News

Sakelui verenig om Steve Biko-korridor van verval te red

Die stigting van die Steve Biko Opgraderingsprojek is ’n teken dat plaaslike sakelui nie langer bereid is om die verval van die gebied passief te aanvaar nie. Die eerste opruimingswerk aan ‘n vervalle gebou het reeds begin, maar die groter uitdaging sal wees om genoeg ondersteuning en geld te kry om die beoogde verbeterings te

Die verval van Steve Bikoweg in Pretoria het sakelui, eiendomseienaars en gemeenskapsorganisasies genoop om nou self die inisiatief te neem om met ’n projek vorendag te kom om die buurt op te knap, veiliger te maak en te verfraai.

Die stigting van die Steve Biko-opgraderingsprojek is ’n poging om ’n gebied waar eiendomswaardes reeds met 10% gedaal het, van verdere agteruitgang te red.

Die nuwe organisasie, onder leiding van sakeman George Souranis, is tydens ’n stigtingsvergadering by Cater Warehouse bekendgestel.

Met die ondersteuning van Ronel de Wet, koördineerder van Die Moot-projek en ander bestuurslede, wil die groep besighede en huurders van sake-eiendomme rondom die pad mobiliseer om die opgradering van vervalle eiendomme, openbare ruimtes soos die metro se parke en veiligheid aan te pak.

Souranis sê die projek se aandag sal as eerste prioriteit op die vervalle motorhaweterrein aan die bokant van die Steve Biko-pad naby aan die hospitaal toegespits word. Opruimwerk aan die onooglikheid en veiligheidrisiko het reeds deur Die Moot-projek se twee werkers begin.

Een van die erwe wat die komitee van die Steve Biko-opgraderingprojek mee wil wegspring om die straat ‘n beter voorkoms te gee. Foto: Elze Parker

Die ander terreine wat dringend aandag moet kry, is ’n erf oorkant Gezina Galleries waar die onkruid reeds kniehoogte groei, en wat in ’n onwettige stortingsterrein ontaard het.

Daarna wil die groep ander projekte aanpak soos die terrein laer af in die straat waarvan die sinkplaatheining platgeval is en die erf met onkruid oorgroei is.

Fondswerwing vir die organisasie sonder winsbejag wat vir die projek in die lewe geroep sal word, sal ’n belangrike deel van die plan wees. Die organisasie is daarop ingestel om private ondernemings te nader en hulpbronne saam te voeg om die gebied se uitdagings op te los.

“Ons is apolities en wil besigheidsleiers en verhuurders ’n platform gee om saam te kom en saam planne te maak,” sê Souranis.

Volgens hom is die daling in eiendomswaardes ’n waarskuwing dat dringende optrede nodig is. Hy sê die projek wil nie wag totdat die gebied se ekonomiese waarde verder afneem voordat daar opgetree word nie.

Veiligheid is een van die projek se belangrikste prioriteite. Die sekuriteitsfirma Pro Shield het reeds aangebied om ondersteuning te verleen.

‘n Vervalle motorhawe in Steve Biko-weg is een van die komitee se wegspringprojekte om die area op te knap. Foto: Elize Parker

Die beoogde veiligheidstelsel sal nommerplaatidentifikasie insluit, met kameras by die belangrikste ingange tot die gebied.

Die projek het ook reeds met stadsraadslede hande gevat. Volgens Souranis sal hulle ondersteuning bied wanneer die groep die metro se hulp benodig. Die samewerking moet dit makliker maak om praktiese probleme, soos die verwydering van rommel en die herstel van openbare ruimtes, aan te pak.

De Wet sê Die Moot-projek sal help om die nuwe inisiatief aan die gemeenskap bekend te stel. Tydens die eerste vertoning van die film oor die Moot eersdaags sal die organisasie se stalletjie as ’n inligtingspunt dien waar inwoners meer oor die Steve Biko-opgraderingsprojek en die beoogde verbeterings kan leer.

“Dit is belangrik dat die gemeenskap bewus is van wat hier gebeur en verstaan dat almal ’n rol kan speel,” sê De Wet.

Die voorkoms van die gebied is ’n groeiende bron van kommer vir plaaslike ondernemings.

Wayne van Staden, takbestuurder van Tyremart, sê die verval kan voornemende klante ontmoedig om van besighede in die omgewing gebruik te maak.

Hy sê die afname in eiendomspryse is veral kommerwekkend, aangesien dit die gebied se aantrekkingskrag as ’n sakebestemming kan benadeel.

“Ek voel net as ons sakelui kan saamstaan, kan ons meer lewer,” sê Van Staden.

Marchell le Roux, ’n eiendomsagent wat in gebiede naby die korridor werk, verwelkom die inisiatief. Hy sê besighede kan nie alleen die probleme in die gebied oplos nie en dat dit onrealisties is om te verwag dat die metro al die werk sal doen.

Hy glo egter dat samewerking tussen die privaat sektor en die metro noodsaaklik is om ’n volhoubare verskil te maak.

Hennie Venter van Crystal Paints sê hy het nie gehuiwer toe hy genader is om by die projek betrokke te raak nie. Volgens hom gaan dit oor die belange van besighede in die gebied en die behoefte om daadwerklike oplossings te vind.

Hy glo dit sal waardevol wees om saam met Die Moot-projek aan die afskopprojekte te werk en uit die organisasie se ervaring te leer.

Die stigtingskomitee het reeds sy eerste vergadering gehou, met sewe bestuurslede wat teenwoordig was.

Die groep se planne strek verder as die herstel van kommersiële eiendomme. Die groep wil ook openbare parke verbeter, waaronder die park naby die Steve Biko-hospitaal. Die doel is om dié ruimte weer veilig en bruikbaar te maak vir inwoners van die woonstelle in die omgewing.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button