Verpleegkundige wil demensie meer verstaanbaar maak
Wêreld Demensiedag op 21 September vestig die aandag op ’n toestand wat ’n hele gesin se lewe kan verander. Vir die Centurion-verpleegkundige, Annamarie Kruger, is demensie ’n onderwerp wat oor dekades heen deel van haar werk én haar eie gesinslewe geword het.
Vir ’n verpleegkundige met dekades se beroepservaring het demensie lank voordat sy haar boek daaroor geskryf het, deel van haar daaglikse lewe geword.
Annamarie Kruger het oor die jare in verskeie ouetehuise gewerk en eerstehands met mense met demensie en Alzheimer se siekte te doen gekry.
Sy het aan die Wesrand grootgeword en ook in Potchefstroom en George gewerk. Sy woon al 27 jaar in Pretoria en is tans van Centurion afkomstig.
Haar belangstelling in demensie het egter ’n besondere betekenis gekry toe haar ma ná ’n beroerte begin verander het.
“Sy was agterdogtig en het ’n persoonlikheidsverandering ondergaan ná die beroerte,” vertel Kruger.
Haar ma is met vaskulêre demensie gediagnoseer. Kruger het begin om haar gedrag fyner dop te hou en het besef dat sy self nog baie oor die toestand moes leer.
In 2005 het sy vergaderings begin bywoon wat deur kenners aangebied is, onder meer deur die destydse Gerontologiese Vereniging. Só het sy haar kennis oor demensie uitgebrei terwyl sy terselfdertyd die veranderinge by haar eie ma probeer verstaan het.
Volgens Kruger is een van die grootste misverstande dat alle mense met demensie dieselfde simptome ervaar.
“Jy kan nie alle lyers oor dieselfde kam skeer nie,” sê sy.
Demensie is volgens haar ’n versamelnaam vir verskillende siektes en toestande wat die brein aantas. Die oorsake en gevolge daarvan kan van persoon tot persoon verskil.
Haar eie ma het mettertyd familielede se name vergeet. Sy het uiteindelik 96 jaar oud geword en het volgens Kruger 21 jaar lank met Alzheimer se siekte geleef.
In haar latere jare het sy in ’n aftreeoord gewoon. Kruger was self aan die instelling verbonde en kon haar ma gereeld sien.
Daar was tye wat haar ma haar en haar susters almal op haar oudste suster se naam genoem het. Soms het sy na Kruger se kantoor gekom, haar gegroet en nie geweet dat sy haar dogter was nie.
Kruger het geleer om nie haar ma se verwarring persoonlik op te neem nie. Sy het eerder probeer om binne haar ma se werklikheid met haar te kommunikeer.
Een van die klein dinge wat haar ma gelukkig gemaak het, was iets lekkers in elke hand. “Soos ’n malvalekker!”

Daar was egter ook moeiliker oomblikke.
Sy waarsku familielede ook om nie kwaad te word wanneer iemand met demensie hulle van diefstal beskuldig nie.
“Agterdog kan deel wees van die veranderinge wat met die toestand gepaardgaan.”
Vir Kruger is kennis daarom een van die belangrikste wapens teen onbegrip oor die siekte.
Sy meen families moet reeds vroeg, wanneer die eerste tekens van demensie sigbaar word, ook aandag gee aan praktiese sake soos rekeninge, identiteitsdokumente en volmagte.
Dit kan later baie probleme voorkom wanneer ’n persoon nie meer self oor geldsake of ander belangrike aangeleenthede kan besluit nie.
Sy voel ook dat kommunikasie nog ’n gebied is waar families dikwels moet aanpas.
Kruger sê mense met demensie moet nie voortdurend gekorrigeer word nie. As iemand byvoorbeeld sê dat dit koud is, kan die gesprek eerder oor die weer voortgaan as om daarop te wys dat die persoon verkeerd is.
“Bly in die teenwoordige,” is haar raad.
Sy sê gesprekke behoort rustig gevoer te word. Mense moet stadig praat, kort sinne gebruik en vrae herhaal indien nodig.
Volgens haar kan ingewikkelde vrae iemand met demensie maklik verwar. Vrae soos waarom, wie, wanneer en waar kan eerder vervang word met eenvoudiger vrae, soos hoe die persoon vandag voel.
“Jy moet elke lyer as afsonderlik en individueel sien,” sê sy.
Kruger se nuwe Afrikaanse boek, Demensie. Die wie, wat, waarom, wanneer en hoe?, spruit uit hierdie jare lange ervaring en sy wil juis bewuswording hiermee oor die siekte skep. Die boek kan verkry word by askdementia@gmail.com; Annamarie Kruger is beskikbaar op akvanwyk5@gmail.com vir praatjies oor demensie.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel
