Laat-subsidies plaas Moot-kinderhuise onder druk
Organisasies sonder winsbejag soos twee kinderhuise in die Moot waarsku dat hulle steeds dienste moet lewer ondanks voortgesette oudits, verminderde subsidies en 'n beweerde kontantvloeiprobleem wat betalings vertraag.
Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling se vertraagde subsidiebetalings plaas weer eens groot druk op organisasies sonder winsbejag (OSW’s) wat noodsaaklike dienste aan kwesbare inwoners lewer.
Dit kom te midde van voortgesette oudits en ’n beweerde kontantvloeiprobleem by die Gautengse Tesourie, terwyl organisasies sê hulle moet steeds hul dienste sonder onderbreking lewer.
Verskeie OSW’s wag reeds weke vir hul subsidiebetalings, wat volgens hulle ’n direkte impak op dienslewering, personeel en fondsinsameling het.
Die DA het intussen die situasie gekritiseer en sê die vertragings benadeel beide organisasies en die mense wat op hul dienste staatmaak.
Charlene Grobler, uitvoerende hoof van Jakaranda- en Louis Botha-kinderhuise in die Moot, sê haar organisasie wag reeds ’n maand vir die jongste subsidiebetaling.
Sy wys daarop dat die organisasie gereeld geoudit word en onlangs weer die Ouditeur-Generaal se oudit met vlieënde vaandels geslaag het.
Volgens Grobler het die organisasie ook twee weke gelede ’n finansiële oudit voltooi en op 24 Julie ’n 100%-maatskaplike oudit ondergaan en geslaag. “Die oudits gaan voort en ons moet aanhou diens lewer, maar die geld word nie betaal nie.”

Sy sê die finansiële druk word verder vererger nadat subsidies reeds met 10% verminder is van 35% na 25%.
“Dit het ’n reuse-impak op albei kinderhuise omdat daar reeds vir talle jare besnoeiings was. Nou probeer ons net opvang en deur gewone bemarking en fondsinsameling die tekort aanvul.”
Volgens Grobler word die organisasie gedwing om voortdurend die gemeenskap vir hulp te vra. “Ons vra geld by maatskappye, kerke, individue en instansies. Dit raak regtig moeilik en dit voel of bemarking en fondsinsameling al hoe meer soos bedel is.”
Sy sê die grootste prioriteit bly die kinders. “Die kinders moet eet, warm bly en skool toe gaan.”
Die vertragings raak egter ook personeel. “Ons het sowat 130 personeellede met hul gesinne wat op hierdie salarisse staatmaak. Dit plaas geweldige druk op ons personeel en [beïnvloed die breër] gemeenskap. Mense begin wonder of hulle hul werk gaan verloor.”
Grobler sê die organisasie volg die saak voortdurend met die departement op. “Die maatskaplike afdeling ontvang glo geen inligting van die provinsiale kantoor nie. Die finansiële afdeling het aangedui dat daar ’n kontantvloeiprobleem by die Gautengse Tesourie is.”
Sy sê hoewel vertragings met subsidies nie nuut is nie, bly dit ’n ernstige uitdaging.
“Vir 21 jaar het ons nog nooit betyds subsidie ontvang nie. Veral hierdie tyd van die jaar is moeilik omdat die nuwe finansiële jaar in April begin en daar altyd vertragings is met diensleweringskontrakte en die eerste kwartaal se betalings,” benadruk sy.
Volgens haar behoort die departement se interne finansiële probleme nie op OSW’s afgewentel te word nie. “Of hulle nou ’n kontantvloeiprobleem het of nie, dit is nie veronderstel om ons probleem te wees nie.”
Sy beweer die organisasie is meegedeel dat die kinderhuise gereeld laaste betaal word omdat dit die grootste organisasie op die betalingslys is. “Dit is nie reg of vir my aanvaarbaar nie.”
