Erfenisdag: DA eis vaste openingsdatum vir monument
Die Lewende-erfenismonument vir Vroue in Pretoria het uiteindelik sy okkupasie-sertifikaat ontvang ná jare se vertragings en veiligheidsprobleme. Die monument, wat meer as R200-miljoen gekos het, kan nou uiteindelik sy deure vir die publiek oopmaak. Maar die DA, met Leanne De Jager aan die woord, dring egter aan op ’n vaste openingsdatum.
Die DA het ’n vaste openingsdatum geëis vir die Vroue Lewende-erfenismonument in Pretoria nadat die metro uiteindelik ’n sertifikaat uitgereik het wat bevestig dat die monument veilig is om deur die Gauteng regeringsdepartment verantwoordelik vir erfenisbewaring, betrek te word.
Leanne de Jager, DA-Lid van die Provinsiale Wetgewer en DA-woordvoerder oor sport, kuns, kultuur en ontspanning, het die uitreiking van die sertifikaat verwelkom.
“Die verkryging van die sertifikaat is ’n belangrike stap vorentoe, maar dit moet nou gevolg word deur ’n onmiddellike opening van die monument,” het De Jager gesê.
Volgens haar moet Lebogang Maile, Gauteng se LUR vir Sport, Kuns, Kultuur en Ontspanning, dringend ’n vaste openingsdatum bekendmaak.
Sy het ook vereis dat die provinsiale regering moet bevestig dat voldoende personeel, sekuriteit en instandhouding beskikbaar is en dat enige oorblywende herstelwerk afgehandel word.

Beskrywing: Blonde vrou
Die monument, wat meer as R200-miljoen aan belastingbetalers gekos het, is sedert 2018 nie vir die publiek toeganklik nie. Die projek is oor die jare deur probleme met konstruksie, bouregulasies en brandveiligheidsnakoming vertraag.
“Gautengse inwoners het nou die versekering nodig dat die deure uiteindelik sal oopgaan,” het sy gesê.
Die Vroue Lewende-erfenismonument is op die Lillian Ngoyi-plein in sentraal-Pretoria geleë. Dit is in 2016 amptelik onthul en herdenk die rol van Suid-Afrikaanse vroue in die stryd teen apartheid en die land se bevrydingsgeskiedenis.
Die monument sluit onder meer standbeelde van vier prominente leiers van die 1956-vroue-optog in: Lillian Ngoyi, Helen Joseph, Rahima Moosa en Sophia Williams-De Bruyn.
Die optog het op 9 Augustus 1956 plaasgevind toe ongeveer 20 000 vroue na die Uniegeboue gemarsjeer het om vir hul regte standpunt in te neem.
Het jy dalk meer inligting rakende dié storie?
Stuur gerus vir ons ‘n epos na bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.
Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord
Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel