Skoolsubsidiekrisis lei tot regsdruk en ondersoek-eise
Die uitstaande subsidiebetalings plaas duisende skole in Gauteng onder toenemende finansiële dru. Intussen neem die druk op die departement toe met die vooruitsig van moontlike regsaksie deur Solidariteit, 'n ondersoek deur die Openbare Beskermer soos deur die DA versoek en volgehoue oproepe dat die provinsie se befondsingsmodel vir openbare skole hersien word.

Die Gautengse Departement van Onderwys se erkenning aan Rekord dat 2 165 openbare skole slegs gedeeltelike subsidiebetalings ontvang het weens kontantvloeiprobleme, het nuwe vrae laat ontstaan oor die finansiële bestuur van die departement.
Die kwessie het reeds gelei tot dreigende regsoptrede deur Solidariteit, ’n versoek dat die Openbare Beskermer dit ondersoek deur die DA en hernieude kritiek van AfriForum oor die provinsie se skoolbefondsingsmodel.
Die departement se woordvoerder, Onwabile Lubhelwana, het bevestig dat die skole net gedeeltelike betalings ontvang het omdat die Gautengse Provinsiale Tesourie se beskikbare kontantvloei nie voldoende is om alle verskuldigde oordragte te dek nie.
Hy het gesê betalingsvooruitskattings is opgestel op grond van die maandelikse beskikbare kontant en dat skole na verwagting die finale betaling van die eerste paaiement teen 30 September sal ontvang.
“Die departement sal subsidiebetalings prioritiseer binne die maandelikse kontantvloeiraamwerk, met betalings wat geskeduleer word volgens beskikbare kontanttoewysings van die Gautengse Provinsiale Tesourie.”
Lubhelwana het daarop gewys dat die skooltoewysing vir leer- en onderrigmateriaal, instandhouding en basiese bedryfskoste bedoel is en nie vir die betaling van personeel se salarisse gebruik mag word nie.
Die erkenning volg nadat opposisiepartye, onderwysorganisasies en skoolgemeenskappe reeds maande lank gewaarsku het dat vertraagde betalings skole se daaglikse funksionering ernstig benadeel.
Die DA se skadu-minister vir onderwys in Gauteng, Sergio Isa dos Santos, sê die departement se jongste erkenning bevestig presies waaroor die party reeds in Mei gewaarsku het.
“Destyds het ons uitgewys dat die versuim skole onder geweldige finansiële druk sou plaas.”
Volgens Dos Santos weerspreek die departement se erkenning ook vorige versekering dat die geld beskikbaar was.
“Dit is teenstrydig met LUR Lebogang Maile se bewering dat die geld beskikbaar was en dat slegs administratiewe vertragings betalings in Junie vertraag het.”
Hy sê die besluit om skole eers teen 30 September ten volle te betaal, plaas hulle vir maande lank onder onnodige finansiële druk.
“Om skole te sê hulle moet hul uitgawes herprioritiseer is ’n klap in die gesig vir skole wat desperaat finansiering benodig,” meen Dos Santos.
Volgens hom dui die situasie op swak finansiële beplanning eerder as bloot ’n kontantvloeiprobleem.
Hy sê die saak sal na die Openbare Beskermer verwys word om vas te stel of die departement aan die Nasionale Norme en Standaarde vir Skoolbefondsing voldoen het en of daar enige finansiële wanbestuur was.
Solidariteit se Onderwysernetwerk het intussen sy kommer in ’n formele skrywe aan die Gautengse LUR vir Onderwys, Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, Lebogang Maile, asook die departementshoof, uitgespreek.
Die organisasie voer aan dat die versuim om subsidies betyds uit te betaal veel verder strek as ’n administratiewe probleem en die funksionering van skole, die werksomstandighede van onderwysers en die gehalte van onderrig direk raak.
Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, sê die organisasie het geen antwoord op sy brief van 17 Julie ontvang nie.
“Daar is net ’n dawerende stilte. Ons sal met regsadviseurs in die derde week van Julie ontmoet om moontlike regsaksie ingevolge die wetgewing rondom die statutêre plig van die staat oor onderwys te beplan,” bevestig Botha.
Hy sê Solidariteit is teleurgesteld oor die gebrek aan reaksie.
“Ons sal kyk watter remedies ons kan volg. Ons is werklik teleurgesteld.”
Botha sê hy het reeds met onderwysers gepraat wat nog nie hul salarisse ontvang het nie.
AfriForum sê die jongste krisis beklemtoon ook die noodsaaklikheid dat die huidige kwintielstelsel van klassifikasie van skole hersien word.
Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, sê die bestaande model weerspieël nie meer die finansiële werklikheid van baie skole nie.
“Ons voel die hele kwintielstelsel moet hersien word, want dit is definitief ’n uitgediende stelsel. Sogenaamde kwintiel 4- en 5-skole wat as finansieel sterk beskou word, is baie dikwels nie meer so sterk nie.”
Kwintiel 4- en kwintiel 5-skole is openbare skole wat volgens die staat se stelsel as die mees welgestelde skole in hul gemeenskappe geklassifiseer word. Die stelsel bepaal hoeveel staatsubsidie ’n skool ontvang.
Volgens Bailey is talle ouers in hierdie skole nie meer in staat om skoolfondse te betaal nie, terwyl baie van hierdie skole selfs voedingskemas bedryf omdat kinders honger skool toe kom. “Tog word hulle as welvarend beskou en ontvang hulle ’n bitter klein bedrag per kind.”
Sy wys daarop dat betalings reeds verlede jaar laat was en sê daar was vroeër waarskuwings oor moontlike begrotings- en kontantvloeiprobleme.
“Daar is destyds gesê daar is probleme met die begroting en kontantvloei, maar dit is ontken. Nou blyk dit die probleme was wel daar.”
Volgens Bailey dui die huidige situasie op swak begrotingsbestuur en beplanning.
“Die departement verwag nou dat ouers hierdie tekortkominge moet absorbeer totdat daar weer kontantvloei is. Dit is verregaande,” glo sy.
Bailey meen skole wat reeds ’n groot deel van hul eie befondsing genereer, behoort groter outonomie te ontvang.
“As skole ’n groot persentasie van hul befondsing self in die hande kry, behoort hulle ook baie meer outonomie te hê en behoort die Gautengse Departement van Onderwys baie minder inspraak te hê as wat ons tans sien.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