Grobler waarsku dat die uiteindelike slagoffers die kinders is. “Die departement praat van ons kinders as begunstigdes, maar hulle trek nie voordeel as ons noodgedwonge dienste moet afskaal nie. Alles kos geld.”
Sy sê hoewel die organisasie reserwefondse opgebou het, kan dit nie onbepaald gebruik word om laatbetalings te oorbrug nie.
“Dit is hartseer dat ’n mens ’n reserwefonds moet hê vir departementele wanbetaling. Dit is verskriklik stresvol,” benadruk sy.
Volgens haar sal die organisasie steeds alles moontlik doen om voort te gaan. “Ons is trots op die diens wat ons aan kinders lewer asook op ons kinders en ons gaan nie ophou probeer om vir hulle die beste diens te lewer nie.”

Refiloe N’tsekhe, DA-lid van die Gautengse Wetgewer, sê die party is baie teleurgesteld oor die jongste betalingsvertragings.
“Ons is baie teleurgesteld omdat ons reeds gewaarsku het oor hoe hierdie vertragings OSW’s en hul begunstigdes benadeel. OSW’s kan nie personeel aanstel voordat hulle befonds word nie. Met vertragings verloor hulle personeel en sukkel hulle finansieel, wat dienslewering in gedrang bring.”
Sy sê die DA het reeds talle klagtes van OSW’s regoor Gauteng ontvang.
Oor die beweerde kontantvloeiprobleem sê N’tsekhe dit strook nie met die feit dat die begroting reeds goedgekeur is nie.
“As dit ’n kontantvloeiprobleem is, maak dit nie sin nie omdat die departement uit ’n goedgekeurde begroting funksioneer. Dit lyk of departemente nie met mekaar praat nie en daar is teenstrydighede. Maatskaplike Ontwikkeling sê hulle wag vir geld, maar die wetgewer het reeds die begroting goedgekeur,” verduidelik sy.
Volgens haar is die impak op kwesbare inwoners ernstig. “Die kwesbaarste inwoners word die swaarste getref.”
N’tsekhe sê die DA het reeds vrae in die Gautengse Wetgewer ingedien om vas te stel waarom goedgekeurde begrotings nie betyds uitbetaal word nie en waarom kontantvloei as rede vir die vertragings aangevoer word.
Die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling het bevestig dat dit nie betalings aan OSW’s gestaak het nie. Ongeveer R200-miljoen se diensvlakooreenkomsbetalings (SLA’s) vir die tweede kwartaal is reeds uitbetaal, en betalings duur voort.
Waar beweer word dat sommige organisasies maande lank nie betalings ontvang het nie, is dit waarskynlik die gevolg van nakomingsuitdagings aan die betrokke organisasies se kant.
“Ons verwelkom besonderhede van enige [OSW’s] wat beweer dat hulle vir maande nie betaal is nie, sodat die departement die aangeleentheid kan ondersoek,” sê Motsamai Mothlaolwa, woordvoerder van die Gautengse Departement van Maatskaplike Ontwikkeling.
Volgens hom word sulke betalings in paaiemente uitbetaal, en nie as eenmalige enkelbedrae nie, en is in ooreenstemming met Tesourie-regulasies en die standaardpraktyk in die provinsie.
Hy verduidelik sommige organisasies wag dus tans op betalings binne die huidige uitbetalingsiklus. “Dit beteken nie dat betalings teruggehou word of dat fondse uitgeput is nie,” verduidelik Mothlaolwa.
Hy sê ook dis onwaar dat die Departement die Gauteng-regering se Tesourie genader het weens probleme met die betalings. “Daar is geen sodanige probleme nie, buiten die normale kontrole- en verifikasieprosesse wat met betalings gepaard gaan.”
– Donasies aan die Jakaranda en Louis Botha-kinderhuise kan hier gemaak word: https://louisbothachildren.co.za/
https://jacarandachildren.co.za/
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
