News

Braairekord op Loftus in Pretorianers se visier

Die wêreld se Grootste Braai-probeerslag keer op Erfenisdag terug na Loftus Versfeld. Met ’n beoogde 3 000 deelnemers, 500 braaiplekke en ’n sterbelaaide musiekfees wil die organiseerders Suid-Afrika se braai-geesdrif in ’n amptelike wêreldrekord omskep.

Pretoria se braaivure gaan op 24 September hoog brand wanneer die Wêreld se Grootste Braai by Loftus Versfeld aangebied word: ’n tweede poging om die Guinness-wêreldrekord vir die meeste mense wat gelyktydig braai, te behaal.

Die poging begin om 10:00, waarna die stadion in ’n volwaardige Erfenisdagfees met kos, musiek en vermaak omskep word.

Dit is ’n tweede kans om geskiedenis te maak nadat Suid-Afrika se poging in 2025 nie amptelik gesertifiseer is nie.

Volgens die organiseerders is 2 412 mense tydens verlede jaar se poging in die braai-area getel, meer as die huidige rekord van 2 220. Die poging het egter nie aan al die Guinness World Records-vereistes voldoen nie.

Een van die bepalings was dat deelnemers gedurende die amptelike braaityd by hul aangewese braaistasies moes bly. Deelnemers het ongelukkig in 2025 dit nie gedoen nie.

Vanjaar word dié vereiste strenger toegepas, met deelnemers wat nie tydens die rekordpoging tussen stasies mag rondbeweeg, vriende besoek of hul plek verlaat om foto’s te neem nie.

Hierdie was die rede waarom die Loftus-poging in 2025 is nie amptelik gesertifiseer is nie.

Vanjaar se poging is daarop gerig om die tegniese vereistes beter na te kom. Deelnemers moet gedurende die amptelike poging by hul braaiplekke bly.

Die huidige rekord vir die meeste mense wat gelyktydig braai, staan op 2 220 deelnemers. Dit is op 18 November 2023 deur Ishigaki City op die eiland Ishigaki in die Okinawa-area van Japan opgestel. Die deelnemers het almal Ishigaki-beesvleisstokkies gebraai, met die stad se kenmerkende beesvleis as fokus van die poging.

Suid-Afrika het wel voorheen ’n verwante Guinness-rekord opgestel, maar in ’n ander formaat. Die bierhandelsmerk Castle Lager het in 2013 die rekord opgestel vir die meeste mense wat gelyktydig op verskeie plekke kos gaarmaak. Altesaam 2 311 deelnemers het in verskillende stede aan die poging deelgeneem.

Budweiser, ’n bier-handelsmerk van Anheuser-Busch, het die rekord vir ’n enkele terrein opgestel toe 564 mense gelyktydig in St. Louis, Missouri, gebraai het.

Ná die amptelike poging gaan die fees voort met optredes deur Mafikizolo, Shekhinah, Matthew Mole, Lady Zamar, Zaan Sonnekus en Ben Rodrigues. Besoekers kan ook kosstalletjies, handelsmerkaktiwiteite, kroeë en gesinsvriendelike ontspanningsareas verwag.

Mole het drie wenke vir ’n suksesvolle braai.

“Ek het altyd met brikette gebraai en dit het gewerk, maar my braailewe het verander toe ek met hout begin braai het. Nou kry ek daai lekker verkoolde geur, kan ek die temperatuur ’n bietjie beter voorspel en smaak dit sommer net beter, glo my!”

Sy tweede wenk gaan oor die regte toerusting: “Jy kan enige braaitang gebruik of selfs soms jou hande, maar my stewige, lang tange help my om te keer dat rook in my oë kom en my vingers brand. En daar is ’n botteloopmaker aan die ander kant.”

En dan is daar die geselskap: “Waarskynlik die belangrikste wenk: die mense saam met wie jy braai, bepaal hoe lekker die gees is. Terloops, maak seker daar is ten minste een Afrikaanse persoon daar, want hulle sal altyd die beste metodes weet.”

Die vraag of Pretoria die nuwe braaihoofstad van Suid-Afrika is, sal op Erfenisdag verder op die proef gestel word. Met duisende mense, honderde braaiplekke en ’n nasionale poging om ’n wêreldrekord te verower, is Loftus Versfeld die middelpunt van die land se braaivieringe.

Kaartjies sluit braaitoerusting en voorrade, asook toegang tot die musiekfees, in. Deelnemers ontvang ’n porsie wors, ’n broodrolletjie of pap, ’n voorskoot en ’n stel tange. Die amptelike braai is vir mense van 13 jaar en ouer; die kroegarea is slegs vir volwassenes.

Die hekke open om 09:00, met die rekordpoging om 10:00. Die fees duur tot 20:00.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? 

Stuur gerus vir ons ‘n epos na  bennittb@rekord.co.za of skakel ons by 083-625-4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerf: Rekord

Besoek ook ons Facebook, Twitter en Instagram en TikTok en WhatsApp Channel 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Rekord in Google News and Top Stories.

Elize Parker

Elize Parker is a senior journalist with more than 25 years of experience covering especially environmental, municipal and profile articles. She writes investigative reports, profiles, social articles and consumer related articles and also does photographs and multimedia to go with these. Previously she worked as a news editor for a radio station, news reader, a magazine journalist with women’s magazines and as a column writer.
Back to top button