News

Landmyn-resensie: Wanneer pyn in gesinne ontplof

Die verhaal is ’n rou en nugtere familiedrama oor die pyn van familiebande wat maar net nie weer wil vasknoop nie. Dit probeer nie eenvoudige antwoorde gee oor versoening nie, maar wys eerder hoe moeilik dit kan wees om jouself te bevry van ’n verlede wat steeds bepaal hoe jy jouself en jou familie verstaan.

Hoe kom mens ooit weg van die invloed van ’n narsistiese ouer? Dit is die sentrale vraag waarmee die film Landmyn die kyker konfronteer.

Die Suid-Afrikaanse familiedrama, wat met sewe toekennings bekroon is, onder meer as beste film by die Silwerskermfees, gebruik ’n familiehereniging om die pyn, bitterheid en diep spanning binne ’n disfunksionele gesin oop te lê.

Die première het op 3 September in Pretoria plaasgevind.

Die verhaal draai om Colette, wat ’n naweek probeer reël waartydens almal net vir ’n slag weer bymekaar kan wees. Die bedoeling is eenvoudig: om iets van die warmte van kleintyd terug te vind en die gesin vir ’n oomblik te laat funksioneer soos dit dalk eens kon.

Hulle speel speletjies, doen selfs ’n rondte mini-gholf en probeer om gewone gesinstyd te geniet.

Maar die film is nie ’n verhaal oor ’n gesin wat bloot net weer moet leer om saam te kuier nie.

Matthew Potter, Riku Immelman, Paul Strydom en Xander Venter Foto: Elize Parker

Onder die alledaagse bedrywighede lê jare se manipulasie, onverwerkte konflik en herinneringe wat nie meer op dieselfde manier deur elke familielid onthou word nie.

Die vraag kom daarom al hoe meer na vore: Hoe kom mens ooit weg van die invloed van ’n manipulerende ouer wat met jou kop probeer smokkel oor hoe jy dinge van jou kleintyd sien en ook indirek vir jou lieg?

Regisseur Nico Scheepers hou ’n ferm hand op die verhaallyn. Hy vermy maklike uitbarstings en laat die spanning eerder stadig opbou totdat die emosionele ineenstorting van die hoofkarakter en die gevolge daarvan nie langer vermy kan word nie.

Die film se krag lê juis daarin dat die grootste ontploffings dikwels nie in harde woorde nie, maar in stiltes en ongemaklike oomblikke plaasvind.

Nico Scheepers, Anna-Mart van der Merwe en Chanél Muller.Foto: Elize Parker

Die verhaallyn word geleidelik deur die karakters ontluister. Soos die tydjie se saamwees vorder, word die sluiers teruggevou en verander dit wat aanvanklik na ’n gewone familiekuier lyk, in ’n ontleding van alles wat oor jare heen verswyg is.

Selfs die karakter wat deur Nicole Holm vertolk word, die tannie wat aanvanklik aan die kinders se kant skyn te wees, verander namate die werklikheid van die familie se verhoudings duideliker word.

Anna-Mart van der Merwe lewer op bo-60-jarige ouderdom ’n besonder sterk vertolking as die homofobiese en rassistiese ma. Haar spel is nie daarop gemik om die karakter groter as die verhaal te maak nie. Inteendeel, sy gebruik klein bewegings en gesigsuitdrukkings om die karakter se behoefte aan beheer sigbaar te maak.

Francois Smit, Zandré Coetzer en Leoni Smit Foto: Elize Parker

Dit word meesterlik beklemtoon in die laaste toneel, wanneer die kamera ’n ruk lank op Van der Merwe se gesig fokus. Die verandering word byna uitsluitlik deur haar gesig gedra: ’n wenkbrou wat lig, ’n mond wat effens trek en ’n oomblik waarin sy weer beheer oor haarself probeer kry. Dit is ’n fyn vertolking deur een van ons voorste akteurs wat steeds met haar fyn gelaatstrekke, beeldskoon is.

Carla Smith, bekend vir haar spel in Troukoors en Kelders van Geheime, vertolk die dogter wat van oorsee vir die kuiertjie terugkom. Sy wil bloot ’n oomblik van geluk vind en probeer as ’n perfeksionis die prentjie van haar kleintyd vir almal herstel. Haar pogings word egter toenemend deur die werklikheid van die gesin se verhoudings ondermyn. Smith speel die emosionele ontnugtering wat sy ervaar, met ’n onderdrukte intensiteit wat goed by die film se neerslagtige toon pas.

Die rolverdeling werk as ’n geheel. Die narratiewe gewig word oor ’n groep karakters versprei eerder as om alles op een of twee vooraanstaande akteurs te laat rus. Elke familielid dra iets by tot die ontvouende verhaal, en juis hierdie gesamentlike benadering maak die spanning geloofwaardig.

Verskeie terugkerende beelde dra hierdie betekenis verder. ’n Bos rose in die kombuis val mettertyd oop en verlep. Die see bly voortdurend beweeg terwyl die gesin se verhoudings al hoe meer verstil. Maaltye, wat normaalweg ’n simbool van geselligheid behoort te wees, ontrafel vinnig wanneer ou herinneringe na vore kom. Selfs ’n blikkie kondensmelk met twee gaatjies in kry ’n simboliese betekenis binne die groter verhaal.

Sanger en bewusmaker, Thandi Stoltz Foto: Elize Parker

Die musiek van Richard Onraet dra verder tot die film se spanning by. Die oorspronklike musiek en klankbaan ondersteun die swaar emosionele atmosfeer sonder om in die tonele voortdurend voor te skryf hoe die kyker behoort te voel. Die knap klankontwerp en finale klankmengsel is deur Origin Audio behartig.

Die twee filmvervaardigers met Pretoria-wortels, Zandre Coetzer en Chanél Muller, sorg deurgaans dat die film getrou aan die verhaallyn bly. Met Scheepers se beheersde regie word Landmyn ’n gelaaide familiedrama waarin die grootste spanning nie uit ’n enkele ontploffing kom nie, maar uit alles wat jare lank onder die oppervlak bly lê het.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button