Meer as 800 dansers en sangers van sewe laerskole en een hoërskool het aan die Rhythm Rumble Revue-kompetisie op 24 Julie in Pretoria-oos deelgeneem.
Gesamentlik is 12 revue-items van sowat 15 minute elk in ’n vertoning van meer as drie uur aangebied.
Die kompetisie is deur Laerskool Garsfontein aangebied en het skole van verskeie dele van Gauteng en Noordwes byeengebring.
Deelnemende skole was Garsfontein, Baanbreker van Boksburg, Doringkloof en Hennopspark, Olienpark (Brits), Rooihuiskraal en Tygerpoort laerskole en Hoërskool Hans Moore van Benoni.

Die revue-items het ’n wye verskeidenheid temas en musiekstyle uitgebeeld. Van die produksies het gewissel van Blank Canvas-revue, waarin dansers ’n simboliese skilderdoek met kleur ingevul het, tot Sugar Rush, ’n energieke vertoning met liedjies wat rondom die tema van lekkers en soetgoed saamgestel is.
Rewind en Dance-revue het die ontwikkeling van musiek vanaf die 1950’s uitgebeeld, terwyl I Have a Dream-revue die moontlikheid van die verwesenliking van ideale verbeeld het. Between the Sand and the Night Wind-revue het weer oorspronklike choreografie en sang in ’n woestyntema aangebied.

Volgens Janelle Carstens, organiseerder van die geleentheid en kultuurhoof van Laerskool Garsfontein, was dit haar droom om só ’n geleentheid te skep.
Sy wou ’n platform bied vir jong dansers, sangers en vermaakkunstenaars waar hulle hul talente kan ontwikkel en ten toon stel, terwyl choreograwe en samestellers van revueprogramme ook hul kreatiwiteit kan uitleef.
“As ons net aan almal die geleentheid kan bied wat talent het op kultuurgebied om ook te kan ontwikkel op ’n platform waar hulle kan presteer, sal ek so gelukkig wees,” verduidelik Carstens.
Die beoordelaars het wenners in junior en senior afdelings aangewys.

In die junior afdeling het Laerskool Rooihuiskraal se Sugar Rush-revue item die eerste plek behaal, gevolg deur Laerskool Garsfontein se Blank Canvas revue item en Laerskool Hennopspark se Playful Parade of Possibilities.

In die senior afdeling het Laerskool Hennopspark se Empire Energy se revue item met die louere weggestap. Laerskool Baanbreker se Unstoppable revue item het die tweede plek behaal, terwyl Laerskool Tygerpoort se CodeRed revue item derde geëindig het.

Die People’s Choice-trofee, geborg deur PNA Colour Your World, is aan Laerskool Garsfontein se revue item I Have a Dream toegeken. Hierie produksie het veral uitgestaan vir die solosangvertonings van Micayla van Heerden en Luwan Gouws.

Meer as 800 dansers en sangers van agt skole het tydens die Rhythm Rumble revuekompetisie in Pretoria 12 kleurvolle revue-items aangebied. Laerskool Rooihuiskraal en Laerskool Hennopspark het met die top-eerbewyse weggestap, terwyl Laerskool Garsfontein die People’s Choice-trofee gewen het.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel
