News

Pretoria se Wayne Hayden benoem vir 'n Afri-Indie as Beste Liedjieskrywer

Wayne Hayden wil luisteraars weer verlief maak op die krag van Afrikaans.

Pretoriase kunstenaar Wayne Hayden is vanjaar benoem vir ’n Afri Indie Musiektoekenning: Beste Liedjieskrywer.

Die Afri Indie Toekennings vereer onafhanklike kunstenaars – hetsy musikante, liedjieskrywers, vervaardigers en videograwe – wat ’n betekenisvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf lewer. Dit is deur Rea le Roux in 2019 vir die eerste keer aangebied, en groei elke jaar van krag tot krag.

Hayden skryf beide in Afrikaans en Engels, maar sê hy is veral lief vir sy taal en het ’n passie vir die bevordering daarvan. Hy put inspirasie uit die abstraksie van skryfkuns, asook in die vreugde, nostalgie en melankolie wat dit kan meebring.

“Kyk om ’n kort storie nou lank te maak: inspirasie het maar sy eie tyd en hy wag nie vir jou nie. Wanneer hy bel, laat jy hom nie na stempos oorgaan nie. Daarom is dit absoluut voltyds, maar voltyds binne die raamwerk van kreatiwiteit,” sê Hayden.

Hy glo vas dat musiek hom gekies het en nie andersom nie. “Dit is maar ’n leefstyl waaruit jy nie wil ontsnap nie. Dis huis, en wie wil nou nie by die huis wees nie?”

Hayden sê hy wil graag mense meer verlief laat raak op die dieper kant van die Afrikaanse taal. “Daar is soveel ongelooflike mooi woorde, geskiedenis, sêgoed en idiome in Afrikaans en mense ken omtrent nie 90% daarvan nie.”

Sy musiek is beskikbaar op alle digitale stroomplatforms, insluitend YouTube Music, Amazon Music en Spotify. Hy is ook aktief op sosiale media platforms soos Facebook, TikTok, Instagram en YouTube.

Die toekenningsaand vind plaas op Dinsdag, 25 Augustus by die AfriForum Teater in Pretoria.

Luister hier na Meisie van Magalieskruin:

Luister hier na Padkaart van my lewe:

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button