Onderwysernetwerk het nou dringende betaling van uitstaande skooltoelaes geëis, terwyl die DA die departement daarvan beskuldig dat dit opnuut ’n toelatingskrisis in die provinsie in die gesig staar en nie voldoende sekerheid oor die strukturele veiligheid van openbare skole kan bied nie.

Minstens vier Pretoria-skole word volgens Solidariteit deur die uitstaande skooltoelaes geraak.

Die netwerk het aan Lebogang Maile, Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, sowel as die hoof van die Gautengse Departement van Onderwys geskryf oor die departement se versuim om verskuldigde skooltoelaes betyds en ten volle aan openbare skole te betaal.

Die organisasie eis die onmiddellike betaling van alle uitstaande bedrae en wil hê die departement moet teen 17 Julie skriftelik bevestig wanneer die betalings gemaak sal word en watter stappe ingestel sal word om verdere vertragings te voorkom.

Volgens Solidariteit is die nie-betaling van skooltoelaes veel meer as bloot ’n administratiewe tekortkoming.

“Onderwysers werk reeds onder geweldige druk weens oorvol klaskamers, toenemende administratiewe eise, gedragsuitdagings en emosionele spanning. Wanneer skole boonop nie die finansiering ontvang waarop hulle geregtig is nie, word onderwysers gedwing om nóg meer met nóg minder te doen,” sê Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk.

Volgens Botha plaas die gebrek aan tydige finansiering onder meer kontrakposte en ondersteuningspersoneel in gedrang, verswak akademiese en administratiewe ondersteuning en beperk skole se vermoë om noodsaaklike leer- en onderrigmateriaal aan te koop.

Skole sukkel ook om instandhouding, munisipale rekeninge en ander basiese bedryfskoste met enige sekerheid te bestuur.

“Die rekening vir die departement se versuim beland uiteindelik in die klaskamer. Onderwysers moet steeds stabiliteit, dissipline en akademiese vordering handhaaf, selfs wanneer die strukture en hulpbronne waarop ’n funksionele skoolstelsel behoort te steun, begin verbrokkel,” sê Botha.

Volgens Botha hou die situasie ook ernstige gevolge vir alle personeel in. Baie skole stel bykomende personeel aan wat uit hul eie hulpbronne of begrotings gefinansier word. Sonder die nodige skooltoelaes word die behoud van hierdie personeel toenemend onseker.

“Skole kan nie verantwoordelik beplan, kontrakte bestuur of personeel volhoubaar vergoed indien die departement nie sy finansiële en wetlike verpligtinge betyds nakom nie. Hierdie onsekerheid ontwrig personeelbeplanning, plaas werknemers in ’n kwesbare posisie en bedreig die voortsetting van gehalteonderrig,” sê Botha.

Intussen het die DA gewaarsku dat duisende Gautengse ouers steeds in die duister is oor die 2027-toelatingsproses vir graad 1- en graad 8-leerders.

Sergio Isa Dos Santos, die DA se skaduminister vir onderwys, sê die Gautengse Departement van Onderwys het, nog nie die datums vir die opening en sluiting van die 2027-aanlyntoelatingsproses bekendgemaak nie.

Die departement het ook nog nie die datums vir die hantering van laat-aansoeke aangekondig nie.

Volgens Dos Santos skep die gebrek aan kommunikasie en die vertraging onsekerheid en dreig dit om nog ’n toelatingskrisis in Gauteng te veroorsaak.

“Ouers word elke jaar aangemoedig om vroeg aansoek te doen om hul kinders se plekke te verseker, maar die departement wat die toelatingsproses bestuur, versuim om selfs die basiese toelatingskedule betyds bekend te maak,” sê hy.

Volgens hom het duisende leerders tydens vanjaar se toelatingsiklus eers ná die heropening van skole plek gekry, met sommige wat in wese ’n hele kwartaal se waardevolle onderrigtyd verloor het.

Hy waarsku dat die tyd om plasings vir 2027 te finaliseer al hoe korter word.

Hy meen die vertraging het ook vrae laat ontstaan oor die departement se bewering dat daar genoeg kapasiteit in die provinsie is.

Volgens die inligting wat aan die Onderwysportefeuljekomitee verskaf is, was daar in Januarie 53 234 graad 1- en graad 8-plekke beskikbaar in Gauteng, hoewel talle skole steeds ernstig oorvol is.

Dos Santos sê ouers verdien sekerheid en genoeg tyd om vir uniforms, vervoer, skryfbehoeftes en ander skooluitgawes voor te berei.

Terwyl finansiering en toelatings onseker bly, is daar ook ernstige vrae oor die veiligheid van die skole waarin Gauteng se leerders onderrig word.

Michael Waters, DA-lid van die Provinsiale Wetgewer. Foto: Facebook

Michael Waters, die DA se Gautengse woordvoerder oor onderwys, sê ouers bly onseker of hul kinders in struktureel veilige skole leer.

Volgens Waters kan die Gautengse provinsiale regering steeds nie sê wanneer elke openbare skool die strukturele veiligheids-inspeksies sal ondergaan wat ingevolge die regulasies met betrekking tot Minimum Eenvormige Norme en Standaarde vir Openbare Skoolinfrastruktuur vereis word nie.

Die DA het vrae aan die regering gestel: oor die aantal skole wat geïnspekteer is, strukturele gebreke wat geïdentifiseer is en dringende ingryping. Die party wil ook weet op watter datum daar aan die wetlike vereiste voldoen sal word dat elke openbare skool minstens een keer elke vyf jaar geïnspekteer moet word.

Volgens Waters het die LUR herhaaldelik aangedui dat die inligting steeds ‘geverifieer’ word en eers bekendgemaak sal word nadat dié proses afgehandel is.

Hy sê die provinsiale regering moet weet in watter toestand die geboue is waarin byna twee miljoen Gautengse leerders die grootste deel van hul dag deurbring.

“Indien die departement nie kan sê wanneer elke skool geïnspekteer sal word nie, kan dit volgens hom nie geloofwaardig aan ouers verseker dat leerders in struktureel veilige skole onderrig word nie.

Vrae is aan die Gautengse Departement van Onderwys gestel maar geen antwoorde is teen tyd van publikasie ontvang nie.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook onsFacebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button