Nasionale inisiatief om veterane en hul families te ondersteun
Kolonel Roy Marais, ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte Assosiasie, sê diens aan Suid-Afrika eindig nie wanneer ’n soldaat sy uniform uittrek nie. Die organisasie se program wil veterane, hul gesinne en gemeenskappe deur volhoubare ondersteuning help soos onlangs met die Jakaranda-kinderhuis in die Moot.
Diens aan Suid-Afrika eindig nie wanneer ’n soldaat die uniform uittrek nie, sê kolonel Roy Marais, ondervoorsitter van die Suid-Afrikaanse Spesiale Magte Assosiasie (SASMA).
Marais het die boodskap oorgedra in die bekendstelling van SASMA se Footprint™-program, ’n nasionale inisiatief wat daarop gemik is om die welstand van militêre veterane, hul gesinne en die gemeenskappe waarin hulle leef, te verbeter.
Volgens Marais is die program gebou op die beginsel dat die waardes wat tydens militêre diens ontwikkel word, ook ná diens tot voordeel van die samelewing aangewend kan word.
“Die boodskap is dat diens aan Suid-Afrika nie eindig wanneer ’n soldaat nie meer aktiewe diens doen nie. Veterane bly leiers, mentors en dienaars van hul gemeenskappe,” sê Marais.
Die program is volgens Marais meer as ’n fondsinsamelingsveldtog.
Dit is daarop gemik om volhoubare ondersteuningsprojekte vir militêre veterane, hul gesinne en gemeenskappe te skep.
Die program fokus onder meer op veteraanwelsyn, gesondheidsorg, noodleniging, vaardigheidsontwikkeling, werkskepping, jeugleierskap, erfenisbewaring en gemeenskapsontwikkeling.
Marais sê die doel is om nie net onmiddellike nood te verlig nie, maar ook om langtermynoplossings te skep wat veterane en hul gesinne in staat stel om groter ekonomiese en sosiale stabiliteit te bereik.
Fondse sal volgens hom aangewend word vir onder meer noodleniging, mediese en opvoedkundige ondersteuning, rehabilitasie, geestesgesondheid, voedselhulp, vaardigheidsontwikkeling en entrepreneurontwikkelingsprogramme.
Die program het ook ’n breër gemeenskapsfokus en sluit jeugontwikkelingsprogramme in.
“Die hoofdoel van die program is om volhoubare finansiële ondersteuningsprojekte te skep vir militêre veterane, hul gesinne en die gemeenskappe wat deur ons inisiatiewe bedien word,” sê hy.
Volgens Marais is ondersteuning aan voormalige Spesiale Magte-operateurs en ondersteuningspersoneel belangrik omdat baie veterane ná hul diens met gesondheidsprobleme, werkloosheid of finansiële druk te kampe kan hê.
Die ondersteuning is egter volgens hom nie bloot ’n erkenning van voormalige diens nie.
“Dit is ook ’n manier om die ervaring, dissipline en leierskap van veterane weer tot voordeel van hul gesinne en gemeenskappe aan te wend,” beklemtoon hy.
Oud-operateurs en ondersteuningspersoneel sal ook as mentors, adviseurs en ambassadeurs optree.
Fondsinsamelingsprojekte wat tans ondersteun kan word: Toyota Land Cruiser Conqueror Kombo-lotery en die Golf-uitdaagreeks.
Besighede kan volgens him ook hul korporatiewe maatskaplike verantwoordelikheidsprogramme met fondsinsamelingsprojekte verbind om ’n meetbare sosiale impak te skep.
Samewerking met kinderhuise soos onlangs met Jakaranda-kinerhuis in die Moot, welsynsorganisasies en ander gemeenskapsprojekte vorm ook deel van die program.
“Volhoubare verandering word bereik wanneer organisasies saamwerk,” sê Marais.
Volgens hom is die doel om ’n nalatenskap te bou wat verder strek as diegene wat tans deur die program ondersteun word.
Suid-Afrikaners word uitgenooi om saam verantwoordelikheid te neem vir die ondersteuning van veterane en die bou van sterker gemeenskappe.
“Wanneer ons vandag goeie en positiewe voetspore agter laat, skep ons en ons nageslagte ’n beter toekoms vir môre,” sê hy.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
