Drie vas by jag-padblokkade
Tydens ’n groot wetstoepassingsoperasie op die N1 naby Hammanskraal is ses vlakvarke in beslag geneem. Die diere is sonder die vereiste permitte uit ’n Afrika-varkpes-rooilyngebied vervoer.

Ses vlakvarke is in beslag geneem en drie mans is in hegtenis geneem tydens ’n gesamentlike nakomings- en wetstoepassingsoperasie op die N1-snelweg by Wallmannsthal naby Hammanskraal in Pretoria-Noord op 16 Augustus.
Die operasie is deur die Gautengse Departement van Omgewing, onder leiding van Gauteng se LUR vir Omgewing, Ewan Botha, uitgevoer in samewerking met verskeie wetstoepassingsagentskappe.
Die fokus was op die bekamping van die onwettige vervoer van beskermde wild, bedreigde plantspesies en flora en fauna wat Gauteng sonder die nodige permitte binnekom.
Die operasie het verskeie wetstoepassings- en regeringsentiteite betrek. Dit sluit die SAPS Pretoria-Noord-polisiespan en die metropolisie, die Cullinan-eenheid vir Veediefstal en Bedreigde Spesies in.
Verder was die Gautengse Departement van Omgewing se omgewingsbestuursinspekteurs, Gautengse Departement van Landbou en Landelike Ontwikkeling se Veterinêre Dienste en Wetstoepassingseenheid, die Gauteng Natuurbewaring se Hulpbronbeskermingseenheid en die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing ook betrokke.
Die padblokkade is doelbewus tydens die tradisionele Augstusmaand-jagseisoen gehou met die doel om te verseker dat jagters wat wildkarkasse vanuit ander provinsies vervoer, oor die vereiste permitte en ondersteunende dokumentasie beskik.
Die N1 is as ’n strategiese ligging gekies omdat dit ’n belangrike vervoerkorridor tussen Gauteng en ander provinsies is.
Botha sê die operasie was daarop gemik om onwettige wildhandel te ontwrig en nakoming van omgewingswetgewing te bevorder.
Volgens hom bly Gauteng kwesbaar vir wildhandel weens sy posisie as Suid-Afrika se ekonomiese spilpunt, sy uitgebreide vervoernetwerk en toegang tot nasionale en internasionale markte.
“Gesamentlike wetstoepassingsoperasies speel daarom ’n belangrike rol in die bekamping van die onwettige beweging van wild en wildprodukte,” glo Botha.
Altesaam 106 voertuie is tydens die operasie voorgekeer en geïnspekteer.
Van die voertuie het gesamentlik 80 wildkarkasse vervoer waarvoor die eienaars geldige dokumentasie kon toon.
Ses vlakvarke is egter in beslag geneem nadat vasgestel is dat hulle vanuit ’n veeartsenykundige rooilyngebied vir Afrika-varkpes vervoer is sonder die vereiste permitte.
Die diere sal volgens Botha ingevolge biosekuriteitsprotokolle verbrand word om die verspreiding van Afrika-varkpes te voorkom.
Die operasie het ook tot verskeie inhegtenisnemings in verband met vuurwapens gelei.
Een man is in hegtenis geneem nadat hy in besit gevind is van twee ongelisensieerde vuurwapens.
Twee ander mans is in hegtenis geneem weens die nalatige hantering van vuurwapens.
Daarbenewens is ’n erkenning-van-skuld-boete van R4 000 uitgereik vir ’n oortreding van die Gautengse Natuurbewaringsordonnansie.
Die operasie het gefokus op die nakoming van wetgewing wat die besit en vervoer van flora en fauna reguleer, insluitend die Nasionale Omgewingsbestuur: Biodiversiteitswet en die Gautengse Natuurbewaringsordonnansie.
As deel van die bewusmakingspoging het Botha en sy span 166 brosjures van die Omgewingsbestuursinspektoraat aan motoriste en passasiers uitgedeel.
Die doel hiervan was om padgebruikers beter in te lig oor die wetlike vereistes wat van toepassing is op die vervoer van wild en wildprodukte.
Die departement het gesê die meeste motoriste wat wild en wildprodukte vervoer het, het aan die vereistes voldoen en kon die nodige permitte en ondersteunende dokumentasie toon.
Botha het al die deelnemende agentskappe bedank en geprys vir hul professionaliteit en samewerking.
Hy het ook die departement se verbintenis herbevestig om wildmisdaad te bekamp, biodiversiteit te beskerm, biosekuriteitsmaatreëls te versterk en verantwoordelike jagpraktyke te bevorder.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
