Spesiale stemme nog nie oop vir verkiesing nie
Daar word ’n beroep gedoen op bejaardes om seker te maak hulle is geregistreer. Aansoeke vir spesiale stemme maak eers later oop.
Die Vryheidsfront Plus (VF+) het bejaardes aangemoedig om betyds vir die 2026 munisipale verkiesing voor te berei deur seker te maak hul kiesersregistrasie is op datum en dat hulle die proses vir spesiale stemme verstaan sodra aansoeke amptelik open.
Die VF+ se Gautengse leier, Jaco Mulder, het op 23 Julie saam met plaaslike partyverteenwoordigers Eldoraigne Aftree-oord in Centurion besoek om inwoners met die verkiesingsproses by te staan.
Op 27 Julie sal dit net 100 dae wees totdat die verkiesing plaasvind.
Volgens Lenor Janse van Rensburg, stadsraadslid van die VF+, sê die doel was om inwoners en aftreeoordbestuur te help om hul kiesersregistrasie na te gaan en vrae oor stemdistrikte te beantwoord. Hulle het ook leiding gegee oor hoe spesiale stemme en tuisbesoeke deur die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sal werk wanneer die aansoektydperk open.
Janse van Rensburg sê dit is belangrik dat bejaardes hul regte ken en bewus is van die ondersteuning wat beskikbaar is vir kiesers met beperkte mobiliteit of gesondheidsuitdagings.
Sy sê inwoners is tydens die inligtingsessie daarop gewys dat aansoeke vir spesiale stemme nog nie oop is nie en dat die OVK tans geen sulke aansoeke kan aanvaar of verwerk nie.

Volgens die VF+ moet die minister van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake, Velenkosini Hlabisa, eers die verkiesingsdatum amptelik in die Staatskoerant afkondig.
Dié afkondiging sluit die nasionale kieserslys formeel en kan mense nie meer registreer nie.
Die laaste kiesersregistrasienaweek vind plaas op 1 tot 2 Augustus.
Die aankondiging oor spesiale stemme word daarna verwag wanneer die kieserslys gesluit word, bes moontlik in die tweede week in Augustus.
“Eers nadat die kieserslys gesluit is, sal die OVK die amptelike verkiesingsrooster publiseer en die aansoekvenster vir spesiale stemme open,” verduidelik Janse van Rensburg.
Sy sê inwoners is ingelig dat enige poging om voor die amptelike opening van die aansoektydperk vir ’n spesiale stem aansoek te doen, ongeldig sal wees en nie deur die OVK verwerk sal word nie.
Sodra die OVK die aansoektydperk open, sal geregistreerde kiesers wat nie op die hoofverkiesingsdag kan stem nie kan aansoek doen om op 2 November of 3 November tussen 09:00 en 17:00 ’n spesiale stem uit te bring.
Volgens haar is tuisbesoek stemme bedoel vir kiesers wat liggaamlik verswak, gestremd of bedlêend is.
Sy verduidelik indien die aansoek goedgekeur word, sal twee OVK-amptenare die kieser by sy of haar woning of versorgingsinstelling besoek om die stem veilig in ’n dubbelverseëlde koevert af te neem.
Spesiale stemme by stemlokale sal beskikbaar wees vir kiesers wat wel mobiel is, maar op 4 November weens werk of ander redes nie op die hoofverkiesingsdag kan stem nie.
Janse van Rensburg sê sodra die aansoekvenster oop is, sal kiesers op verskeie maniere kan aansoek doen.
Dit sluit die OVK se aanlyn portaal, ’n SMS met ’n 13-syfer-identiteitsnommer vir spesiale stemme by stemlokale of die indiening van ’n voltooide MEC 35-vorm by die plaaslike munisipale verkiesingskantoor in.
’n Familielid, versorger of verteenwoordiger sal die vorm namens ’n pensioenaris kan indien.
Die munisipale verkiesing sal op 4 November tussen 07:00 en 21:00 gehou word.
Janse van Rensburg sê dit is belangrik dat bejaardes vroegtydig oor die verkiesingsproses ingelig word sodat hulle hul demokratiese reg kan uitoefen en betyds van die beskikbare spesiale stemreëlings gebruik kan maak indien hulle daarvoor kwalifiseer.
Die WhatsApp-inligtingsnommer vir die OVK is 0600 88 00 00.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram enTikTok en WhatsApp Channel