Swendelaars buit inwoners wat stad skuld uit, waarsku metro
Inwoners word gemaan om nie iemand te betaal vir hulp met skuldverligting nie. Dit volg nadat bedrieërs vir inwoners via die metro se gratis Skuldverligting-aansporingsprogram begin uitbuit het.

Die Tshwane metro het ’n dringende waarskuwing aan inwoners uitgereik om waaksaam te bly nadat swendelaars die Skuldverligting-aansporingsprogram misbruik het deur onwettige aansoekfooie te hef of te beweer dat hulle hulp teen betaling bied.
Adjunkburgemeester en burgemeesterskomiteelid vir Finansies, Eugene Modise, sê die program wat op 1 Julie in werking getree het, is heeltemal verniet en dat daar geen koste aan verbonde is vir inwoners wat aansoek doen vir terugbetalingsplanne nie.
Metro-woordvoerder Lindela Mashigo sê die stad is bewus van pogings deur bedrieërs om inwoners wat finansiële verligting soek, uit te buit.
“Die Tshwane Skuldverligting-aansporingsprogram is gratis,” sê Mashigo.
Hy voeg by dat aansoeke en navrae slegs deur amptelike metro kliëntedienssentrums en gemagtigde munisipale kanale gedoen moet word.
Mashigo moedig inwoners aan om verdagte aktiwiteite aan te meld en nie-amptelike tussengangers te vermy wat vinniger goedkeurings of gewaarborgde skuldvergoeding beloof.
“Die Tshwane metro sal nie aanspreeklik gehou word vir betalings aan derde partye, ongemagtigde betalingsreëlings of aansoeke wat deur nie-amptelike kanale ingedien word nie.
“Indien iemand jou vra om ’n fooi te betaal om toegang tot die Skuldverligtings-aansporingsprogram te bekom, is dit nie ’n amptelike Tshwane metro-proses nie,” voeg hy by.
Die Skuldverligting-aansporingsprogram is daarop gemik om huishoudings, besighede en kwesbare inwoners met finansiële nood te help om hul munisipale rekeninge te vereffen terwyl die stad se inkomste-insameling verbeter word.
Ingevolge die program kan kwalifiserende residensiële kliënte met langtermynskuld verligting van tot 70% op kwalifiserende historiese munisipale skuld ontvang, mits hulle aan die voorgeskrewe voorwaardes voldoen.
Modise sê besighede mag ook in aanmerking kom vir skuldverligting van tot 70%.
“Die program bied ook rentevrystellings vir sekere kwalifiserende rekeninge, gestruktureerde terugbetalingsplanne, verligting vir boedels en ’n tydelike kwytskelding vir inwoners wat vrywilliglik onwettige of peuter aan elektrisiteitsmeterverbindings verklaar voor die einde van September.
Modise sê die program is ontwerp om betekenisvolle finansiële verligting te bied, terwyl dit verantwoordelike betaling vir munisipale dienste aanmoedig.
Inwoners wat belangstel om aansoek te doen, word aangemoedig om hul naaste metro-kliëntedienssentrum te besoek, waar amptenare hulle gratis sal bystaan.
Die metro herhaal dat die beskerming van inwoners teen swendelary ’n prioriteit bly en moedig inwoners aan om slegs amptelike munisipale kanale te gebruik wanneer hulle hulp met die Skuldverligting-aansporingsprogram benodig.
Inwoners wat oneerlike bedrywighede vermoed of deur individue genader word wat betaling vir skuldverligtings-aansoeke vereis, moet dit dadelik aan die metro aanmeld.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
