News

Diereredder (74) steeds hard aan die werk

Drie jaar se geduld, gebed en volharding het uiteindelik vrugte afgewerp toe Celia van Zyl van Pretoria Dog Rescue and Rehabilitation Sanctuary en vrywilliger Madeleine Greeff die rondloperhond Noointjie en haar agt baba hondjies veilig kon red. Haar verhaal weerspieël die daaglikse opofferings van 'n organisasie wat elke dag vir honde in nood veg.

Toe niemand anders haar kon vang nie, het geloof en volharding vir Noointjie huis toe gebring.

So sê diereredder Celia van Zyl (74), stigter van Pretoria Dog Rescue and Rehabilitation Sanctuary.

Vir Van Zyl en ’n vrywilliger by die organisasie, Madeleine Greeff, was die redding van die optelhond in Valhalla vandeesmaand ’n buitengewone ervaring.

Die organisasie se jongste suksesverhaal het drie jaar geneem voordat dit uiteindelik ’n gelukkige einde bereik het.

Noointjie, ’n verskrikte rondloperhond, het die reddingspan vir drie jaar lank telkens in Valhalla ontglip.

Die hond het haar tuisgemaak in die omgewing van Hendrik Potgieterweg, oorkant en naby die leërkollege, waar sy agt klein hondjies al vantevore in die lewe gebring en onlangs weer agt hondjies gehad het.

Die span wou haar graag vang, steriliseer en ’n goeie tuiste vir haar vind.

Van Zyl sê sy en Greeff het nooit moed opgegee nie.

“Ek het so gebid hiervoor want ek kon nie meer toesien dat sy in die koue en so verhonger, boonop nog na agt klein hondjies moes omsien nie.”

Die deurbraak het gekom nadat sy ’n vanghok by Zambi Life Rescue geleen het.

Aanvanklik het Noointjie egter geweier om die hok binne te gaan, al was daar kos daarin.

“Ons het die vanghok neergesit met ’n stukkie eetgoed daarin, maar sy wou nie ingaan nie. Toe kry ons die idee om haar klein hondjies aan die ander kant van die hok in ’n mandjie te sit. Toe stap sy in en die klapdeurtjie val agter haar toe. Sy was aanvanklik baie kwaad.”

Danksy dié plan kon Noointjie en haar kleintjies, wat toe reeds gered was en veilig by die organisasie se hokke skuiling gekry het, veilig herenig word.

Van Zyl sê haar eggenoot, Eric, staan al jare lank onwrikbaar langs haar tydens sulke en enige ander reddingsoperasies.

Haar liefde vir diere het in 2012 begin toe sy die eerste keer ’n rondloperhond in Valhalla gered het. Die hond het telkens die bosse ingevlug, maar sy het uiteindelik daarin geslaag om ’n leiriem oor sy kop te kry.

Sedertdien red sy honde en katte. Sy en die span van die dierewelsynsorganisasie het na raming reeds sowat 100 honde, sedert 2013, gered.

Sy sê daar kom altyd ’n oomblik wanneer ’n dier besluit om jou te vertrou. “Dan kan jy jou hand op sy kop sit en verder ’n pad met hom stap.”

Pretoria Dog Rescue and Rehabilitation Sanctuary het in 2025 sy huidige naam gekry. Die organisasie maak gebruik van die voormalige militêre hondeskool se geriewe in Valhalla.

Noointjie rus saam met van haar baba hondjies nadat hulle veilig gered en herenig is. Die verskrikte rondloperhond het reddingswerkers drie jaar lank ontwyk voordat sy uiteindelik met behulp van ‘n vanghok gevang is. Foto: Elize Parker

Tans word meer as 60 honde daar versorg, terwyl nog 20 honde in pleegsorg is en vir aanneming beskikbaar is.

Van Zyl sê sy sou nie die werk sonder haar ondersteuningspan kon doen nie.

Sy gee besondere erkenning aan Reinette le Roux en Ina Schutte, bestuurder van die hondegeriewe, vir hul onbaatsugtige ondersteuning.

Vir Van Zyl is geloof ’n vaste deel van elke reddingspoging.

Sy sê sy bid oor elke soektog voordat dit begin.

Hoewel sy sterk pro-lewe is, glo sy dat genadedood soms die mees menswaardige besluit is wanneer ’n dier ernstige lyding ervaar en geen lewenskwaliteit meer het nie.

Op die terrein is daar ook ’n hondebegraafplaas waar geliefde diere hul laaste rusplek vind.

Van Zyl glo verder dat talle honde met gedragsprobleme deur behoorlike rehabilitasie gehelp kan word.

Sy werk graag saam met gedragsafrigters omdat sy glo elke dier verdien nog ’n kans.

Wanneer sy met bang of aggressiewe honde werk, gebruik sy geduld eerder as dwang.

Sy raai mense aan om onder sulke omstandighede in ’n rustige stemtoon met die hond te praat, direkte uitdagende oogkontak te vermy, gereeld hul oë te knip sodat die hond nie bedreig voel nie, en lekkernye te gebruik om vertroue te bou.

Volgens haar help dit ook dikwels om te gaan sit tydens die kennismaking sodat die hond uit eie keuse nader beweeg.

Van Zyl sê een van die grootste vreugdes is wanneer mense wat honde van hul organisasie aangeneem het, steeds die organisasie ondersteun.

Die vanghok waarmee Noointjie ná drie jaar se vergeefse pogings uiteindelik veilig gevang is. Die reddingspan het haar baba hondjies aan die ander kant van die hok geplaas, waarna sy instinktief ingestap het. Só kon die skugter rondloperhond eindelik gered en veilig met haar kleintjies herenig word. Foto: Verskaf
Celia van Zyl (regs), stigter van Pretoria Dog Rescue and Rehabilitation Sanctuary, saam met Ina Schutte, bestuurder van die hondegeriewe. Die twee speel ‘n sleutelrol in die versorging en redding van verwaarloosde en rondloperhonde. Hulle werk daagliks saam om diere ‘n tweede kans op ‘n veilige, liefdevolle tuiste te gee. Foto: Elize Parker.

Die skuiling hou ook gereeld verlore honde aan terwyl daar na hul eienaars gesoek word.

Die dierewelsynsorganisasie staan tans, volgens Van Zyl, ook deurlopend voor groot uitdagings om die diere gevoed te hou.
Die organisasie doen ’n dringende beroep op die publiek om droë- en blikkieshondekos te skenk.

Verskeie fondsinsamelingsprojekte is reeds aan die gang. Op Nelson Mandeladag (18 Julie) word ondersteuners aangemoedig om R67 aan die organisasie te skenk of 67 minute as vrywilliger in te spring.

Pedalling for PDR is ‘n fondsinsamelingsprojek ten bate van Pretoria Dog Rescue and Rehabilitation Sanctuary. Tydens die inisiatief beplan spanlede om in Maart 2027 meer as 1 000 kilometer van Bloemfontein na Blouberg in Kaapstad fiets te ry. Kaart: Verskaf.

Nog ’n groot projek is Pedalling for PDR, waartydens spanlede van Pretoria beplan om in Maart 2027 meer as 1 000 kilometer van Bloemfontein na Blouberg in Kaapstad fiets te ry om bewusmaking en fondse vir die organisasie in te samel.

– Steun die fietsryers se Back n Buddy hier: https://www.backabuddy.co.za/campaign/pedaling-for-pdr-support-the-ride

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter enInstagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button