Nuwe alliansie help met beskerming van aasvoëls
Die stryd om hierdie bedreigde voëls te beskerm duur voort. ’n Nuwe streekalliansie bring organisasies, boere en gemeenskappe saam om veilige landskappe te skep en die vinnige afname in aasvoëlgetalle te probeer stuit.
Internasionale Aasvoëldag (5 September) is pas verby, maar die boodskap van dié dag word vanjaar met groter dringendheid beklemtoon: Aasvoëls in Suider-Afrika verkeer onder ernstige druk, met bevolkings wat volgens bewaringsorganisasies oor die afgelope vyf dekades tussen 80% en 97% afgeneem het.
Die bekendstelling van die Aasvoël Veiligheidsone-alliansie en nuwe riglyne vir veilige gebiede vir aasvoëls plaas die fokus nou op ’n gekoördineerde streekspoging om dié voëls beter te beskerm.
Bewaringsorganisasies uit ses Suider-Afrikaanse lande het die alliansie op 7 September bekendgestel.
Die doel is om bestaande pogings aan mekaar te verbind en om veilige gebiede vir aasvoëls ook op landbougrond, privaat eiendom, gemeenskaplike grond, bewaringsterreine en ander bestuurde landskappe uit te brei.
Aasvoëls vervul ’n belangrike rol in die ekosisteem omdat hulle karkasse opruim en sodoende help om die verspreiding van siektes te beperk.
Tog word hulle toenemend deur menslike aktiwiteite bedreig. Vergiftiging, verlies aan habitat, botsings met infrastruktuur en doodskok aan kraglyne is van die belangrikste gevare.
Ses van Afrika se 11 aasvoëlspesies word tans as bedreig of kritiek bedreig op die Internasionale Unie vir Natuurbewaring se Rooilys geklassifiseer.

In Suid-Afrika kom nege aasvoëlspesies voor, waarvan sewe tans met uitwissing bedreig word.
Onder hulle is die baard- en kransaasvoël, wat op kranse nesmaak, asook die kap-, witkop-, witkruis- en witaasvoël, wat onder meer in bome nesmaak. Die witkop-, kap- en witkruisaasvoël word as kritiek bedreig beskou.
Die nuwe alliansie bestaan uit nege bewaringsorganisasies, waaronder BirdLife International en sy vennote in Botswana, Suid-Afrika, Zambië, Zimbabwe, Tanzanië en Malawi, asook Roofvoëls Botswana en die Bedreigde Wildlewe Trust.
Volgens Eleanor Momberg, woordvoerder van die Bedreige Wildlewe Trust, wil die organisasies kennis deel, samewerking verbeter en ’n meer eenvormige benadering tot die vestiging en bestuur van veilige gebiede ontwikkel.
“Dit is veral belangrik omdat aasvoëls nie binne mensgemaakte grense bly nie. Hulle kan honderde kilometer aflê op soek na kos en beweeg gereeld tussen lande,” wys Momberg uit.

Volgens Danielle du Toit, veldbeampte vir roofvoëls by die Trust, is veilige gebiede ’n belangrike aanvulling tot bestaande bewaringswerk.
“Die alliansie het ten doel om die lewensvatbaarheid van aasvoëlveilige gebiede te versterk, Dit is ’n deurslaggewende maar dikwels oorgesiene hulpmiddel wat ander bewaringspogings aanvul en ondersteun,” sê sy.
Du Toit glo dat bewaringspogings ook oor landsgrense heen moet strek.
“Sulke sones bied dus ’n praktiese manier vir bewaringsorganisasies om met grondgebruikers oor hierdie landskappe heen saam te werk om bedreigings te verminder en veiliger ruimtes vir aasvoëls te skep,” benadruk Du Toit.
As bewaringskundige is sy al vir ’n geruime tyd doelgerig toegewy om die sones uit te brei en veiliger te maak en is ’n stel riglyne daarvoor ontwikkel. Die riglyne moet belanghebbendes help om bedreigings te identifiseer, veilige gebiede te vestig en die sukses daarvan oor tyd te monitor.
Die benadering is reeds op groot skaal in Suid-Afrika en omliggende streke toegepas.
Meer as twee miljoen hektaar in Suider-Afrika vorm tans deel van sulke sones.
Een voorbeeld is die Karoosone naby Beaufort-Wes en Cradock wat sowat 23 000 vierkante kilometer beslaan. Daar het 95 private boere reeds meer as 700 000 hektaar vir die beskerming van aasvoëls se rus- en voedingsgebiede beskikbaar gestel.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook,Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
