News

Liefde en liriek dra Wentelbaan na benoemings

Die sangpaartjie Wentelbaan maak opslae met twee Afri Indie-benoemings vir hul emosiebelaaide enkelsnit 'Ons' – ’n lied oor verlange, kwesbaarheid en die keuse om steeds liefde te kies.

Wentelbaan is die sangduo Doane Smith en Carlien Coetzer se verhoognaam. Hulle is onlangs vir twee Afri Indie-toekennings benoem: Beste Duo Enkelsnit (Volwasse Kontemporêr) en Beste Pop Enkelsnit vir hul liedjie Ons.

Ons is ’n Afrikaanse vertaling deur Franciska Botha van ’n Engelse liedjie uit die pen van Andrew Mitchley, ’n direkteur by David Gresham Records. Hulle is ook toegelaat om hul eie ‘wentelbaan spin’ op die liedjie te sit.

“[Dit] is ’n lied wat uit eerlikheid en emosie gebore is. Dit gaan oor die spanning tussen nabyheid en afstand – daardie gevoel wanneer jy intens na iemand verlang, maar voel asof alles tussen julle so ver weg is soos die son, die maan en die sterre,” vertel die sangpaar.

“Die lied neem jou op ’n reis deur herinneringe, gebreekte beelde en drome wat verkrummel, maar ook deur ’n diep, onwrikbare liefde wat bly veg, al is dit kwesbaar. Dit is nie ’n lied oor wegkruip of opgee nie; dit is ’n lied oor eerlik staan in jou emosies, val, opstaan en steeds liefde kies.”

Hulle tree voltyds op: saam as Wentelbaan asook hul eie solo loopbane. Hulle is ’n paartjie en trou volgende jaar.

Smith vertel hy het deeltyds gesing, maar na ’n motorongeluk het hy besluit om sy voltydse werk te los in 2019 en voltyds te sing.

“Musiek is vir my nie ’n werk nie, maar my passie.”

Coetzer vertel weer sy was eers ’n hoërskoolonderwyseres toe sy in 2023 besluit het om haar sangloopbaan af te skop. “Ek was altyd op skool en selfs na skool betrokke by die skole se revues en sangopnames en het elke geleentheid aangegryp om te kan help met sang of choreografie te doen.”

Dit is hul droom om op al die groot verhoë op te tree en wil graag musiek skryf waarmee almal aanklank kan vind.

Wentelbaan se musiek is beskikbaar op alle digitale platfoms, soos Spotify of Youtube, en word selfs op verskeie radiostasies gespeel soos Jakaranda, GrootFm en Bosveld Stereo.

Die Afri Indie Toekennings vereer onafhanklike kunstenaars – hetsy musikante, liedjieskrywers, vervaardigers en videograwe – wat ’n betekenisvolle bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf lewer. Dit is deur Rea le Roux in 2019 vir die eerste keer aangebied, en groei elke jaar van krag tot krag.

Die toekenningsaand vind vanjaar plaas op Dinsdag, 25 Augustus by die AfriForum Teater in Pretoria.

Luister hier na Ons https://music.youtube.com/watch?v=s-6TPhTCkMQ&list=OLAK5uy_kDzEINHnzaNVgU-XgqzTUpOGl0EAxeCUU

Luister na Wentelbane Kruis https://music.youtube.com/watch?v=lhzQZs1UDjw&list=OLAK5uy_kDzEINHnzaNVgU-XgqzTUpOGl0EAxeCUU

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Back to top button