Onderwyser word KI-leier, kry benoeming
Melanie Kroukamp van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum is benoem vir die Edu Women in Leadership Awards 2026 vir haar werk om kodering, robotika en kunsmatige intelligensie vir onderwysers meer toeganklik te maak. Sy sê tegnologie is 'n hulpmiddel wat kreatiwiteit, probleemoplossing en selfvertroue in onderwys bevorder.
’n Pretoria-Noord-onderwyser het spontaan ingestem om kodering en robotika aan te bied en is nou ’n nasionaal-erkende leier in onderwys.
Dit het aan Melanie Kroukamp ’n benoeming vir die Edu Women in Leadership Awards 2026 besorg.
Die Edu Women in Leadership Awards 2026 vind op 21 Augustus by die Midrand-konferensiesentrum plaas.
Hierdie gesogte geleentheid vier uitstaande vroulike leiers en opvoeders wat die Suid-Afrikaanse onderwyslandskap transformeer.
Die tema vir 2026 is ‘Leading with Impact: Building Resilient Schools & Communities’.
Dit beklemtoon die kritieke rol van vroue in die skepping van volhoubare en innoverende leeromgewings vir almal.
Die toekennings word oor nege dinamiese kategorieë beslis.
Kroukamp, vakspesialis by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) in Centurion, werk saam met onderwysers en skole regoor Suid-Afrika om kodering, robotika en kunsmatige intelligensie (KI) meer toeganklik, prakties en minder intimiderend te maak.

Sy het die skryf van die sentrum se KI-manifes onderneem.
Haar werk fokus nie net op tegnologie nie, maar op die mense wat dit moet gebruik.
“Wat my inspireer, is nie noodwendig die tegnologie self nie want dit is immers net ’n hulpmiddel, maar die oomblik wanneer mense besef dat hulle tot veel meer in staat is as wat hulle ooit gedink het,” sê sy.
Sy verduidelik dat kodering, robotika en KI oor veel meer as skerms, programme en masjiene gaan.
“Dit gaan oor kreatiwiteit, probleemoplossing, nuuskierigheid en die moed om iets nuuts te probeer.”
Kroukamp sê haar eie ervaring om iets onbekends aan te pak, help haar om met onderwysers te identifiseer wat onseker voel oor nuwe tegnologie.
“Jy hoef nie alles te weet voordat jy begin nie. Jy moet net bereid wees om te leer, te groei en die eerste tree te gee,” sê sy.
Haar werk behels die ondersteuning van onderwysers en skole om nuwe tegnologie met groter selfvertroue in die klaskamer te gebruik.
Volgens haar staan die onderwyser en leerder altyd sentraal.
Kroukamp beskou haar benoeming nie as ’n persoonlike prestasie nie, maar as erkenning vir die mense met wie sy saamwerk.
“Ek dink nie enige mens doen hierdie werk alleen nie. Elke werkswinkel, elke vraag, elke plan wat werk en elke plan wat heeltemal skeefloop, vorm deel van die storie.”
Sy sê die benoeming verteenwoordig die onderwysers, kollegas en skole wat bereid was om saam te eksperimenteer, vrae te vra en nuwe onderrigmoontlikhede te ondersoek.
Volgens Kroukamp sal die onderwys van die toekoms nie deur een persoon, een groep of een geslag gebou word nie, maar deur mense wat bereid is om saam te werk.
“Goeie onderwys en goeie leierskap gaan oor mense wat bereid is om te leer, te groei en ander saam met hulle te neem. Onderwys is nie iets wat ons alleen doen nie. Dit bly ’n spanpoging.”
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
