SKOOR-ondersoek onthul groeiende druk op Padongelukfonds
Die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge (SKOOR) sê die Padongelukfonds help al hoe minder slagoffers ondanks stygende uitgawes. Die Assosiasie vir die Beskerming van Padongelukslagoffers (APRAV) waarsku dat duisende eisers steeds vir vergoeding wag en stel 'n nasionale skikkingsentrum voor om die groeiende agterstand te help verminder terwyl hervormings voortgaan.

Die Padongelukfonds bestee toenemend meer geld, maar help terselfdertyd minder Suid-Afrikaners, terwyl duisende eisers steeds wag vir vergoeding wat volgens die wet aan hulle verskuldig is.
Dit is die boodskap wat die Assosiasie vir die Beskerming van Padongelukslagoffers (APRAV) op 30 Julie tydens ’n inligtingsessie by die Nasionale Persklub in Pretoria uitgelig het.
Die organisasie het die bevindings bespreek wat deur die voorsitter van die Staande Komitee oor Openbare Rekeninge, Songezo Zibi, in ’n onlangse komiteeverslag en vergadering met rolspelers in veral die regsmediese bedryf in Irene uiteengesit is.
Volgens die assosiasie dui die bevindings op ’n instelling wat onder ernstige druk verkeer en wat sukkel om sy wetlike mandaat na te kom. In die verlede het die fonds meer as 400 000 eise per jaar afgehandel.
Vandag word daar na bewering slegs ongeveer 70 000 eise per jaar afgehandel, ondanks die feit dat die gemiddelde koste per afgehandelde eis binne drie tot vier jaar met meer as 70% gestyg het.
APRAV-voorsitter Ngoako Mohlaloga het gesê: “Die stelsel bestee al hoe meer om al hoe minder mense te help. Elkeen van daardie eise wat al jare lank in die laai lê en elkeen van daardie syfers verteenwoordig ’n mens: iemand wat nie kan werk nie en ’n gesin wat nie vir behandeling kan betaal nie.”
Mohlaloga het ook tydens die sessie gewys op die gevolge van ’n eisvorm wat voorheen vereis het dat eisers duur mediese verslae vooraf moes indien.
Volgens hom het dié vereiste moontlik duisende mense uitgesluit wat eenvoudig nie die koste van sulke verslae kon bekostig nie.
Hy het verder gesê Zibi is deur ’n regter genooi om hofverrigtinge waar te neem waar die POF nie opgedaag het nie. Zibi kon toe eerstehands waarneem hoe sake herhaaldelik uitgestel moet word.
Mohlaloga het daarop gewys hoe elke uitstel van ’n hofsaak die koste van litigasie verhoog sonder dat dit enige voordeel vir slagoffers inhou wat op vergoeding wag.
Volgens Mohlaloga het Zibi die uitgestelde hofsaak-situasie beskryf as ’n bose kringloop waarin eise in litigasie vasval, litigasiegeld en kapasiteit opeis en die agterstand steeds groter word terwyl minder eise afgehandel word.
Die ondervoorsitter van APRAV, Pieter de Bruyn, het gesê sommige slagoffers wag reeds tot tien jaar vir vergoeding waarop hulle geregtig is.
De Bruyn het gesê hoewel die howe die vereiste vir die eisvorm later tersyde gestel het, is die benadeling van mense wat destyds weggewys is, nog nie reggestel nie.
Hy meen dat mense wat deur die onwettige eisvorm uitgesluit is, “moet ’n eenvoudige en regverdige geleentheid kry om hul eise weer in die stelsel te plaas sonder verdere administratiewe struikelblokke”.
Nog ’n bron van kommer is, volgens De Bruyn, die sluiting van streeks- en satellietkantore.
Hy het gesê dit het veral mense in landelike en afgeleë gebiede benadeel wat reeds beperkte toegang tot dienste het en nie maklik die koste van reis of regsverteenwoordiging kan bekostig nie.
Volgens De Bruyn het die POF ook aansienlike personeelverliese gely wat sy vermoë om doeltreffend te funksioneer, verder verswak het.
Hy het gesê SKOOR beoog om sy verslag teen die einde van Augustus af te handel en dit teen die einde van September aan die Parlement voor te lê vir oorweging.
“Suid-Afrikaners behoort dan ’n beter aanduiding te hê van die stappe wat die Parlement beplan om te neem,” glo hy.
Benewens die probleme wat geïdentifiseer is, het De Bruyn ook voorstelle bekend gemaak oor hoe onmiddellike verligting aan slagoffers gebied kan word terwyl groter hervormings plaasvind.
Volgens hom behoort Suid-Afrika op drie doelwitte te fokus: om die skade wat reeds aangerig is te herstel, om onmiddellike verligting aan wagtyd-eisers te bied en om die POF vir die lang termyn te hervorm.
Die organisasie se belangrikste voorstel is die instelling van ’n nasionale skikkingsentrum.
Volgens De Bruyn sal só ’n sentrum nie ’n nuwe staatsdepartement wees of bykomende rompslomp skep nie, maar eerder ’n praktiese meganisme wees om eise wat reeds gereed is vir skikking vinniger af te handel.
“Die skikkingsentrum vervang nie die POF of die howe nie. Die POF behou steeds die reg voor om ’n eis wat dit werklik betwis te bestry, en enige werklike geskil gaan steeds hof toe. Dit bring bloot mense wat werklik ’n besluit kan neem in ’n vertrek saam, om te doen wat die POF aanvanklik moes gedoen het,” het De hy gesê.
Die voorgestelde proses behels dat geskikte eise geïdentifiseer word, bestaande regs-, mediese en finansiële dokumentasie waar moontlik saamgevoeg word en dat elke saak deur ’n span ervare eisdeskundiges en POF-verteenwoordigers met besluitnemingsgesag hanteer word. Waar nodig kan regs-, mediese of aktuariële kundigheid ingespan word.
Volgens hom moet eise waaroor ooreenkoms bereik word binne ’n redelike tyd uitbetaal word, terwyl sake waar daar steeds ’n geskil bestaan na die gewone hofproses terugverwys word.
De Bruyn het voorgestel dat die sentrum aanvanklik as ’n loodsprojek begin met eise wat reeds op hofrolle is of naby aan skikking staan.
Hoewel hy meen die voorgestelde skikkingsentrum onmiddellike verligting kan bring sonder wetswysigings, beklemtoon hy dat volhoubare hervorming steeds noodsaaklik is.
“Vir ’n slagoffer is hervorming nie ’n verslag, ’n nuwe komitee of nog ’n belofte nie. Dit is ’n eis wat regverdig beoordeel word, ’n skikking wat bereik word, geld wat uitbetaal word, behandeling wat voortduur, en ’n gesin wat uiteindelik weer kan vorentoe beweeg,” het hy gesê.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
