News

SAVF sien groter vraag na dienste

Armoede, werkloosheid, gesinsgeweld en kinderverwaarlosing raak al hoe meer gesinne. Met beperkte hulpbronne doen SAVF ’n beroep op inwoners en ondernemings om deur skenkings en vrywilligerswerk ’n tasbare verskil in die lewens van kwesbare gesinne te maak.

Die vraag na die dienste van die SAVF Pretoria se Maatskaplike Werk-afdeling het die afgelope jaar merkbaar toegeneem namate ekonomiese druk en maatskaplike uitdagings al hoe meer gesinne raak.

Volgens dr. Annelize Naudé, streeksbestuurder van SAVF Pretoria: Gauteng, is die toename hoofsaaklik die gevolg van aanhoudende ekonomiese druk op huishoudings, hoë werkloosheid, stygende lewenskoste en ’n groter bewustheid van die belangrikheid om gevalle van kindermishandeling en kinderverwaarlosing aan te meld.

Die organisasie hanteer daagliks ’n wye verskeidenheid maatskaplike probleme.

“Die grootste uitdagings sluit in armoede, werkloosheid, egskeidings en gebroke verhoudings waar kinders dikwels as pionne in konfliksituasies oor toesig en beheer tussen ouers gebruik word,” sê Naudé.

Sy voeg by dat die organisasie ook toenemende gevalle van gesinsgeweld, dwelmmisbruik, kinderverwaarlosing en emosionele trauma ervaar.

“Hierdie uitdagings plaas geweldige druk op gesinne en verhoog die behoefte aan kinderbeskermingsdienste, berading en ondersteuningsprogramme.”

Die SAVF Pretoria se Maatskaplike Werk-afdeling beskik oor 13 maatskaplike werkers en een maatskaplike hulpwerker. Gesamentlik bied hulle maandeliks ondersteuning aan ongeveer 2 000 tot 3 000 kinders en hul gesinne deur statutêre dienste, berading, voorkomingsprogramme en gemeenskapsintervensies.

By die Moot-kantoor is daar slegs een toegewyde maatskaplike werker.

“Sy alleen moet gemiddeld tussen 40 en meer as 140 individue of gesinne per maand ondersteun, afhangend van die aard en kompleksiteit van die gevalle,” sê Naudé.

Hoewel die organisasie die grootste deel van sy inkomste van die regering ontvang, is dit volgens haar nie voldoende om die organisasie se bedryfskoste te dek nie.

“Finansiële skenkings is daarom van kardinale belang.”

Sy sê die dringendste behoefte is tans finansiële bydraes, nie-bederfbare voedsel, toiletware, komberse, ander noodsaaklike huishoudelike items en veral groot hoeveelhede drukpapier.

“Baie drukpapier is nodig aangesien groot hoeveelhede hofverslae en dokumentasie vir onder meer die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling voorberei moet word.”

Sy sê hierdie fisiese bydraes maak ’n onmiddellike verskil soos ’n skenking van kos en toiletbenodigdhede sowel as komberse onlangs deur Aurinia Ford.

“Hierdie fisise bydraes stel ons in staat om onmiddellike nood te verlig en te verseker dat kwesbare kinders en gesinne in veilige en stabiele omstandighede ondersteun word.”

Volgens haar word skenkings gebruik om noodleniging te verskaf, gesinne tydens krisisse te ondersteun, kinders van noodsaaklike benodigdhede te voorsien en programme vir voorkoming, vroeë intervensie en gesinsondersteuning moontlik te maak.

“Finansiële bydraes help ook om professionele maatskaplike dienste aan kwesbare gemeenskappe te lewer.”

Dr. Annelize Naude, streeksbestuurder van SAVF Pretoria: Gauteng Foto: Elize Parker

Sy het ook ’n voorbeeld gedeel van hoe skenkings ’n gesin gehelp het om weer op hul voete te kom.

“Een voorbeeld is ’n gesin wat ernstige finansiële swaarkry beleef het. Danksy voedselpakkies, skoolbenodigdhede en maatskaplike ondersteuning kon die gesin weer stabiliteit vind.”

Sy sê die ondersteuning het ’n blywende uitwerking gehad.

“Die kinders kon hul skoolbywoning voortsit, terwyl die ouers toegang tot berading en verdere ondersteuning ontvang het om hul omstandighede te verbeter.”

Vrywilligers bly volgens haar ’n onmisbare deel van die organisasie se werk.

“Vrywilligers speel ’n onmisbare rol deur fondsinsamelings, skenkingsprojekte, bewusmakingsveldtogte en spesiale geleenthede te ondersteun.”

Sy wys daarop dat inwoners kan hul tyd, vaardighede of hulpbronne beskikbaar kan stel of gereeld noodsaaklike items skenk. Daar is ook ’n groeiende behoefte aan mense met professionele kundigheid om op bestuursrade te dien.

“Die Wet op Nie-winsgewende Organisasies vereis dat organisasies soos SAVF deur onafhanklike, betroubare en bevoegde vrywilligers bestuur word om goeie strategiese bestuur en finansiële aanspreeklikheid te verseker.”

Die SAVF werk ook nou saam met skole, kerke, besighede en ander gemeenskapsorganisasies.

“Ons werk saam om kinders en gesinne wat ondersteuning benodig te identifiseer, hulpbronne te mobiliseer, bewusmaking te bevorder en gemeenskapsprojekte te koördineer.”

Sy sê daar bestaan steeds wanopvattings oor die organisasie se werk.

“’n Algemene wanopvatting is dat die SAVF kinders bloot uit hul ouerhuise verwyder. In werklikheid is die organisasie se eerste doelwit om kinders, waar dit veilig en in hul beste belang is, binne hul gesinne te ondersteun en te beskerm.”

Sy beklemtoon dat verwydering van kinders slegs in uiterste omstandighede plaasvind.

“Verwydering is altyd ’n laaste uitweg en vind slegs plaas wanneer ’n kind se veiligheid ernstig bedreig word.”

Sy doen ’n beroep op inwoners en ondernemings om by die organisasie se werk betrokke te raak.

“Elke bydrae, groot of klein, maak ’n betekenisvolle verskil. Deur saam te werk kan ons kwesbare kinders beskerm, gesinne versterk en hoop bring waar dit die nodigste is.”

Volgens haar is gemeenskapsbetrokkenheid veel meer as liefdadigheid.

“Gemeenskapsbetrokkenheid is nie bloot liefdadigheid nie; dit is ’n belegging in ’n veiliger, sterker en meer omgee-gemeenskap vir huidige én toekomstige geslagte.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button